In Mattheus 7:24-29 lees ons waar Jesus die Bergrede afsluit met die lering dat ‘n verstandige man op die rots bou terwyl ‘n onverstandige man dit nie doen nie.
Die een wat op die rots bou se huis bly staan wanneer die storms dit tref. Die een wat nié op die rots bou nie, se huis tuimel egter inmekaar wanneer daar ‘n storm kom.
Ek is seker jy weet dat Jesus hier nie van ‘n fisiese rots, huis of storm praat nie.
Nee, die rots waarvan Hy praat verwys na die Woord van God. Die huis is ons lewens en die storm is al die probleme en dinge wat verkeerd kan gaan in hierdie lewe.
Nou is die vraag, hoe gaan ‘n mens te werk om jou lewe op die Woord van God te bou sodat jy enige lewensstorm kan weerstaan?
Jesus gee in die gedeelte vir ons twee sleutels om ons hiermee te help. Daar is nog twee ander sleutels, waarvan ons op ander plekke in die Bybel lees, wat ook belangrik is.
SLEUTEL 1: HOOR DIE WOORD.
Jesus gee die eerste sleutel vir ons in die eerste gedeelte van vers 24.
Daar staan: “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor…”
Ons moet dus, as ons ons lewens op die Woord wil bou, dit hoor.
Om die Woord te hoor kan verskeie dinge beteken.
Dit kan beteken ons lees of studeer dit.
Dit kan ook beteken ons luister daarna deur byvoorbeeld na die oudio-Bybel of na ‘n preek te luister of na ‘n video te kyk.
Enige manier wat ons gebruik om tyd in die Bybel te spandeer, val onder die idee van die Woord hoor.
Want ons moet weet wat in die Bybel staan voordat ons ons lewens daarop kan bou.
(As jy nog nie gereeld stiltetyd hou en so tyd met God in Sy Woord spandeer nie, loer dan na By Jesus Se Voete, die stiltetyd-gids in ons aanlyn-winkel. Dis dalk net wat jy nodig het om jou niermee te help.)
SLEUTEL 2: VERSTAAN DIE WOORD.
Die tweede sleutel wat ons nodig het om ons lewens op die Woord te bou, kry ons in die uitleg van die gelykenis van die saaier, soos ons dit lees in Mattheus 13:18-23.
In vers 19 sê Jesus dat ‘n persoon wat die Woord hoor dit moet verstaan ook, anders gaan die duiwel kom en dit wat hy gehoor het, wegvat.
Die tweede sleutel is dus om die Woord te verstaan.
Daar is weereens verskeie dinge wat ons kan doen om ons hiermee te help.
Die belangrikste is om elke keer, voor ons tyd in die Woord spandeer, die Heilige Gees te vra om ons te help verstaan.
Hy kan dit op verskillende maniere doen. Hy kan iemand, wat meer oor die Bybel weet as ons, gebruik om dit vir ons te verduidelik. Of Hy kan ‘n boek, ‘n artikel, ‘n video, ‘n preek gebruik om dit te doen.
En Hy kan ook, terwyl jy besig is met die Bybel, vir jou insig gee sodat jy net skielik verstaan wat ‘n gedeelte beteken.
SLEUTEL 3: DOEN DIE WOORD.
Die derde sleutel kry ons ook in Jesus se woorde in Mattheus 7. Ons kry dit ook in Jakobus 1:22.
In Mattheus 7:24 staan: “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel…”
En in Jakobus 1:22 staan: “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.”
As ons die Woord hoor en dit verstaan, dan weet ons wat ons veronderstel is om te doen.
As ons dan doen wat God vir ons gesê het, is ons besig om op die rots te bou.
Maar as ons nié doen wat ons uit die Woord geleer het nie, dan is ons soos die onverstandige man wat nie sy huis op die rots bou nie.
Een van ons gemeente se vorige predikante het graag gesê, “When you know better, do better.”
Dit is hoe ons op die rots bou – deur te doen wat ons uit die woord leer of, anders gesê, deur dit toe te pas.
SLEUTEL 4: GLO DIE WOORD.
Dan is daar ‘n vierde sleutel wat ek wil byvoeg en dit is om die Woord wat jy hoor, te glo.
Jy sien,’n mens kan die Woord hoor en dit selfs verstaan, maar as jy dit nie glo nie, gaan jy dit in elk geval nie in jou lewe toepas nie.
Ons lees daarvan in Romeine 10:14. Daar staan: “Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?”
Sien jy die stappe? ‘n Persoon kan net in Jesus as Verlosser glo wanneer hy die boodskap oor Hom hoor, dit glo en Hom dan aanroep.
Dieselfde is waar van die hele Bybel. Ons moet God se boodskappe daarin hoor, dit glo en verstaan dan in ons lewens toepas.
As ons hierdie dinge doen, dan bou ons ons lewens op die rots.
En dan kan enige lewensstorm maar kom, ons sal kan staande bly omdat ons lewenshuis op God se Woord gebou is.