Na ek verskeie versoeke gekry het om te skryf oor hoe ‘n mens Bybelstudie kan doen, het ek ‘n paar weke gelede begin met ‘n reeks daaroor. Sover het ons gekyk na die beginsels van Bybelstudie en twaalf verskillende metodes wat jy kan gebruik wanneer jy jou Bybel bestudeer. Ons het ook in meer diepte gekyk na twee van die metodes, naamlik die Oordenkingsmetode en die Hoofstukopsommingsmetode.
Vandag gaan ons kyk na die Woordstudiemetode.
Benodigdhede:
‘n Paar verskillende Bybelvertalings
‘n Konkordansie
‘n Bybelwoordeboek of ensiklopedie
Woordstudies
‘n Afrikaanse woordeboek
Meeste hiervan, soos die Konkordansie en die Bybelwoordeboek, is aanlyn beskikbaar, maar dit is ongelukkig in Engels.
Notaboek en pen.
Wenke:
Hou in gedagte dat verskeie Afrikaanse woorde of frases gebruik mag word om ‘n enkele woord in die oorspronklike taal mee te vertaal.
Hoewel dit in Engels is, is Konkordansies soos Strong’s Exhaustive Bible Concordance of Young’s Analytical Concordance van groot waarde wanneer jy woordstudies doen.
Stap 1.
Kies die woord wat jy wil bestudeer.
Stap 2.
Soek die Afrikaanse definisie van die woord in die woordeboek en skryf dit neer.
Stap 3.
Dit is moontlik dat die oorspronklike woord nie in al die vertalings met dieselfde Afrikaanse woord vertaal is nie. Vergelyk hoe die woord in verskillende vertalings vertaal word. Skryf jou bevindinge neer.
Stap 4.
Soek die definisie van die oorspronklike woord op en skryf dit neer. Skryf ook neer of die oorspronklike woord in Hebreeus, Grieks of Aramees is.
Stap 5.
Gebruik jou Konkordansie om uit te vind waar die woord oral in die Bybel gebruik word. Beantwoord dan hierdie vrae.
Hoeveel keer is dit gebruik?
In watter boeke of briewe word dit gebruik?
In watter boek word dit die meeste gebruik?
Waar verskyn die woord die eerste keer?
Waar verskyn dit die eerste keer in die boek wat jy bestudeer?
Watter skrywers gebruik die woord?
Stap 6.
Vind uit hoe die woord ontstaan het en hoe dit in die kultuur van die dag gebruik is.
Stap 7.
Bepaal hoe die woord in die Bybel gebruik is en hoe dit deur die kultuur aan wie die oorspronklike boek of brief geskryf is, dit sou verstaan.
Stap 8.
Wat het God jou van hierdie woord geleer? Vra die Heilige Gees om jou te wys hoe jy dit wat jy geleer het, in jou eie lewe kan toepas en skryf dit neer.
Hier is ‘n lys van moontlike woorde wat jy kan bestudeer:
Aanbidding; Bekeer; Bely; Christus; Dissipel; Evangelie; Geloof; Genade; Guns; Here; Hoop; Immanuel; Kerk; Koninkryk; Liefde; Lig; Middelaar; Oordeel; Regverdig; Verbond; Versoening; Waarheid; Wysheid.
Jy kan ook baie leer deur ‘n Woordstudie te doen oor die verskillende Name van God wat in die Bybel gebruik word.