God se Woord was deur die eeue nog altyd van kardinale belang. Dit leer ons wie God is en wat Hy doen. Dit leer ons van Jesus, ons Verlosser en Koning. Dit leer ons wie ons in Hom is en hoe Hy wil hê ons moet leef. Dit leer ons van ons vyand en hoe ons hom in geloof en met die Woord moet teenstaan. God se beloftes aan ons is opgeteken in die Woord. Die Woord leer ons die waarheid sodat ons kan weet wanneer die duiwel en die wêreld vir ons ‘n leuen vertel. Al hierdie dinge, en soveel meer, is vir ons opgeteken in die Woord.
Ons moet egter die Woord lees en dit bestudeer om te weet wat daarin staan. Ons moet ook op die Heilige Gees vertrou om vir ons insig te gee sodat ons die Woord verstaan en weet hoe om dit, met Sy hulp, in ons lewens toe te pas.
In die vorige paar artikels, het ons gekyk na die beginsels van Bybelstudie en twaalf verskillende metodes wat jy kan gebruik om die Bybel te bestudeer. Daarna het ons in meer diepte gekyk na die Oordenkingsmetode. Dit is die eenvoudigste metode, maar die tegnieke wat jy daar leer, word gebruik in al die ander metodes.
Vandag gaan ons vir ‘n rukkie stilstaan by die Hoofstukopsommingsmetode.
Die doel van hierdie metode is om die inhoud van enige hoofstuk beter te verstaan deur dit ten minste vyf keer deur te lees, seker vrae wat verband hou met die inhoud te vra, en te eindig met ‘n opsomming van die inhoud.
Al wat jy nodig het is ‘n Bybel met kruisverwysings en ‘n notaboek en pen. (Baie Bybels het in die middel of aan die kant van die bladsy kruisverwysings wat dit makliker maak om verse wat met mekaar verband hou, op te spoor.)
Voor ek vir jou verduidelik hoe die metode werk, net eers die volgende wenke:
Lees uit ‘n Bybel wat nie notas bevat nie. Dit sal jou help om nuwe insig te kry
Lees die hoofstuk wat jy studeer deur sonder om te stop. Dit sal jou help om ‘n gevoel te kry vir die vloei van die hoofstuk.
Lees die hoofstuk in verskillende vertalings en maak aantekeninge oor verskille wat jy raaksien.
Dit is ook ‘n goeie idee om hardop te lees, want dit help jou om te konsentreer.
Reg, kom ons kyk nou hoe hierdie metode werk.
Stap 1. Opskrif.
Gee die hoofstuk ‘n kort, beskrywende opskrif. ‘n Opskrif wat kort is en ‘n duidelike beeld gee van die hoofstuk, is veral voordelig.
Stap 2. Inhoud.
Maak ‘n lys of samevatting van die hoofpunte van die hoofstuk.
Stap 3. Hoofkarakters.
Maak ‘n lys van die hoofkarakters in die hoofstuk. Dit mag dalk nodig wees om die vorige en volgende hoofstukke ook te raadpleeg.
Stap 4. Sentrale vers.
Kies ‘n vers wat betekenisvol is vir die hoofstuk, of wat jy dink wat belangrik is in die studie van die hoofstuk.
Stap 5. Belangrike woorde.
Maak ‘n lys van die sleutelwoorde in die hoofstuk.
Stap 6. Uitdagings.
Is daar iets in die hoofstuk wat jy nie verstaan nie, of moontlike vrae wat jy oor die hoofstuk het? Maak ‘n lys. Jy kan, na jy klaar is met jou studie, met hierdie lys na jou predikant gaan en hom vra om jou te help, of jy kan dit gebruik om verder te studeer en met die hulp van die Heilige Gees, self antwoorde op jou vrae vind.
Stap 7. Kruisverwysings.
Gebruik die kruisverwysings om ander verse in die Bybel te kry wat jou gaan help om hierdie hoofstuk te verstaan. Gebruik hierdie stappe:
Soek kruisverwysings in die boek waarin die hoofstuk voorkom.
Soek kruisverwysings in ander boeke deur dieselfde skrywer.
Vergelyk met kruisverwysings in die Ou Testament.
Vergelyk met kruisverwysings in die hele Bybel.
Daar is drie tipes kruisverwysings:
Verse wat dieselfde sê as die een wat jy studeer.
Verse wat die vers wat jy studeer illustreer.
Verse wat die teenoorgestelde sê van die vers wat jy studeer.
Stap 8. Christus geopenbaar.
Die hele Bybel is ‘n openbaring van Christus. Die Ou Testament wys na Hom. Die Evangelies gee besonderhede oor Sy aardse lewe. Handelinge en die briewe wys Sy aktiwiteit in die wêreld. Dit is dus moontlik om Sy teenwoordigheid oral in die Bybel raak te sien. Jou volgende stap is om neer te skryf wat jy leer in die hoofstuk wat jy studeer oor Jesus se aard, bediening of Persoon.
Stap. 9. Sentrale les/lesse.
Skryf die belangrike lesse wat jy uit die hoofstuk leer neer. Dit maak nie saak hoeveel keer jy ‘n spesifieke hoofstuk studeer nie, met die hulp van die Heilige Gees gaan jy elke keer ander lesse raaksien en insigte kry.
Stap 10. Persoonlike toepassing.
Hier skryf jy neer hoe jy wat jy geleer het, gaan toepas. Dit is baie belangrik om die Heilige Gees te vra om jou te help om die toepassings vir jou eie lewe raak te sien. Dit is ook belangrik om Hom te vra om jou te help om wat Hy jou wys, daadwerklik in jou lewe toe te pas. Sonder Sy hulp gaan jy dit nie regkry nie.
Aan die einde van jou studie behoort jy die inhoud van die hoofstuk beter te verstaan. Jy behoort ook te weet watter sleutelwoorde in die hoofstuk is en watter vers die sentrale punt van die hoofstuk is. Jy behoort meer oor Jesus te weet, asook watter sentrale lesse in die hoofstuk opgesluit is. En laaste, maar nie die minste nie, behoort jy te weet hoe die Here wil hê dat jy dit wat jy geleer het, met Sy hulp in jou eie lewe moet toepas.
Is die merk van die dier letterlik of word die merk van dier gesien as mense wat reeds GOD nie herken