LEESPLAN VIR JOU BYBEL (GRATIS PDF)

As jy nog altyd gewonder het waar jy in jou Bybel moet lees wanneer jy stiltetyd hou, dan het ek vir jou ‘n oplossing! ‘n Leesplan vir jou Bybel is net waarna jy soek. So ‘n leesplan haal die raaiwerk uit Bybellees.

leesplan vir jou Bybel

DIE BELANGRIKHEID VAN DIE BYBEL.

As jy al lank hier by ons is, sal jy weet dat ek gereeld skryf oor die belangrikheid van die Bybel.

Jy sien, een van die beste dinge wat jy met jou tyd kan doen, is om elke dag tyd in die Bybel te spandeer.

Die Bybel leer ons meer oor God. Dit leer ons wat Sy karaktertrekke is en hoe Hy dinge doen. Verder help dit ons om Sy stem te leer ken, sodat ons kan onderskei wanneer die Heilige Gees met ons praat.

Die Bybel leer ons ook oor ons identiteit in Christus. Dit leer ons wat alles ons s’n is omdat ons erfgename van God is. En dit leer ons wat ons, as God se kinders, alles kan en moet doen.

Dan is die Bybel ook die voedsel wat ons gees nodig het. Daarsonder verhonger ons en word ons geestelik swak.

Boonop bou en versterk die Bybel ons geloof en leer ons wat se beloftes God alles aan ons gemaak het.

Dit leer ons die waarheid, wys ons wanneer ons ‘n leuen glo of op ‘n dwaalspoor is, en rus ons toe vir die goeie werke wat God vir elkeen van ons beplan het.

Dit bemoedig, gee hoop en help ons om ons oë en gedagtes op die Here te fokus.

Sien jy waarom dit so belangrik is om elke dag tyd in Bybel te spandeer?

LEES OOK: 12 DINGE WAT DIE BYBEL DOEN

‘N BYBELLEESPLAN.

Het jy al agtergekom dat ‘n mens baie meer in ‘n dag gedoen kry wanneer jy ‘n plan het waarvolgens jy werk?

Dieselfde is waar van tyd in die Bybel.

As jy weet waar jy gaan lees wanneer jy jou stiltetyd hou, dan mors jy nie tyd deur rond te blaai op soek na iets om te lees nie.

Nee, jy maak eenvoudig jou Bybel oop waar jy moet lees. Die kans is goed dat jy dan jou tyd beter gaan gebruik en baie meer daaruit gaan kry.

‘n Leesplan vir jou Bybel is dus die ideale hulpmiddel.

LEES OOK: BYBELLEESPLAN WENKE VIR JOU STILTEYD

VERSKILLENDE LEESPLANNE.

As jy ‘n bietjie op die internet rondsoek, sal jy sien daar is sommer baie verskillende leesplanne beskikbaar.

Maar jy hoef nie eers op die internet te soek nie, want hier by Nader In Eenvoud is ook leesplanne beskikbaar. Boonop het jy ‘n keuse van watter tipe leesplan jy wil hê.

‘N 21-DAE LEESPLAN.

As jy graag elke maand oor ‘n ander onderwerp of in ‘n ander Bybelboek wil lees, dan is die 21-dae leesplan vir jou Bybel ideaal. Elke maand stel ons ‘n nuwe leesplan, wat oor ‘n ander onderwerp of boek handel, beskikbaar.

Die planne is 21-dae planne. Jy het dus tyd om in te haal as jy agter geraak het. Of, as jy meer as een dag dieselfde gedeelte wil lees en oordink, dan kan jy dit ook doen.

Onderaan elke leesplan is daar ook ‘n paar vrae wat jy kan gebruik om jou te help om die teks te oordink.

As jy belangstel in die maandelikse leesplanne, vul dan jou inligting hieronder in en laai sommer nou een af om mee te begin.

DIE EENJAAR- OF DRIEJAAR-LEESPLAN.

Dalk het jy nog nooit die Bybel deurgelees nie, maar jy sou dit graag wou doen.

Sommige mense lees elke jaar deur die Bybel. Ander verkies om dit in twee of drie jaar te doen.

As jy graag deur die hele Bybel wil lees, dan is ‘n eenjaar- of driejaar leesplan vir jou Bybel ideaal.

Hierdie leesplanne werk net soos die maandelikse leesplanne. Elke dag het jy ‘n gedeelte wat jy vir daardie dag moet lees. Maar hou in gedagte dat ‘n eenjaar leesplan ‘n hele paar hoofstukke vir die dag gaan hê. Want hoe anders gaan jy in een jaar deur die Bybel lees?

‘N KRONOLOGIESE LEESPLAN.

Party mense sê die Bybel maak nie vir hulle sin nie omdat die gebeure nie kronologies geskryf is nie. As jy daarmee sukkel, dan is ‘n kronologiese leesplan vir jou Bybel die hulpmiddel vir jou.

‘n Kronologiese leesplan sit die verskillende gebeur van die Bybel in volgorde. Dit beteken jy gaan van een boek na ‘n ander spring. Vandag gaan jy dalk in 1 Samuel lees, môre in Psalms en die dag daarna in Jesaja.

Maar jy gaan sien hoe dinge inmekaar steek, wat jou gaan help om die Bybel en die gebeure daarin, beter te verstaan.

As jy graag die Bybel wil deurlees – of dit nou in een of drie jaar of kronologies is, vul jou inligting hieronder in. Ek gaan dan sommer al drie leesplanne vir jou stuur, dan kan jy kies watter een jy wil gebruik.

TYD IN DIE BYBEL.

Onthou jy wat het Jesus in Mattheus 4 gesê? Die duiwel het Hom in die woenstyn versoek. Jesus het vir veertig dae en nagte gevas en was honger. Toe sê die duiwel vir Hom dat Hy klippe in brood moet verander. Maar Jesus het geantwoord: “Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke uitspraak wat uit die mond van God kom.”

Jy het elke dag die Bybel in jou lewe nodig.

So maak vandag nog ‘n plan om tyd saam met God in Sy Woord te spandeer.

Laai vir jou ‘n leesplan vir jou Bybel af en begin om jou gees te voed met die Woord van God.

Hierdie is ‘n opdatering van die artikel Bybelleesplanne Vir Jou Stiltetyd

11 thoughts on “LEESPLAN VIR JOU BYBEL (GRATIS PDF)

  1. Marlene van Staden

    Goeie dag
    Ek stel belang in die jaarlikse Bybel lees program vir 2024.Kan dit vir my aangestuur word asb
    Marlene

    • Risa Cronje

      Marlene, jy kan inteken om die leesplan te ontvang deur jou inligting in op die Lees Deur Jou Bybel-intekenvorm hierbo in te vul. Jy sal dan ‘n skakel kry na die verskillende leesplanne en kan almal, of die een wat jy verkies, aflaai.

  2. Paul

    Hey Risa het jul dalk n Bybel Whatsapp Groep ook waar Bybel Studies gesaamtelik gedoen kan word saam ander mense dalk kan jy my epos asb

    • Risa Cronje

      Paul, ek stuur vir jou ‘n e-pos.

  3. Jako Steenkamp

    Hello Risa

    Kan jy vir my asseblief ook die program stuur vir die lees van die Bybel in een jaar.
    Ou Testament een keer en Nuwe Testament twee keer.

  4. Joey

    ek het gisteraand geluister toe Pastoor gese het dat die leesplan 1jaar gratis uitstuur. ek stel belang om dit te kry. pastoor het ook genoem dat ou testamen 1x en nuwe testament 2x gelees word in 1 jaar. Kan u dit vir my stuur asseblief. op my epos.

    • Risa Cronje

      Joey, ek het die leesplan vir jou gestuur.

  5. Rethea Louw

    Goeie more

    Ek vul my besonderhede in vir die lees hulpmiddels maar nerens se dit dat n link gestuur sal word na my epos adres toe nie

    • Risa Cronje

      Hallo Rethea. Het jy toe reggekom met die leesplan? Daar is veronderstel om ‘n e-pos gestuur te word met die nodige. Laat weet my as jy nie reggekom het nie.

      • Eljo

        Dagsê Risa
        Ons het die kronologiese leesplan ontvang, en 1 Jan begin.
        Ons 2 bejaardes wil graag vir onsself laat afdrukke maak om in ons Bybels te sit vir lekker lees. Maar nou het ek die leesprogram verloor hier op internet.
        wees asb so gaaf en stuur dit weer vir my in n vorm wat ek dit kan laat print. Baie dankie.
        Eljo en Johann Engelbrecht

        • Risa Cronje

          Hi Eljo
          Ek het die leesplan weer vir jou gestuur. Lekker lees!
          Risa

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *