HOE OM ‘N BYBELLEES-ROETINE TE BEGIN

‘n Bybellees-roetine gaan jou help om die gewoonte aan te leer om elke dag Bybel te lees. Volg hierdie maklike stappe en begin sommer vandag nog daarmee.

Het jy ook aan die begin van die jaar besluit dat jy hierdie jaar elke dag jou Bybel gaan lees?

As jy dit gedoen het, dan is jy in goeie geselskap. Baie gelowiges neem elke Januarie dié besluit. Maar dan gebeur die lewe. Dinge raak besig en Bybellees word op die agtergrond geskuif.

Die wonderlike ding is egter dat daar niks besonders is omtrent die 1ste Januarie nie. ‘n Mens kan enige tyd van die jaar begin om die gewoonte aan te leer om elke dag jou Bybel te lees.

Vandag wil ek ‘n paar wenke met jou deel wat jou kan help om die gewoonte aan te leer. Maar kom ons kyk eers waarom dit belangrik is om elke dag jou Bybel te lees.

Bybellees-roetine - Hoe begin ek?

WAAROM DIE BYBEL BELANGRIK IS.

Die Bybel is God se woorde. Dit is Sy wil vir ons lewens en leer ons hoe om dinge op Sý manier te doen. In Hebreers 4:12 lees ons: “Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.”

Deur die Woord wys God ons die pad wat ons moet stap. Psalm 119:105 sê: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad.”

God gebruik ook die Bybel om ons te wys wanneer ons op die verkeerde pad is, die verkeerde dinge glo, ensovoors. In 2 Timotheus 3:16 staan daar: “Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam…”

Dan help die Woord ons ook om versoeking te weerstaan. Ons lees daarvan in Efesiërs 6:13. Daar staan: “Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat julle alles uitgevoer het, staande kan bly.”

Hierdie is maar net ‘n paar redes waarom die Bybel so belangrik is in ons lewens.

Noudat ons weet waarom ons die Bybel moet lees, kom ons kyk hoe om ‘n daaglikse Bybellees-roetine te begin.

VRA GOD OM TE HELP.

Die beste plek om te begin, is by God. Hy weet waarom jy sukkel om hierdie gewoonte aan te leer.

Dalk sukkel jy omdat jy eenvoudig nie lus is om jou Bybel te lees nie.

Of dalk is dit omdat jy klein kindertjies het en nie altyd tyd het nie.

Daar is sommer baie redes waarom mense sukkel om ‘n Bybellees-roetine te begin.

Dit maak egter nie saak waarom jy sukkel nie, die Here kan jou help.

Vertel Hom waarom jy sukkel. As jy nie weet nie, sê dit ook vir Hom.

Vra Hom dan om jou te help. Hy sal jou ‘n honger na Sy Woord gee, sodat jy dit graag wíl lees.

BEGIN MET BABA-TREë.

Baie mense maak die fout om te groot te wil begin.

Dit mag na ‘n goeie idee klink om die Bybel in ‘n jaar se tyd deur te lees. Maar dis ‘n beter idee om met baba-treë te begin.

Begin dus deur net ‘n paar verse op ‘n dag te lees. Jy hoef nie eers ‘n hele hoofstuk te lees nie.

Onthou, dit is nie die hoeveelheid verse wat jy lees wat belangrik is nie.

Wat belangrik is, is dat jy elke dag jou Bybel lees, sodat God met jou daardeur kan praat. Hy kan met jou praat deur net een woord of een vers ook!

‘N AFSPRAAK MET GOD.

Dis makliker om die gewoonte aan te leer om elke dag Bybel te lees as jy dit sien as ‘n afspraak met God.

Meeste mense teken hulle weeklikse afsprake in hulle dagboeke of op ‘Google calendar’ aan.

Doen dieselfde met jou Bybelleestyd.

Besluit wanneer jy jou Bybel wil lees. Dit kan wees net wanneer jy wakker word. Of dalk tydens jou middagete-breek by die werk. Of dalk in die aand na die kinders gaan slaap het.

Dit maak nie saak wanneer jy kies om dit te doen nie. Maak net seker dis op ‘n tyd wanneer jou liggaam en brein regtig wakker is.

Dis ook ‘n goeie idee om dit elke dag op dieselfde tyd te doen.

Soos ek gesê het, sien dit as ‘n afspraak met God en maak ‘n punt daarvan om die afspraak elke dag na te kom.

GEBRUIK ‘N BYBELLEESPLAN.

Baie mense sukkel om Bybel te lees omdat hulle nie weet waar om te begin nie.

As jy ook nie weet waar om te begin nie, dan is ‘n Bybelleesplan net die ding vir jou. Dit gee vir jou die verskillende skrifgedeeltes wat jy moet lees, so jy hoef nie te wonder waar om te lees nie.

Hier by Nader In Eenvoud het ons ‘n hele klomp gratis Bybelleesplanne wat jy kan aflaai. (As jy hierbo inteken vir die Bybel Biblioteek, het jy toegang tot die leesplanne.)

Baie van dié planne het vrae by, wat jou gaan help om dit wat jy gelees het, bietjie te ondersoek.

SKRYF NEER WAT JY LEER.

Een van die beste maniere waarop ‘n mens leer, is om neer te skryf wat jy leer. Dit help jou ook onthou wat jy geleer het. En jy kan agterna teruggaan en jou geheue verfris oor wat God jou geleer het.

Kry dus vir jou ‘n notaboek of ‘n joernaal en begin om alles wat God jou leer wanneer jy Bybel lees, neer te skryf.

Dis ‘n goeie idee om ‘n volle bladsy, of selfs twee te gebruik elke keer wat jy na ‘n nuwe gedeelte kyk. Op dié manier het jy agterna plek om nuwe dinge, wat God jou oor die gedeelte wys, ook neer te skryf.

En as jy die dag nie iets raaksien wat jy kan neerskryf nie, moenie daaroor bekommer nie. Dit gebeur partykeer dat ‘n mens nie iets sien wat uitstaan nie. Dalk wil God jou op sulke dae herinner aan iets wat Hy jou reeds geleer het. Of dalk het jy bemoediging nodig, en dis wat God jou gee.

LEES SAAM MET IEMAND ANDERS.

As jy regtig sukkel om die gewoonte aan te leer om elke dag Bybel te lees, is iemand om dit mee saam te doen, ‘n goeie idee.

Julle kan mekaar aanmoedig en bemoedig wanneer dit moeilik raak om by julle nuwe gewoonte te hou.

Julle kan ook vir mekaar vertel wat julle alles leer. Want twee mense kan presies dieselfde gedeelte lees, en dan leer God hulle verskillende dinge daaruit.

Dit gebeur omdat elkeen se verhouding met God uniek is. En elke mens het op enige gegewe dag iets anders in hulle lewens nodig. God weet presies wat dit is. Hy praat dan ook deur Sy Woord en sê vir jou presies wat jy daardie dag moet hoor.

Om dit agterna vir iemand te vertel, help jou om dit dieper in jouself vas te lê. En dit is ook tot seën van die een wat dit hoor!

MOENIE MOED OPGEE NIE.

Ek wil jou waarsku dat dit dalk nie maklik gaan wees om met ‘n Bybellees-roetine te begin nie.

Die duiwel wil nie hê jy moet Bybel lees nie. Hy is bang vir wat jy kan leer, hoe dit jou kan laat groei en jou versterk. So hy sal alles in sy vermoë doen om jou te laat misluk.

Dan is daar natuurlik ook dinge wat niks met hóm te doen het nie, wat jou ook kan laat struikel. ‘n Ma met ‘n pasgebore baba gaan byvoorbeeld sukkel om die gewoonte aan te leer in daardie seisoen van haar lewe.

Maar moenie toelaat dat iets jou van stryk bring en jou laat opgee nie.

As jy nie fisies kan sit en Bybel lees nie, kry vir jou ‘n oudio-Bybel en luister daarna. Jy kan selfs luister terwyl jy besig is om huis skoon te maak, wasgoed te was, motor te bestuur, ensovoorts.

NOG ARTIKELS WAT JOU KAN HELP.

Hier is nog ‘n paar artikels wat jou kan help om die gewoonte aan te leer om elke dag jou Bybel te lees.

Bybelleesplan-wenke Vir Jou Stiltetyd

My Daaglikse Stiltetyd-Roetine

8 Wenke Vir Jou Stiltetyd

One thought on “HOE OM ‘N BYBELLEES-ROETINE TE BEGIN

  1. Jan Jeremia

    Al die programme is baie intresant en leersaam,goed om meer kennis met die woord te kan maak en verstaan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *