Ons het die afgelope paar weke gesels oor Bybelstudie, en het gekyk na ‘n paar maniere wat jy kan gebruik wanneer jy jou Bybel bestudeer. (Jy kan meer lees oor van die metodes hier, hier en hier)
Vandag gaan ons vir oulaas na nog ‘n metode kyk. Hierdie keer is dit die vers-vir-vers-ontledingsmetode.
Ek en ‘n vriendin het ‘n klompie jare gelede soms vir ‘n vriend in Pretoria gaan kuier. Hy was deel van ‘n Engelse kerk, en dit was ‘n groot lekkerte om elke keer saam met hom te kon kerk toe gaan tydens ons kuier. Wat dit nog lekkerder gemaak het, is dat die dominee in daardie tyd deur Romeine gepreek het, en letterlik elke Sondag by ‘n vers van die boek stilgestaan het. Soms het hy meer as een Sondag oor dieselfde vers gepreek! Al het ons net nou en dan gaan kuier, het ons baie geleer juis omdat dit so lank geneem het om vers-vir-vers deur die boek te werk.
Hierdie metode help jou om die gedagtes in die boek in konteks te sien. Jy gaan die gedeelte wat jy bestudeer in detail ondersoek deur vrae te vra en kruisverwysings na te gaan, en ook elke vers in jou eie woorde neerskryf.
BENODIGDHEDE.
Bybel
Kruisverwysings
Konkordansie
Bybelwoordeboek en/of ensiklopedie
Woordstudies
WENKE.
As jou tyd beperk is, kan jy hierdie studie steeds met sukses doen deur net jou Bybel te gebruik.
STAPPE.
STAP 1:
Skryf elke vers in die gedeelte in jou eie woorde. Probeer om so akkuraat as moontlik te wees. Die idee is dat jy die gedeelte regtig in jou eie woorde weergee, so bly weg van ander parafrases, want dit kan jou bewoording beïvloed en veroorsaak dat dit op die ou end nie jou woorde is nie, maar iemand anders s’n.
STAP 2:
Skryf alle waarnemings oor die verskillende verse neer. Maak ‘n nota van enige vrae wat jy oor ‘n vers het. As jy in die teks antwoorde op jou vrae vind, skryf dit ook neer. Doen dit met elke vers in die studie. Merk elke teks met ‘n W (waarneming), V (vraag), en A (antwoord), sodat dit later maklik is om terug te gaan en dit weer te vind as jy verder wil studeer.
STAP 3:
Vind ‘n paar kruisverwysings vir elke vers. Probeer om ten minste een per vers te kry, en dui aan of die verwysing verwys na ‘n spesifieke woord, frase, of konsep in die vers.
STAP 4:
Het die Heilige Gees jou enige insig omtrent ‘n vers gegee? Skryf dit neer. Dit is ‘n goeie idee om dit op so ‘n manier te skryf dat jy dit agterna met iemand anders kan deel. Hoe meer jy dink oor wat jy skryf, hoe meer gaan jy daaruit leer.
STAP 5:
Vra die Heilige Gees om jou te wys hoe jy elke vers prakties in jou lewe kan toepas. Skryf dit neer. As Hy nie vir jou ‘n toepassing gee nie, maak ‘n aantekening. Probeer om later weer tyd aan die vers te spandeer, en gebruik dié keer die Oordenkingsmetode. Kyk wat jy nóg daaruit kan leer, en vra weer die Heilige Gees om jou te wys hoe jy dit jou lewe moet toepas.
Hierdie was dan die laaste artikel oor verskillende manier om Bybelstudie te doen. Ek vertrou dat jy iets daaruit geleer het, en dat jy die metodes wat ons bespreek het, met vrug sal kan gebruik tydens jou studies.