JOHANNES 15: DIE NOMMER EEN REDE WAAROM GOD ONS SNOEI

Ek is nie ‘n tuinier nie, maar dit is vir my baie mooi wanneer iemand wat weet wat hy doen, ‘n struik snoei sodat dit soos ‘n reuse suigstokkie, of een of ander dier lyk. Ek het al gehoor dat dit nie ‘n maklike ding is om te doen nie, en dat ‘n mens gereeld die takkies, wat besig is om uit te groei, moet afsny sodat die vorm van die struik nie bederf word nie.

DIE WINGERSTOK EN DIE LOTE.

Ons het voorheen geleer dat Jesus die Wingerdstok is, en ons, as gelowiges, is die lote.

Die Vader is die Boer.

Een van die pligte van iemand wat met druiwe boer, is om die wingerdstokke wat in sy wingerd groei, se lote te snoei, want as hy dit nié doen nie, gaan die wingerstokke nie behoorlik dra nie en sy oes gaan dalk ‘n mislukkig wees.

Dit is dan ook nie anders wat ons lewe in Christus betref nie.

In Johannes 15:2-3 lees ons: “Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.”

Lees Ook: Hoe Om Vrug Te Dra In Christus

Druiwe en wingerde. Johannes 15: Die nommer een rede waarom God ons snoei.

HOEKOM MOET EK GESNOEI WORD?

Toe ons na Jesus toe gekom het, het die Vader begin om ons te snoei.

Die tuinier wat die suigstokkie-struik snoei, doen dit om die struik in ‘n spesifieke vorm te kry en te hou.

God se doel is om ons te snoei sodat ons meer soos Jesus kan lyk.

Elke dag is Hy besig om die takkies wat iewers in ‘n rigting groei, wat glad nie soos Jesus lyk nie, en ons getuienis vir Hom kan bederf, te snoei.

DIE WOORD – DIE SNOEISKêR.

Jy mag dalk nog altyd gewonder het oor die snoeiskêr wat God gebruik.

Wat is dit nou eintlik?

Is dit probleme en moeilikhede wat oor jou pad kom?

Of is dit dalk mense wat Hy gebruik om jou op een of ander manier te snoei?

Jesus gee Self vir ons die antwoord in Johannes 15:3: “Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.”

Die Woord is ons Tuinier se snoeiskêr.

Elke keer wat ons die Woord hoor, kan die Heilige Gees dit gebruik om ons bewus te maak van een of ander sonde in ons lewens.

Hy gebruik dit om ons te oortuig dat hierdie ding nie in ons lewens hoort nie, want dit lyk nie soos Jesus nie.

As ons bereid is om saam met Hom te werk, help Hy ons om dit uit ons lewens te sny en dan gebruik Hy die Woord om ons in daardie gebied meer soos Jesus te maak.

Lees Ook: 5 Redes Waarom Tyd In Die Woord Belangrik Is

GELYK AAN DIE BEELD VAN CHRISTUS.

In 2 Korinthiers 3:18 lees ons: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

God wil jou, deur Sy Woord, snoei, sodat jy baie vrug dra en meer soos Jesus lyk.

Jy hoef nie bang te wees vir hierdie snoeiproses nie, want die Heilige Gees is elke tree van die pad saam met jou om jou te help.

Hy leer jou wat jy moet weet en oortuig jou van die waarheid.

Plaas jouself vandag in die hand van die Groot Tuinier.

Laat Hom toe om Sy snoeiskêr te gebruik om die takkies af te sny wat nie vrug dra nie en nie soos Jesus lyk nie.

Vertrou Hom dat Hy weet wat Hy doen. Werk saam met Hom, en jy sal verbaas wees oor die verandering in jou lewe.

Met Sy hulp kan jy elke dag meer en meer soos Jesus lyk, en baie vrugte dra wat Hom verheerlik!

One thought on “JOHANNES 15: DIE NOMMER EEN REDE WAAROM GOD ONS SNOEI

  1. ek vind dit baie behulpsaam op my geestelike reis en wim net meer groei in die Here

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *