PSALM 1: DIE REGVERDIGES – ‘N VOLG-STUDIE

Daar is twee paaie waartussen elke mens op hierdie aarde kan kies. Die een pad is die pad van God. Dis ‘n pad van gehoorsaamheid aan Hom, Sy wil en Sy weë. Dan is daar ook ‘n ander pad. Dis die pad van die wêreld en is ‘n pad van opstand, ongehoorsaamheid en vernietiging. God besluit nie namens ons watter pad ons kies om op te stap nie. Daardie keuse behoort aan ons alleen. Maar die keuse wat ons maak bepaal nie net die lewe wat ons hier leef nie, maar ook ons ewige bestemming.

In Psalm 1 sien ons dat die Psalmis twee groepe mense met mekaar vergelyk. Daar is die regverdiges, wat God se pad gekies het. Dan is daar ook die goddeloses, wat die pad van die wêreld gekies het. Vandag gaan ons die VOLG-metode gebruik om hierdie psalm van nader te bekyk en te sien wat die Here ons daaruit wil leer.

Psalm 1: Die Regverdige - 'n VOLG-studie

Ons begin met die V van VOLG. In hierdie eerste stap vra ons die Here vra om ons te help om raak te sien wat Hy ons wil leer, so kom ons bid saam.

Hemelse Vader, baie dankie vir elke geleentheid wat ons het om tyd saam met U in die Woord te spandeer. Dankie vir elke boek van die Bybel en dat U dit gebruik om Uself aan ons bekend te maak. Vandag bid ons soos Moses gebid het en ons vra, maak U wil aan ons bekend, sodat ons U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Ons bid dit in Jesus se heilige Naam. Amen.

Die tweede stap van die VOLG-metode is die O, waar ons die teks wat ons gaan studeer, ondersoek. As jy self hierdie metode in jou tyd met die Here gebruik, dan gaan jy die verse lees en dit dan woord-vir-woord in jou notaboek of joernaal neerskryf. Om dit neer te skryf, help jou om stadiger deur die teks te gaan, sodat jy regtig kan sien wat daar staan. Jy kan ook, as jy tyd het, neerskryf wat vir jou uitstaan in die gedeelte, sonder om in te veel detail in te gaan.

So, kom ons lees Psalm 1. Daar staan:

Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie,
maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.
Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.
So is die goddeloses nie. Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie en sondaars nie ‘n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.
Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad, maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.

As jy mooi gelees het, sal jy sien dat die psalmis sy gedagtes in drie maniere ontwikkel. In die verse 1-2 kontrasteer hy die twee weë waarvan ons netnou gepraat het. Dan gebruik hy in verse 3-4 twee beelde om die aard en waardes van die regverdige en die goddelose aan te dui. En laastens word God se oordeel in verse 5-6 uitgespreek.

Ons volgende stap is om te kyk wat se lesse ons uit die gedeelte kan leer. Vandag gaan ons net kyk wat ons kan leer oor die een wat kies om God se pad te volg. In die volgende artikel gaan ons gesels oor die lesse wat ons leer oor die een wat kies om die pad van die wêreld te stap en ook wat ons leer oor die oordeel van God.

Ons gaan ook sommer by elke les ook kyk na die G van VOLG, wat staan vir Gaan En Wees ‘n Doener Van Die Woord. Hier kyk ons hoe ons dit wat ons pas geleer het, in ons lewens kan toepas.

Die eerste les wat ek raaksien, is ‘n les oor invloed. Ons lewens word gevorm deur dit wat ons hoor en sien, wie ons toelaat om in ons lewens in te spreek en wie se voorbeeld ons volg.

In vers 1 sien ons hoe negatiewe invloed stadig maar seker veroorsaak dat ons al hoe dieper in sonde kan verval. In die 1953 vertaling van die Bybel staan in vers 1: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie…”

Dit begin by wandel in die raad, vorder na staan in die weg en eindig by sit in die kring. Sien jy hoe die sonde stadig insluit totdat dit nie net meer iets is wat jy soms doen nie, maar iets wat ‘n gewoonte geword het?

As ‘n mens dink aan dit wat jy toelaat om jou lewe te beïnvloed, dink meeste van ons seker aan groot dinge wat voor die handliggend is dat dit verkeerd is. Maar dis baie keer die klein, subtiele dinge wat ons wegtrek van die Here juis omdat ons nie eers agterkom hoe negatief dit ons beïnvloed nie.

Dink ‘n bietjie oor jou lewe. Watter stemme laat jy toe om in jou lewe in te spreek? Behoort daardie stemme aan mense en dinge wat God eer en jou nader aan Hom bring? Of is dit stemme wat jou negatief beïnvloed en veroorsaak dat jy afdwaal van die pad van God?

Watter stappe kan jy neem om van die negatiewe invloede ontslae te raak en net te fokus op stemme wat jou nader aan God bring?

Die tweede les wat ons uit Psalm 1 kan leer, is ‘n les oor vreugde. Ons is geneig om te dink dat ‘n mens vreugde in jou lewe het wanneer jou omstandighede maanskyn en rose is. Ons dink ook dat ‘n mens vreugde put uit dit wat jy besit, die werk wat jy doen, geleenthede wat jy kry, ervaringe wat jy het, ensovoorts.

Maar in hierdie psalm sien ons dat dit nie mense en dinge en goeie omstandighede is wat regtig vir ons vreugde moet gee nie, maar dat ons ons vreugde in God en Sy Woord moet vind. Ons moenie kies om die Bybel te lees net sodat ons dit van ons doen-lysie kan afmerk nie. Nee, ons moet kies om die Bybel te lees omdat ons tyd saam met die Here wil spandeer. Want dis wanneer ons tyd met Hom in Sy Woord spandeer, wat ons Hom beter leer ken en waar Hy begin om ons harte en gedagtes en so ook ons lewens te verander.

Dink weereens oor jou lewe. Het jy al die gewoonte aangeleer om elke dag tyd saam met die Here te spandeer? As jy ‘ja’ antwoord op dié vraag, waarom doen jy dit? Spandeer jy tyd met Hom omdat jy voel dis jou plig? Doen jy dit sodat jy dit van jou doen-lysie vir die dag kan afmerk? Of doen jy dit omdat jy regtig graag by die Here se voete wil sit en na Hom wil luister?

As jy nog nie gereeld tyd saam met die Here spandeer nie en jy het hulp nodig daarmee, kyk dan na die Stiltetyd Skatkis, wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. In dié skatkis is daar drie e-gidse wat jou gaan help om stil te word by die voete van Jesus, die VOLG-metode te gebruik om te hoor wat Hy deur Sy Woord vir jou wil sê en om in gebed met Hom te gesels. Maak dus sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel en kry jou Stiltetyd Skatkis sodat jy kan begin om tyd saam met die Here te spandeer.

In vers 2 leer ons nie net dat ons ons vreugde in die Woord moet vind nie, maar ook dat ons dit moet oordink.

Die woord “oordink” beteken om diep daaroor na te dink en dit in jou gedagtes om te rol sodat jy dit van alle kante kan bekyk. Die VOLG-metode, wat ons hier gebruik, is ideaal om jou te help om oor die Woord na te dink. Want ‘n mens kan vinnig ‘n paar verse lees en dan aangaan met jou dag, maar dan gaan jy nie veel uit die Woord kry nie en jy gaan ook nie groei nie. Of jy kan regtig stil word, met aandag lees, dink oor wat jy lees en dink oor hoe jy die lesse in jou lewe kan toepas. Wanneer jy kies om dít te doen, gaan jy groei en verander sodat jy meer soos Jesus word.

Spandeer elke dag tyd met die Here in Sy Woord. As daar ‘n vers of ‘n gedagte of ‘n les is wat vir jou uitstaan, skryf dit neer en dink deur die dag daaroor na.

Vra die Here om jou te wys wat jy daaruit moet leer en hoe jy dit wat jy leer in jou lewe moet toepas. Gaan dan en leef daardie les soos die Here jou wys jy dit moet leef.

In vers 3 kry ons ‘n sterk beeld van die lewe van ‘n regverdige. Daar staan so ‘n mens se lewe is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is. Die les wat ek daarin raaksien, is dat ‘n mens se lewe in God gewortel of geanker moet wees.

Dit laat my ook dink aan Jesus se woorde in Mattheus 7:24-27, waar Hy praat oor die twee fondamente. Hy sê die persoon wat sy lewe bou op God en die Woord, staan vas wanneer die lewensstorms hom tref. Maar die een wat nie bou op God en die Woord nie, se lewe stort in duie wanneer die lewensstorms om hom woed.

Waarop is jou lewe gebou? Is jy soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is? Is jou lewe gebou op Jesus en die Woord?

Antwoord hierdie vrae eerlik en praat dan met die Here daaroor. Vra Hom om jou te help om elke dag jou lewe te bou op Hom en Sy Woord, want Hy alleen is jou anker wanneer die lewensstorms dreig.

Een van die beelde van die lewe van ‘n gelowige, wat ons oor en oor in die Bybel kry, is die beeld van iemand wat vrug dra. Ook hier in Psalm 1 sien ons dat die een wat kies om God se pad te volg, iemand is wat vrug dra.

Maar let ‘n bietjie op. Daar staan nie net die een dra vrug nie; daar staan hy dra op die regte tyd vrug. In die natuur dra bome nie die hele jaar vrug nie, maar op die tyd wat God daarvoor bestem het. Die res van die tyd is die boom of in ‘n tyd van rus (winter) of ‘n tyd van voorbereiding (lente).

Dieselfde is waar in ons lewens. Wanneer ons getrou tyd met God in Sy Woord spandeer en ons lewenspad saam met Hom stap, dra ons vrug. Maar ons dra ook nie die hele tyd vrug nie, want vrug het tyd nodig om te groei. Soms is ons ook in ‘n tyd van rus, waar die vrug min is omdat ons nodig het om net by die Here te wees. Ander kere is ons in ‘n tyd van voorbereiding, waar die Here besig is om in ons te werk sodat ons kan groei en op die regte tyd vrug dra.

Ons hoef dus nie ongeduldig te raak wanneer ons nie dadelik vrug sien nie. Ons moet onthou dat dit die Here is wat die groei in ons lewens bring en ook dat dit Hy is wat die vrug deur ons dra. Onthou wat Jesus in Johannes 15 gesê het: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie” (vs.5).

Doen ‘n Bybelstudie oor die vrug van die Gees in Galasiërs 5:22-23. Vra die Here om jou te help om in Hom te bly sodat Hy vrug deur jou kan dra.

As jy vir mense vra waaraan hulle dink wanneer hulle die woord ‘voorspoed’ hoor, sal meeste antwoord hulle dink aan baie geld of goeie lewensomstandighede of sukses by die werk, ensovoorts. Maar dis nie waarvan die psalmis praat wanneer hy sê dat die regverdige voorspoedig sal wees in alles wat hy aanpak nie.

Ss ons alles wat ons nou al geleer het in gedagte hou, dan besef ons ware voorspoed is ‘n lewe wat in lyn is met God en dit wat Hy in Sy Woord vir ons sê. Dis ‘n lewe wat sin en doel het juis omdat die persoon die Here volg en Sy wil vir hom uitleef. Ware voorspoed is dus om te leef soos God wil hê en daarin seën te ervaar.

Waaraan dink jý wanneer jy die woord ‘voorspoed’ hoor? Glo jy ook die leuen van die wêreld dat voorspoed te doen het met sukses in jou finansies of by die werk of in jou lewensomstandighede? Wat kan jy doen om jou idee van voorspoed te verander sodat dit strook met wat God in Sy Woord daaroor sê?

Ons het nou die VOLG-metode gebruik om na die eerste drie verse van Psalm 1 te kyk. Ons het geleer ‘n geseënde lewe begin wanneer ons:

verkeerde invloede vermy terwyl ons die regte invloed kies;
ons vreugde vind in God se Woord;
diep nadink oor dit wat ons in die Woord leer;
en ’n lewe bou wat in Hom gewortel of geanker is.

Die gevolg?

Stabiliteit, groei, vrug en ‘n lewe wat regtig voorspoedig is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *