MY DAAGLIKSE STILTETYD-ROETINE

Ek het al voorheen heelwat geskryf oor stiltetyd en wenke gegee van wat jy kan doen om ‘n meer betekenisvolle stiltetyd te hê. Vandag gaan ek jou bietjie meer vertel oor my daaglikse stiltetyd-roetine. Dalk is daar iets wat ek doen wat jy ook kan doen om jou tyd met die Here vir jou lekker te maak.

Maar voor ons daarby kom, moet ek net eers die volgende noem. Ek is in die bevoorregte posisie om elke oggend ‘n uur vir stiltetyd te hê. Dit beteken ek kan nogal ‘n hele klompie dinge in daardie uur inpas. As jy nie so baie tyd het nie, gaan jy minder kan doen, maar dit maak nie saak nie. Dit gaan nie regtig oor alles wat jy in jou stiltetyd gedoen kry nie, maar wel dat jy tyd met God spandeer.

So, kom ek vertel vir jou wat ek elke oggend doen.

My daaglikse stiltetyd-roetine

BEGIN MET GEBED.

Ek begin altyd my stiltetyd met gebed. Dit help my om op God te fokus en my gedagtes stil te maak. Ek begin deur Hom te loof en prys. Ek dank Hom ook vir verskeie dinge in my lewe.

Vervolgens bid ek vir ander mense, vir myself, vir ons bediening, ensovoorts. Ek het ‘n lysie van mense en dinge waarvoor ek bid. Maar baie keer bid ek soos die Here mense en dinge op my hart lê.

Dan sluit ek my gebedstyd af deur die Here te vra om my geestelik te voed met Sy Woord, my denke te vernuwe en my te verander sodat ek soos Jesus is. Ek bid ook graag Kolossense 1:9. Gaan lees die vers en kyk hoe jy dit in jou eie gebed kan verander.

SKRYF DIE WOORD.

Die eerste ding wat ek doen na ek klaar gebid het, is om te kyk wat die vers vir die dag op YouVersion is. As jy nie weet nie, hulle het ‘n baie oulike app wat jy op jou foon kan aflaai. Elke dag kry jy ‘n vers vir die dag. Daar is ‘n video, ‘n oordenking, ‘n gebed en ‘n vraag wat ook handel oor die vers.

Nadat ek gekyk het wat die vers is, soek ek dit in my Bybel op. Dan lees ek die hele hoofstuk waarin die vers voorkom.

My joernaal is natuurlik ook byderhand. Na ek die hoofstuk gelees het, skryf ek die gedeelte waarin die vers vir die dag voorkom, woord vir woord in my joernaal oor.

Soms skryf ek net die gedeelte neer. Ander kere wys die Here my iets omtrent die gedeelte of vers. As Hy my iets wys of met my oor die gedeelte praat, skryf ek dit neer. As dit nie gebeur nie, beskou ek die gedeelte net as deel van die ‘kos’ wat my gees vir die dag nodig gehad het.

O ja, as jy ook die Woord wil skryf, maar jy weet nie waar om te begin nie, kan die Skryf Die Woord Joernale in die Bybel Biblioteek jou daarmee help. Vul net jou inligting hieronder in om toegang tot die Biblioteek te kry. Daar is heelwat ander hulpmiddele wat jy ook in jou stiltetyd-roetine kan gebruik.

LEES HOOFSTUKKE VIR DIE DAG.

Ek het ‘n paar maande gelede ‘n baie oulike Bybel by ‘n boekwinkel gekoop wat tweedehandse boeke verkoop. Dit word The Daily Walk Bible genoem.

Die Bybel is so ingedeel dat ‘n mens in ‘n jaar se tyd die hele Bybel deurlees. Elke dag is daar dus ‘n klompie hoofstukke wat jy vir die dag moet lees.

Nadat ek die vers vir die dag neergeskryf het, is dit tyd om die hoofstukke vir die dag te lees. Soms is daar nogal baie hoofstukke. As dit gebeur, lees ek net die hoofstukke waarvoor ek tyd het. Die volgende dag lees ek dan die hoofstukke waarby ek nie die vorige dag uitgekom het nie.

As jy ook graag die Bybel in een jaar wil deurlees, kan jy ‘n leesplan aflaai by BibleProject.

LEES ‘N ARTIKEL OF KYK ‘N VIDEO.

Ek moet erken dat ek nie elke dag die hoofstukke vir die dag lees nie.

Dit gebeur soms dat die Here dit op my hart lê om eerder ‘n artikel uit een van die geestelike tydskrifte wat ek kry, te lees.

Ander kere lei Hy my weer om ‘n geestelike video op YouTube te kyk.

Maar dit maak nie saak wat die Here my lei om te doen nie, Hy praat altyd deur een van die dinge met my. Soms is dit deur die vers vir die dag. Ander kere deur een van die hoofstukke of deur die video. En soms gebeur dit dat Hy deur Sy Gees met my praat terwyl ek bid.

Hy is so getrou om altyd met my te praat. Hy sal ook met jou praat as jy Hom die kans gee!

EINDIG MET GEBED.

Ek sluit ook altyd my stiltetyd af net soos ek daarmee begin het: met gebed.

Nou vra ek dat die Here my help om wat Hy my geleer het, in my lewe toe te pas.

In Jakobus 1:22-25 lees ons dat ons doeners van die Woord moet wees, nie net hoorders nie. Daarom is dit belangrik dat ons die Here vra om ons daarmee te help.

Ek weet nie altyd dadelik hoe ek wat God vir my gesê het moet toepas nie. Maar ek weet die Heilige Gees sal my wys wat ek moet doen en ook wanneer ek dit moet doen.

JOU STILTETYD-ROETINE.

Ek hoop dat hierdie artikel jou inspireer om ook ‘n stiltetyd-roetine te begin, as jy dit nog nie een het nie.

Onthou, jy hoef nie te doen wat ek doen om ‘n betekenisvolle stiltetyd te hê nie. Om die waarheid te sê, jy hoef niemand anders se stiltetyd-roetine te volg nie.

Elkeen van ons is unieke mense met unieke behoeftes. Vra dus die Here om jou te wys hoe jý moet doen om ‘n stiltetyd-roetine te begin wat vir jou van waarde gaan wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *