In Psalm 1 stel die psalmis vir ons twee paaie voor. Die een pad is God se pad – die regverdige stap op hierdie pad. Die ander pad is die pad van die wêreld – die goddelose stap op dié pad. In die vorige artikel het ons die VOLG-metode gebruik om te gesels oor die eerste drie verse van Psalm 1, die pad van God. Vandag gaan ons kyk na die volgende drie verse van hierdie psalm, die pad van die goddelose. As jy nie die eerste artikel gelees het nie, gaan lees dit gerus eers voordat jy terugkom om hierdie een te lees.

STAP 1: DIE V VAN VOLG.
Ons begin met V, die eerste stap van VOLG, wat staan vir Vra God Se Leiding. Dit beteken eenvoudig dat ons die Here vra om ons te help met ons tyd in Sy Woord. Sonder Sy hulp gaan ons nie die lesse in ‘n gedeelte raaksien nie. Ons gaan ook nie verstaan wat die lesse beteken nie – nie vir die oorspronklike lesers nie en ook nie vir ons nie.
So, kom ons bid saam:
Hemelse Vader, baie dankie dat ons weer tyd saam met U in die Woord kan spandeer. Dankie dat die Woord deur U geïnspireer is en dat nie net bedoel was vir die eerste hoorders en lesers nie, maar dat U ook met ons daardeur praat. Ons bid dat U ons sal help om te hoor wat U vir ons wil sê en dat U ons sal help om te verstaan wat elke les vir ons in ons eie lewens beteken. Ons bid dit in Jesus se heilige Naam. Amen.
STAP 2: DIE O VAN VOLG.
Die volgende stap is die O van VOLG, wat staan vir Ondersoek Die Teks. As jy self die VOLG-metode gebruik, dan sou jy nou die vers of verse waarna jy wil kyk ‘n paar keer deurlees voordat jy dit woord-vir-woord in jou notaboek of joernaal neerskryf. Dan sou jy ook in kort verduidelik waaroor die vers of verse waarna jy kyk, gaan. Dit help jou om stadig deur die teks te werk en om seker te maak jy verstaan regtig wat daar staan.
Kom ons lees wat staan in Psalm 1:4-6:
So is die goddeloses nie. Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie en sondaars nie ‘n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.
Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad, maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.
Ek het netnou genoem dat die psalmis vir ons twee paai voorstel: die pad van God en die pad van die wêreld. In verse 1 tot 3 het ons gesien wat die regverdige doen en wat die gevolg daarvan is. In hierdie drie verse vertel die psalmis vir ons dat die goddelose nie optree soos die regverdige nie. Hy skryf dan ook wat gebeur omdat die goddelose nie optree soos die regverdige nie.
STAP 3: DIE L VAN VOLG.
Nou gaan ons oor na stap drie van die VOLG-metode. Dis die L wat staan vir Let Op Die Lesse. Daar is ‘n hele paar lesse wat ons uit dié drie verse kan leer. Kom ons kyk na ses van hulle.
LES 1: DIE LEWE SONDER ‘N ANKER.
In die eerste plek sien ons dat ‘n lewe sonder God nie ‘n vaste fondament het nie. Die regverdige, wat sy lewe bou op God en die Woord, is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is. Bome het wortels wat hulle help met verskeie dinge van boomwees, onder andere om hulle te anker.
Die goddelose is egter nie geanker nie, want hy is soos kaf wat sommer deur die wind weggewaai word.
As God en Sy Woord dus nie ‘n mens se fondament of anker is nie, dan is jou lewe onstabiel en rigtingloos. Enige iets wat die lewe jou kant toe gooi kan jou van stryk bring en jou lewe as’t ware ‘omgooi’.
LES 2: SOMMIGE DINGE LYK NET NA LEWE.
Tweedens sien ons dat nie alle dinge wat lyk na lewe regtig waarde het nie.
Die kaf lyk aan die begin of dit deel is van die koring, maar dit het geen voedingswaarde nie. Dis dan ook waarom dit van die koring geskei word sodat net dit wat regtig waarde het, oorbly.
Die Bybel sê dat goddeloses se lewens baie keer lyk of dit voorspoedig is. Dit lyk of hulle baie sukses behaal en baie geld het en baie gelukkig is. Maar al het hulle al hierdie wêreldse dinge is hulle lewens eintlik leeg, want hulle lewe sonder God. ‘n Lewe wat betekenis het en wat regtig lewe is, is ‘n lewe wat gewortel is in die Here en Sy Woord.
LES 3: DAAR IS ALTYD GEVOLGE.
Of ons dit nou wil hoor of nie, ‘n mens se keuses in die lewe maak saak. Goeie keuses het gewoonlik goeie gevolge. Slegte keuses laat ‘n nare smaak in ‘n mens se mond omdat die gevolge gewoonlik nie so aangenaam is nie.
Die Here staan nie onverskillig teenoor hoe ons leef nie. Sommige van ons keuses gaan hier op aarde al negatiewe gevolge hê. Ander gaan dalk eers in die ewigheid gevolge hê. Maar wat ons moet onthou is dat daar ‘n dag van rekenskap gaan wees. En die goddelose gaan nie kan staande bly voor die Here nie.
Dit mag jou dalk nou so ‘n bietjie benoud maak, want almal van ons maak van tyd tot tyd verkeerde keuses. Maar die feit dat daar ‘n dag van rekenskap gaan kom is nie bedoel om ons bang te maak sodat ons nou in vrees moet lewe nie. Dis eerder ‘n uitnodiging om seker te maak ons praat met die Here oor ons keuses sodat Hy ons kan help om die regtes te maak. Dis dus ‘n uitnodiging om reg te leef.
LES 4: JOU PAD = JOU BESTEMMING.
Ek het nou al ‘n paar keer genoem dat daar twee paaie is waaruit ons kan kies. Die pad van God of die pad van die wêreld. Altwee hierdie paaie lei na ‘n eindbestemming en almal van ons kies op watter pad ons stap. Daar is nie een mens wat neutraal staan en nié op een van die paaie is nie.
Wanneer jy die dag kies om in Jesus as Verlosser te glo, begin jy op God se pad stap. Elke keuse wat jy verder maak, is ‘n bewys van watter pad jy gekies het om op te stap.
Die een wat God se pad kies, gaan by Hom in die hemel opeindig. Maar die een wat die wêreld se pad kies, gaan op die ou end vir ewig van God geskei wees en vir ewig sonder Hom moet leef.
Die pad wat jy stap bepaal dus wat jou eindbestemming gaan wees.
LES 5: GOD SE BETROKKENHEID.
In die eerste deel van vers 6 staan: “Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad…” Hy is dus baie persoonlik betrokke by elkeen wat kies om Hom te volg en Sy pad te stap.
Soms dink ons Hy kyk net van ver af na ons en ons lewens. ‘n Mens kan veral so dink wanneer dinge in jou lewe nou nie heeltemal uitwerk soos jy gehoop het nie en die lewensstorms oral om jou woed.
Maar dis ‘n leuen dat die Here in sulke tyd, of enige ander tyd, ver van ons af is. Hy is Immanuel, God by ons, wat belowe het om ons nooit te verlaat of in die steek te laat nie (Mattheus 1:23; Mattheus 28:20; Hebreërs 13:5). Hy ken almal wat aan Hom behoort en lei en beskerm dié wat Hom volg. Daar is dus sekuriteit in ‘n lewe saam met Hom, want Hy is oral in ons lewens betrokke.
LES 6: ‘N LEWE SONDER GOD IS ‘N LEWE VAN VERLIES.
In die tweede deel van vers 6 lees ons wat met die lewe van die goddelose gebeur. Daar staan sy pad lei tot ondergang. Sonder God is ‘n mens se lewe dus nie net onseker nie, maar dit loop menigmaal uit op verlies. Daardie verlies is die grootste wanneer die goddelose die dag te sterwe kom, want sy eindbestemming is die ewigheid sonder God.
Niemand van ons weet wanneer die laaste dag van ons lewens gaan aanbreek nie, maar as daardie dag aanbreek en jy het nie God se pad gekies nie, dan is jou tyd vir kies vir altyd verby. Dit is dus baie belangrik dat ‘n mens nóú reeds kies watter pad jy wil stap.
STAP 4: DIE G VAN VOLG.
Laastens kom ons by die G van VOLG, wat staan vir Gaan En Wees ‘n Doener Van Die Woord. God se Woord is nie net veronderstel om vir ons inligting te gee nie, dis ook veronderstel om ons te help om te verander. Dis dan ook waarom Jakobus in sy brief aan die kerk vir ons sê: “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.”
Elkeen van ons gaan dit wat ons geleer het op ‘n ander manier uitleef, omdat ons unieke mense met unieke omstandighede is. Maar hier is ‘n paar eenvoudige, konkrete idees vir hoe elke les toegepas kan word:
- Begin jou dag doelbewus met tyd saam met God in Sy Woord. Wanneer jy ‘n besluit moet neem, vra: Wat sê God se Woord oor hierdie situasie?
- Evalueer gereeld jou prioriteite. Waar spandeer jy jou tyd en energie? Vra jouself: Bou dit iets ewigs of net iets tydeliks? Kies om minder tyd af te staan aan dinge wat net met die hier en nou te doen het en spandeer meer tyd aan dit wat jou geloof bou.
- Voordat jy ‘n keuse maak, dink aan die langtermyn-gevolge. As jy ‘n verkeerde keuse maak en van die Here se pad afdwaal, bely dit gou en kom terug na Sy pad.
- Kyk eerlik na jou daaglikse gewoontes. Onthou, hulle wys op watter pad jy is. Vra jouself gereeld: Bring my gewoontes my nader aan die Here of trek dit my weg van Hom af?
- Begin ‘n geestelike joernaal waarin jy skryf hoe die Here jou help en jou lei. Dit bou vertroue wanneer jy sien hoe getrou Hy is en hoe nou Hy by jou lewe betrokke is.
- Herinner jouself gereeld daaraan dat hierdie lewe nie al is wat daar is nie. Gebruik hierdie waarheid as motivering om getrou te bly, selfs wanneer dit moeilik is.
KIES DIE REGTE PAD.
Psalm 1 laat ons nie net nadink oor twee paaie nie. Dit vra ons om te kies. Elke dag, in die klein en groot dinge van die lewe, stap ons die pad van die Here en kom nader aan Hom of ons stap die pad van die wêreld en beweeg verder van Hom af. Mag hierdie Psalm jou aanmoedig om doelbewus Sy pad te kies, jou lewe op Sy Woord te bou, en met vertroue te leef in die wete dat Hy jou lei, vandag en tot in die ewigheid.
MEER OOR DIE VOLG-METODE.
As hierdie manier van tyd in die Woord spandeer vir jou interessant is en jy wil meer weet oor die VOLG-metode, dan is Jesus, Die Bybel, En Jy net waarna jy op soek is. Dis die VOLG-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. In die e-gids leer jy nie net meer oor die stappe van die metode nie, maar ook hoe jy dit in jou stiltetyd en ook in jou Bybelstudietyd kan gebruik.
Maak dus sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel, kry jou VOLG-gids en begin tyd met Here in Sy Woord spandeer sodat jy jou lewe op Hom en die Woord kan bou en die pad van die regverdige kan volg!

