21-DAE VAS: PRAKTIES BEPLANNING

Verlede week het ons begin met ‘n reeks oor vas en gebed. Ons het daaroor gepraat dat vas en gebed hand aan hand loop. Ons het ook daaroor gepraat dat baie mense die nuwe jaar afskop met ‘n 21-dae vas.

Jy het dalk al ‘n hele paar keer aan ‘n 21-dae vas deelgeneem. Maar dis dalk ook waar dat jy dit nog nooit gedoen het nie, maar graag die nuwe jaar so wil begin.

In hierdie artikel gaan ons kyk na hoe jy jou vas prakties kan beplan, sodat jy die meeste daaruit kry.

21-dae vas: hoe om prakties te beplan

‘N TEMA VIR ELKE DAG.

In Lukas 11 vertel Jesus ‘n gelykenis om ons meer te leer oor gebed.

Hy vertel van ‘n man wie se vriend skielik in die middel van die nag by hom opdaag. Dit moes ‘n onverwagte besoek gewees het, want hy het niks om vir sy vriend te gee om te eet nie.

Maar hy dink gelukkig vinnig aan ‘n plan.

Hy gaan gou na sy vriend, wat daar naby woon, en vra vir hom om vir hom drie brode te leen, sodat hy iets het om vir sy ander vriend te gee om te eet.

Let op dat Jesus nie sê die man het gevra sy vriend moet vir hom brood leen nie.

Nee, hy is baie spesifiek. Hy vra vir drie brode.

Hiermee wil Jesus ons leer dat ons spesifiek moet wees wanneer ons bid. Geen behoefte is vir God te groot of te klein nie, maar soms vra ons so in die algemeen vir iets, dat ons nie eers weet wanneer God ons gebed antwoord nie!

Tydens jou 21-dae vas is dit dus ‘n goeie idee om ‘n tema vir elke dag te hê.

Jy gaan dié tema gebruik wanneer jy bid, maar ook wanneer jy nadink oor God se Woord deur die loop van die dag.

Ons gaan later in die reeks gesels oor idees vir ‘n tema vir elke dag van ‘n 21-dae vas.

‘N BYBELVERS AS DEEL VAN JOU TEMA.

Nadat jy besluit het wat jou tema vir elke dag gaan wees, is dit tyd om ‘n Bybelvers te soek wat by elkeen van jou verskillende temas pas.

Dis die vers wat jy gaan gebruik wanneer jy deur die dag nadink oor God se Woord.

Deur vir ‘n hele dag lank op een spesifieke vers te fokus, gee jy God die geleentheid om met jou daaroor te praat en jou meer insig daaroor te gee.

Dis ook ‘n goeie idee om die vers vir elke dag te memoriseer. As jy elke vers so sewe tot tien keer ‘n dag hardop lees, gaan jy agterkom dat jy dit teen slapenstyd al uit jou kop ken.

‘N GEBED VIR ELKE DAG.

Baie van ons sukkel om gefokus te bly wanneer ons bid. ‘n Mens se gedagtes is die hele tyd besig om te dwaal.

Maak dus ‘n punt daarvan om tydens jou vastyd jou gebede neer te skryf. Die neerskryf van die gebed sal jou help om jou aandag te bepaal by dit waarmee jy besig is.

Na jy jou gebed neergeskryf het, bid dit dan tot God.

Onthou, jou gebede hoef nie lank te wees om effektief te wees nie. In Jakobus lees ons dis die gebed van ‘n regverdige wat krag dra. En jy is ‘n regverdige omdat jy in Jesus glo, dus dra jou gebede krag!

DINK NA OOR DIE DAG.

Sit elke dag ‘n paar minute opsy om oor jou dag na te dink.

Skryf neer wat God jou geleer het oor jou vers vir die dag.

Dalk het iemand jou deur die dag bemoedig en haar woorde het perfek gepas by jou tema vir die dag. Skryf neer wat gebeur het en wat sy gesê het. Skryf ook neer wat dit vir jou beteken het.

Of dalk het iemand vir jou gebid en dit het baie vir jou beteken. Skryf neer wat hy gebid het en wat dit vir jou beteken het.

Dit kan ook wees dat God iets op jou hart gelê het, wat op die oog af lyk of dit nie baie met jou tema vir die dag te doen het nie. Skryf dit ook neer. Jy kom dalk weke later agter waarom God juis op dáárdie dag met jou daaroor gepraat het. En jy kom dalk ook agter dat dit presies ingepas het by jou tema vir die dag.

Dit sal vir jou tot groot seën wees om later weer deur jou notaboek of joernaal te lees en te onthou wat God vir jou gesê het en hoe Hy jou tydens jou vas geseën het.

DIE DANIëLSVAS.

Ons het nou gesels oor hoe jy jou 21-dae vas prakties kan beplan en struktuur aan jou dae gee. Volgende week gaan ons gesels oor die Daniëlsvas en oor nog ‘n paar praktiese wenke vir jou vastyd.

2 thoughts on “21-DAE VAS: PRAKTIES BEPLANNING

  1. Ek stel baie belang in die vas. Ek sou eers graag inligting wil bekom hoe om myself voor te berei aangesien ek n kroniese migraine lyer is.
    Baie dankie vir al u insettinge . U word hoogs waardeer.

    • Risa Cronje

      Charlotte, jy kan die ander artikels in die reeks lees. Dalk is daar iets wat jou kan help. Of kry vir jou die boek van Susan Gregory – The Daniel Fast. Miskien kan dit jou ook help. Sterkte vir jou!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *