Om ‘n dankbaarheidsjoernaal te hou is een van die beste maniere waarop jy die gewoonte kan aanleer om dinge raak te sien waarvoor jy dankaar kan wees.
Volgens ‘n artikel op die Internet verskyn die woord gratitude (chariti en die variasies daarvan in Grieks) ‘n hele 157 keer in die Bybel. Ek het nie self getel hoeveel keer die woord dankbaarheid of ‘n variasie daarop in die Afrikaanse Bybel staan nie, maar ek weet dit is baie!
God sê oor en oor vir ons dat ons dankbaar moet wees. Hy sê ook meer as een keer dat ons dankie moet sê vir die dinge waarvoor ons dankbaar is.
Hoekom?
Kom ons kyk na vyf redes.
WAAROM MOET ONS DANKBAAR WEES?
DIT IS ‘N OPDRAG.
Om dankbaar te wees is ‘n opdrag van God. Dit is Sy wil vir ons. Ons lees onder andere daarvan in 1 Thessalonisense 5:18.
Daar staan: “… wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus.”
Ons lees ook in Efesiërs 5:20 dat ons God die Vader altyd oor alles in die Naam van Jesus moet dank.
Om dankbaar te wees en dankie te sê is dus God se wil vir ons, en daarom ‘n opdrag van Hom.
DANKBAARHEID VERHEERLIK GOD.
Wanneer ons dankbaar is, verheerlik ons vir God. Ons fokus nie meer op dit wat ons gekry het nie, maar op die Een wat dit vir ons gegee het.
In 2 Korinthiërs 4:15 staan: “Want dit gebeur alles ter wille van julle, sodat die genade, wat steeds meer mense insluit, die dankbaarheid oorvloedig kan maak tot eer van God.”
Dankbaarheid help ons besef dat alle goeie gawes van God af kom.
DANKBAARHEID BRING ONS NADER AAN GOD.
Onthou jy die genesing van die tien melaatse mans?
Hulle het na Jesus toe gekom en gevra dat Hy hulle genees. Toe Jesus hulle sien, antwoord Hy: “Gaan wys julleself vir die priesters” (Lukas 17:14). Op pad soontoe is hulle genees.
Jy kan jou indink hoe bly die tien mans was toe hulle agterkom hulle is gesond. Tien was bly, maar net een was dankbaar, want hy kom terug om vir Jesus dankie te sê.
Toe sê Jesus: “Is daar dan nie tien gereinig nie? Waar is die ander nege? Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te loof, behalwe hierdie vreemdeling nie?” (vs.17-18).
Wanneer ons dankbaar is, bring dit ons nader aan God om vir Hom dankie te sê vir dit wat Hy gegee het.
DANKBAARHEID ONTBLOOT SATAN SE LEUENS.
In die Tuin van Eden het die duiwel vir Eva ‘n rat voor die oë gedraai toe hy haar wysgemaak het God is besig om iets goeds van hulle af weg te hou. So manipuleer hy haar om te fokus op die één boom waarvan hulle nie kon eet nie.
Hy doen vandag steeds dieselfde. Hy probeer ons aanhoudend oortuig dat God nie goed is nie, dat Hy dinge wat goed en voordelig is, van ons af weghou.
Maar wanneer ons dankbaar is vir dit wat ons uit God se hand ontvang, val ons nie so maklik vir die duiwel se leuens nie.
Deur dankbaar te wees hou ons ons oë gefokus op God se goedheid en op al die goeie dinge wat ons het. Die duiwel kan ons dan nie so maklik oortuig dat daar iets is wat ons kort nie.
DANKBAARHEID BESKERM ONS TEEN AFGUNS.
Wanneer ons afgunstig is, dan wil ons hê wat aan ‘n ander behoort.
Maar dankbaarheid help ons om al die seëninge van God in ons lewens raak te sien.
Ons besef dat daar meer as genoeg is vir almal, en dat God nie iets van ons af weghou wanneer Hy iemand anders seën nie. Ons kan dan saam met die ander persoon bly wees vir daardie seëning in plaas daarvan om jaloers te wees.
‘N DANKBAARHEIDSJOERNAAL.
Een van die beste maniere om al die goeie dinge in jou lewe raak te sien, is om ‘n dankbaarheidsjoernaal te hou.
In hierdie joernaal kan jy enige ding neerskryf waarvoor jy dankbaar is. Die kan iets so eenvoudig wees soos die lekker toebroodjie wat jy vir middagete gehad het. Of dit kan iets groot wees soos die nuwe kleinding wat nou deel is van julle familie.
Elke mens se dankbaarheidsjoernaal gaan anders wees. Party gaan ‘n fisiese boek gebruik terwyl ander ‘n app van ‘Playstore’ gaan aflaai en dit gebruik.
Ek het meer as ‘n jaar gelede ‘n gratis app met die naam Presently op my foon afgelaai. Ek gebruik dit elke dag om so drie dinge waarvoor ek dankbaar is, neer te skryf. Dis ‘n baie oulike, eenvoudige app, as jy dit ook sou wou probeer.
Dit maak nie regtig saak of jy ‘n fisiese boek of ‘n app gebruik nie, solank jy net ‘n plek het waar jy elke dag drie tot vyf dinge neerskryf waarvoor jy dankbaar is.
IDEES OM JOU TE HELP.
Jy het nou jou dankbaarheidsjoernaal gekoop of die app afgelaai. Maar wat nou?
Dit kan nogal sleg wees om na ‘n leë bladsy of skerm te staar en nie te weet wat om te skryf nie!
Hier is dus vir jou ‘n paar idees wat jy kan gebruik om dankbaarheid in jou aan te wakker en te laat vloei.
- Skryf die name neer van vyf mense wat jou positief beïnvloed het in jou lewe.
- Skryf drie oulike dinge wat jou kinders gedoen het neer.
- Soek ‘n ou foto en skryf neer waarom jy dankbaar is vir die herinneringe wat die foto bring.
- Skryf neer waarom jy dankbaar is vir die huis waarin julle woon.
- Wat het jou pa en ma in jou lewe vir jou gedoen? Skryf neer waarom jy dankbaar is vir hulle.
- Maak ‘n lys van vyf dinge wat jou hierdie week laat glimlag het.
- Wat is daar in jou lewe, wat jy nie verlede jaar gehad het nie, waarvoor jy dankbaar is?
Moenie bekommerd wees as jy die dag ‘n bietjie sukkel om aan iets te dink waarvoor jy dankbaar is nie. Die dankbaarheidsjoernaal is nie bedoel om jou skuldig of sleg te laat voel nie. As jy op ‘n dag nie aan iets kan dink nie, sê dan vir God dankie vir wie Hy is. Dit sal jou ‘n hele paar dinge gee wat jy kan neerskryf!