God het, in die Ou Testament, die Wet vir die Israeliete gegee en verwag dat hulle daarvolgens leef.
Een van opdragte van die Wet, wat ons lees in Levitikus 19:18, het gesê: “Jy mag nie haatdraend wees en ‘n wrok koester teen die kinders van jou volk nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.”
In die Nuwe Testament sien ons hoe een van die Fariseers vir Jesus kom vra wat die grootste gebod is. Jesus antwoord dat jy God met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand moet liefhê. Dis die grootste gebod. Dan voeg Hy by: “En die tweede wat hieraan gelykstaan, is, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.'”
Hoewel ons nie meer onder die Wet is nie, maar onder God se genade, moet ons steeds lief wees vir ander mense. Dit is steeds een van God se opdragte.
As ons ander moet liefhê soos ons onsself liefhet, dan beteken dit tog dat ons in die eerste plek vir onsself moet lief wees.
Om jouself lief te hê is nie iets wat sleg of selfsugtig is nie. Dit beteken eintlik maar net dat ‘n mens na jouself omsien.
Maar voor ons gesels oor hoe ons dit kan doen, net eers die volgende.
Jy dink dalk nie baie daaraan nie, maar jy bestaan uit drie dele.
Jy is ‘n gees, jy het ‘n siel en jy woon in ‘n liggaam.
Om jouself lief te hê, beteken dan ook dat jy na al drie hierdie dele moet omsien.
SORG VIR JOU GEES.
Om tyd met God in Sy Woord en in gebed te spandeer, is een van die beste dinge wat jy kan doen om vir jouself lief te wees.
Dis een manier om na jou gees, die ware jy, om te sien.
En dit hoef jou nie eers baie tyd te vat nie. Selfs net 15 minute ‘n dag is al genoeg.
As jy nog nooit die gewoonte aangeleer het om tyd met God te spandeer nie, dan gaan die artikel, ‘n Plan Vir Jou Stiltetyd, jou baie help.
Hoe Om ‘n Bybelleesroetine Te Begin is nog ‘n artikel wat kan help.
SORG VIR JOU LIGGAAM.
God het vir elkeen van ons ‘n fisies liggaam gegee. Na ons wedergeboorte het Hy deur die Heilige Gees in ons kom woon. Die Bybel sê ons is nou Sy tempel.
Hy wil dan ook hê ons moet vir hierdie tempel sorg, want Hy het dit net vir ons geleen.
Jy kan na jou liggaam omsien deur gesond te eet en genoeg water te drink.
Oefening is nog iets wat jy kan doen om vir jou liggaam te sorg en vir jouself lief te wees.
En dan is rus en genoeg slaap natuurlik ook ‘n manier om na jouself om te sien.
Wanneer jy hierdie dinge doen, maak jy seker jou liggaam is sterk en gesond sodat jy in staat gaan wees om God se plan vir jou lewe uit te leef.
SORG VIR JOU SIEL.
Dan moet jy natuurlik ook na jou siel omsien. Jou siel is jou gedagtes, jou wil en jou emosies.
Een manier om na jou siel om te sien, is om te dink waaroor jy dink.
Die duiwel is gedurig besig om ‘n mens in jou gedagtes aan te val. Daarom is dit belangrik om die wapens wat God ons gegee het, te gebruik om sy aanvalle af te weer.
As jy hulp nodig het om te leer hoe om dit te doen, dan is die artikel, Hoe Om Die Geveg In Jou Gedagtes Te Wen, die een wat jy moet gaan lees.
Nog ‘n manier om na jou siel om te sien, is om dinge te doen wat vir jou lekker is.
Daardie stokperdjie wat jy lanklaas beoefen het? Doen dit weer vir ‘n ruk lank en kyk hoe jy voel.
Dan is tyd saam met jou geliefdes ook ‘n goeie manier om vir jouself lief te wees. En die beste van alles is, dat jy dan nie net liefde teenoor jouself bewys nie, maar ook teenoor diegene met wie jy tyd spandeer.
Iemand het gesê kinders spel die woord liefde T…Y…D. Wanneer ‘n mens tyd met jou kinders of kleinkinders spandeer, gee dit hulle die geleentheid om jou liefde te ontvang en ook weer vir jou lief te wees.
WEES LIEF VIR JOUSELF.
Hierdie is maar net ‘n paar maniere om vir jouself lief te wees. Daar is sommer nog baie ander dinge wat jy ook kan doen.
Maar wat jy ookal doen om vir jouself lief te wees, onthou dat dit vir jou ‘n voorbeeld moet wees van hoe jy ander moet liefhê.
Jesus het gesê ons moet aan ander doen wat ons wil hê hulle aan ons moet doen.
As jy dus vir jouself lief is en na jouself op seker maniere omsien, dink bietjie oor hoe jy daardie selfde maniere kan gebruik om na ander om te sien en vir hulle lief te wees.