SIEN JESUS IN ‘N KERSBOOM (GRATIS LEESPLAN)

Die kersboom, versierings en geskenke onder die boom is tradisie met Kersfees. Dit herinner ons egter ook aan Jesus en wat Hy vir ons kom doen het.

Sien Jesus in 'n kersboom

Kersfees is ‘n tyd van tradisie.

Elke gesin en familie het hulle eie manier hoe hulle Kersfees vier.

Vir sommige is die kersboom met al sy versierings baie belangrik.

Ander hang kerskouse op en sorg dat daar Oukersaand ‘n glas melk en koekies vir Kersvader uitgesit word.

Party mense vier Kersfees op groot skaal, met hope eetgoed en geskenke, terwyl ander verkies om dit meer eenvoudig te hou.

Daar word gesê dat baie van die tradisies wat ons het, afkomstig is van een of ander negatiewe gebruik van vroeër jare.

Maar hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek dat ‘n mens nogal heelwat van Jesus in van hierdie tradisies kan sien.

Neem die kersboom as voorbeeld.

GROEN = LEWE.

Die boom is gewoonlik groen, hoewel ‘n mens deesdae nagemaakte bome kry wat allerhande kleure is.

Maar kom ons veronderstel die boom is groen. Dit verteenwoordig lewe.

Jesus het gekom en Sy lewe gegee sodat ons lewe kan hê.

Toe ons gebore is, het Hy ons fisies lewe gegee, maar met ons wedergeboorte, gee Hy ons geestelike lewe.

Johannes 10:10 sê: “‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek [Jesus] het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

LIG VIR DIE WêRELD.

Kersbome is gewoonlik vol stringe helderkleurige liggies.

Jesus is die Lig van die wêreld.

As Sy dissipels is ons ook lig in hierdie wêreld om ander te help om Hom te sien deur hoe ons teenoor hulle optree, met hulle praat, ensovoorts.

“Ek is die lig vir die wêreld… Julle is die lig vir die wêreld” (Johannes 8:12; Mattheus 5:14).

kersboom

DOOD VIR SONDE, LEWE VIR GOD.

Ek het vroeër gesê die groen van die boom verteenwoordig lewe, maar die boom verteenwoordig ook die dood.

Jesus het vir ons aan die kruis gesterf.

Ons het saam met Hom gesterf en is nou dood vir die sonde maar lewe vir God.

“Ons het saam met Christus gesterwe… Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (Romeine 6:8;11).

GESKENKE EN NOG MEER GESKENKE.

Onder ‘n kersboom is daar gewoonlik sommer ‘n hele klomp geskenke.

Jesus is ons geskenk van God die Vader.

Verlossing is ook ‘n geskenk en so ook die geloof waarmee ons in Hom glo sodat ons gered kan word: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.

Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God” (Efesiërs 2:8).

Wanneer jy hierdie jaar jou kersboom staanmaak, dit versier met liggies en later geskenke onder dit pak, onthou al die dinge wat die kersboom jou kan leer oor Jesus.

Vertel dit vir jou kinders, sodat hulle, in plaas van net ‘n mooi versierde kersboom, Jesus as Verlosser sal sien, wat gegee is, “sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Johannes 3:16)

Dalk sien jy verskeie ander dinge wat jou herinner aan Jesus wanneer jy na die kersboom kyk.

Kom ons doen dinge hierdie jaar anders.

Kom ons fokus op die Een wat ons veronderstel is om te vier gedurende hierdie feestyd.

LEES OOK: 5 GESKENKE WAT GOD GEE

JESUS-BYBELLEESPLAN.

Om ons te help om ons harte voor te berei vir die viering van Jesus se geboorte, is die Bybelleesplan vir Desember alles oor Hom!

‘n Bybelleesplan is ‘n riglyn wat jou help om elke dag te weet waar jy gaan lees, sodat jy nie tyd mors deur rond te blaai nie.

Elke maand se Bybelleesplan het ‘n ander onderwerp.

Vul net die vorm hieronder in, en jy kry toegang tot Desember se gratis Bybelleesplan. Jy kry ook toegang tot al die ander leesplanne wat ons al voorheen gebruik het.

Mag die leesplan jou help om op Jesus te fokus en jou hart voorberei vir die komende feesseisoen!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *