JOU VERLEDE: HOE OM DIT TE HANTEER

Elkeen van ons het al deur dinge gegaan wat ons seergemaak het. En ons het ook al dinge gedoen wat ander seergemaak het.

Dit wat ander aan jou gedoen het, kan jou gevange hou wanneer jy toelaat dat dit by jou bly spook. Baie keer is die enigste oplossing baie tyd met God sodat Hy jou kan genees. Dis ook ‘n goeie idee om te gaan vir berading.

Maar wat gemaak met dié dinge wat jy aan ander gedoen het, wat hulle seergemaak het? Wat van die verkeerde keuses in jou lewe, waaroor jy nou nog skaam kry?

Hier is ‘n paar dinge wat jy kan probeer om jou te help om met jou verlede vrede te maak.

Jou verlede - hoe om dit te hanteer

SIEN JOUSELF SOOS GOD JOU SIEN.

Iemand vertel dat haar Sondagskooljuffrou regverdigmaking (justification in Engels) so verduidelik het: Jesus se dood aan die kruis het dit moontlik gemaak dat elkeen van ons ‘reg’ met God kan wees. Asof ons nooit eens sonde gedoen het nie (just as if we’ve never sinned).

Jare later het sy ‘n boodskap gehoor oor Jesus se perfekte karakter. Hy was in alle opsigte versoek, maar het nooit sonde gedoen nie. Dit maak nie saak wat Sy pad gekruis het nie, Jesus was altyd volkome gehoorsaam aan God.

Dit het haar gehelp om een ding te besef. In God se oë is dit asof elke gelowige nog altyd net gehoorsaam was aan Hom.

Dit is ook hoe God jou sien. In Sy oë bestaan jou verlede met al jou verkeerde keuses, mislukkings en sonde nie meer nie. Al waar dit nog ‘lewend’ gehou kan word, is in jou eie gedagtes.

So sien jouself soos God jou sien. Jy is ‘n nuwe mens. Die ou dinge het verby gegaan.

As jy sukkel om dit uit jou gedagtes te kry, probeer dan die volgende.

GENADE IN PLAAS VAN NEGATIEWE GEDAGTES.

Een van die duiwel se slimstreke is om ‘n mens altyd te herinner aan jou foute.

Of dit nou in jou huwelik, met jou kinders, in familieverhoudings, of waar ookal is, as jy al ‘n fout gemaak het, kan jy verseker weet die duiwel sal dit een of ander tyd ophaal.

Jy kan in sak en as gaan sit wanneer hy jou herinner. Maar dit gaan niks aan die verlede doen nie. Dit gaan nie jou foute ongedaan maak nie.

En om heeltyd daaroor te dink en sleg te voel, verander ook niks aan die saak nie.

Al wat ‘n mens met jou verlede kan doen, is om daaruit te leer en God se genade te aanvaar.

Iemand stel die volgende voor: Wanneer die duiwel jou aan jou foute herinner, gebruik jou verbeelding. Sien die woord GENADE langs die gedagtes oor jou sondes en foute. Visualiseer hoe GENADE daardie negatiewe gedagtes heeltemal oorrompel en uit jou gedagtes dryf. Sê dan vir die Here dankie vir Sy genade. Sê vir Hom dankie dat Hy jou sien asof jy nog altyd aan Hom gehoorsaam was.

OORDINK GOD SE WOORD ELKE DAG.

Dit maak nie saak wat in jou lewe aangaan nie, God se Woord het ‘n antwoord daarvoor.

Sy Woord het ook ‘n antwoord vir die foute wat jy in die verlede gemaak het.

Navorsing het gewys dat gebed en om God se Woord te oordink ‘n mens se brein positief beïnvloed. Hierdie invloed bevorder genesing, welstand en dit kan selfs jou lewe verleng!

In Jesaja 55:11 sê God dat Sy Woord nie vrugteloos na Hom toe sal terugkeer nie. Dit sal doen wat Hy wil hê, en die doel bereik waarvoor Hy dit gestuur het.

So maak ‘n punt daarvan om elke dag tyd in die Woord te spandeer. Dink oor die waarhede wat jy daar lees. Laat dit toe om in jou hart wortel te skiet sodat dit kan vrug dra en doen wat God dit gestuur het om te doen.

VERGEWE JOUSELF.

Die dag toe Jesus aan die kruis gesterf het, het God die straf vir sonde op Hom uitgegiet. Omdat Hý die straf gedra het, is alle sonde vergewe.

En toe jy Hom as jou Verlosser aanvaar het, het daardie vergifnis ‘n werklikheid in jou lewe geword.

Nou vra God van jou om ander te vergewe soos Hy jou vergewe het. Soms is daardie ‘ander’ wat jy moet vergewe, jouself.

Dink só daaraan: as God al jou sondes vergewe het, hoekom weier jy om jouself te vergewe?

Daardie misstap waaraan die duiwel jou altyd herinner – vergewe jouself daarvoor.

Aanvaar God se vergifnis, as jy dit nog nie gedoen het nie. En vergewe jouself dan net soos Hy jou vergewe het.

JOU VERLEDE BEPAAL NIE JOU TOEKOMS NIE.

Het jy al iemand die volgende hoor sê: “Ek is maar so gemaak en so gelaat staan!”

Mense gebruik graag hierdie uitdrukking wanneer hulle ‘n negatiewe karaktertrek het waaraan hulle nie wil werk nie.

Maar daar is baie mense wat dieselfde idee het wanneer dit by foute van die verlede kom. Hulle dink dat hulle nou maar eenmaal geneig is om ‘n spesifieke fout te maak en dat hulle gaan aanhou om dit te doen.

Dis egter nie die waarheid nie.

God wil met elkeen van ons ‘n pad stap en ons meer soos Jesus maak.

Hy gebruik Sy Woord om ons te leer hoe om soos Jesus te leef. Dan gebruik Hy ook die Woord om Jesus se karaktereienskappe in ons harte te kweek. Verder gebruik Hy die Woord om dié dinge wat nie soos Jesus lyk nie, uit ons lewens te sny.

Wees dus altyd bewus daarvan dat jou verlede nie jou toekoms bepaal nie. Jy hoef nie aanhoudend dieselfde foute te maak nie. Werk saam met die Heilige Gees en vertrou Hom om jou meer en meer soos Jesus te maak.

BYBELVERSE OM JOU TE HELP.

Om af te sluit deel ek graag ‘n paar verse uit die Bybel wat wys hoe belangrik dit is om ons verlede agter te laat en saam met God die toekoms in te stap.

Romeine 12:19: Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,” sê die Here.

Filippense 3:13-14: Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom.

Jesaja 43:18-19: Moenie dinge van vroeër in herinnering roep nie; op vorige gebeure moet julle nie die aandag vestig nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit gaan nou uitspruit. Kan julle dit nie besef nie? Selfs in die woestyn sal Ek ‘n pad maak, in die wildernis riviere.

Lukas 9:62: En Jesus het vir hom gesê: “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en dan omkyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”

Spreuke 4:25: Jou oë moet vorentoe kyk, jou blik moet reg voor jou gerig wees.

2 Korinthiërs 5:17: Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.

Efesiërs 1:7-8: In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die vergewing van ons oortredings uit die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons geskenk het, saam met alle wysheid en insig.

3 thoughts on “JOU VERLEDE: HOE OM DIT TE HANTEER

  1. Tina Kachelhoffer/Beukes

    Goeie more, ek wonder of u my kan help. Ek is verloof aan ‘n man wat nie sy verlede kan vergeet nie, elke keer as ons ‘n klein verskillietjie kry dan haal hy die ou verlede op. Ek het al alles probeer dat hy net moet weet dat dit nie saak maak wat die ander vrouens aan hom gedoen het nie maar wat ons saam deur maak is wat saak maak maar soos ek se elke keer as ons net ‘n klein misverstand of onderonsie kry dan gryp hy na dit en dan moet ek elke keer hoor hy is nie lief vir my nie hy was stupid om te dink dat dit kan werk en en en so ek wil weet wat moet ek maak ek het nou regtig al alles van my kant af gedoen om dit te verander maar steeds gaan dit aan en my twee kinders wat nie sy eie is nie is baie baie lief vir hom maar dis net as of hy nie omgee vir wie en wat hy seer maak met sy woorde nie so ek sal baie dankbaar wees as u my raad kan gee asb want ek is baie lief vir hom maar dit wil lyk as of hy nie weet hoe om liefde te aanvaar nie. hy se hy is ‘n kind van die Here maar elke keer dan wil hy my net seer maak met sy woorde dus weet ek nie wat om te dink nie en as ek hom daar op wys dat hy se hy ‘n kind van die Here is en as hy werklik ‘n kind van die Here wil wees moet hy kan vergewe en vergeet en nie weer aan sulke dinge dink nie dan is hy geneig om te se dan wil hy nie ‘n kind van die Here wees nie so hoe nou gemaak

    asb ek sal enige raad waardeer dankie groete Tina Kachelhoffer/Beukes

    • Risa Cronje

      Tina, een ding wat jy kan doen is om baie vir hom te bid. Vra die Here om hom te help om sy verlede te verwerk sodat hy dit agter hom kan sit. Dit sal ook ‘n goeie idee wees as hy ‘n Christelike berader kan gaan sien, wat hom daarmee kan help. Ek weet net nie hoe jy dit gaan regkry om hom te oortuig om te gaan nie. En dan stel ek ook voor dat jy ernstig met die Here praat oor of hierdie man die regte een is vir jou. Dis dalk nie wat jy wil hoor nie, maar as hy nie die regte een is nie, sal dinge in elk geval nooit tussen julle werk nie. So, word stil by die Here en praat met Hom daaroor. En as Hy jou antwoord, doen dan wat Hy sê jy moet doen, selfs al is dit moeilik. Sterkte daar!

  2. Santie Moodie

    Baie Dankie vd treffende Boodskap.Ek het nodig om dit vandag te hoor.
    Die eerste helfte vd jaar 2022 was Besonders.Ons enigste 2 kinders – seun & dogter is beide getroud 12/03 & 21/05.Ons is baie dankbaar dat slles goed verloop het & ons 2 wonderlike kinders bygekry het.Die Here se Genade is so goed.
    Noudat die winter op hande is en tyd vir nabetragting kyk ek ook na ons huwelik en sien soveel leemtes .Ek besef met hierdie boodskap dis beter om die mooi te onthou en nie te dink aan foute vd verlede .Dis wonderlik om te weet die Here onthou ni en Sy Genade is Groot.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *