As jy vir gelowiges vra waarmee hulle sukkel wanneer hulle tyd met God spandeer, dan is baie se antwoord dat gebed nogal vir hulle ‘n struikelblok is. Maar dit hoef nie ‘n probleem te wees nie, want daar is verskeie metodes wat ‘n mens kan gebruik om jou te help wanneer jy bid. Vandag wil ek dan ook so ‘n maklike gebedsmetode met jou deel.
Hierdie metode gaan jou help om, in die eerste plek, op God te fokus.
Dit gaan jou ook help om dinge raak te sien waarvoor jy God kan dank.
En dit gaan jou help om ‘n bietjie meer gefokus vir jouself en vir ander mense te bid.
HOE DIE METODE WERK.
Hierdie maklike gebedsmetode word sommer nog makliker omdat ons die letters van die alfabet gaan gebruik om ons te help om God te loof en prys, vir Hom dankie te sê en vir enige behoeftes te bid.
STAP 1: ‘N BIETJIE DINKWERK.
Voor jy bid gaan jy eers ‘n paar minute opsy sit om te dink en ‘n lysie te maak.
Dit gaan jou help om, wanneer jy bid, presies te weet waaroor en waarvoor jy gaan bid.
GOD SE KARAKTER.
Ek het gesê jy gaan die alfabet vir hierdie gebedsmetode gebruik, so begin met die letter ‘A’.
Dink aan ‘n karaktereienskap van God, wat jy al van gehoor het, wat met ‘A’ begin. Dit kan iets wees soos alomteenwoordig, alwetend, almagtig, ensovoorts. Skryf die eienskap wat jy kies in jou notaboek of joernaal neer.
Volgende gaan jy nadink oor die karaktereienskap van God, wat jy gekies het.
Vra jouself vrae soos: Wat beteken dit vir my dat God hierdie eienskap het? Waar het ek dit al voorheen in my lewe ervaar? Het ek al gesien hoe God hierdie karaktereienskap van Hom in iemand anders se lewe gebruik?
Skryf weer jou antwoorde op hierdie vrae in jou notaboek of joernaal neer.
DINGE WAARVOOR JY DANKBAAR IS.
Volgende gaan jy nadink oor dinge, wat met ‘A’ begin, waarvoor jy dankbaar is.
Dit kan iets wees wat God deur Jesus vir alle gelowiges gedoen het.
Of dit kan iets wees wat God die afgelope tyd vir jou in jou lewe gedoen of gegee het.
Dit kan selfs iets wees wat God vir iemand wat jy ken gedoen of gegee het.
Maak ‘n lysie van die dinge waarvoor jy dankbaar is, wat met ‘A’ begin, in jou notaboek of joernaal.
DINGE WAARVOOR JY WIL BID.
Laastens gaan jy dink oor behoeftes wat jy, of ander het, wat met ‘A’ begin.
Probeer om aan geestelike sowel as fisiese behoeftes te dink. Skryf ook hierdie lysie neer.
STAP 2: BID.
Noudat jy ‘n bietjie gedink en lysies gemaak het, is dit tyd om te bid.
Begin jou gebed deur op die karaktereienskap van God, wat jy gekies het, te fokus.
Sê vir Hom dankie dat Hy daardie karaktereienskap het. Sê vir Hom dankie vir die kere wat jy die eienskap van Hom in jou lewe gesien en ervaar het.
Loof en prys Hom omdat hierdie karaktereienskap deel is van Wie Hy is.
Volgende gaan jy vir Hom dankie sê vir al die dinge wat met ‘A’ begin, wat jy op jou lysie geskryf het.
En laastens gaan jy bid vir al die behoeftes wat met ‘A’ begin, wat op jou lysie is.
Jy kan jou gebed afsluit deur weer te fokus op God se karaktereienskap. Vra Hom om iewers deur die dag daardie spesifieke eienskap van Hom in jou lewe te gebruik. Vra Hom ook om jou te help om dit raak te sien, sodat jy vir Hom kan dankie sê daarvoor.
DIE RES VAN DIE ALFABET.
Dit is dan hoe hierdie maklike gebedsmetode werk.
Die volgende keer wat jy stiltetyd hou, kan jy ‘n ander karaktereienskap van God kies, wat ook met ‘A’ begin. Onthou om ook weer ‘n lysie te maak van dinge wat met ‘A’ begin waarvoor jy dankbaar is en waarvoor jy wil bid.
Na jy al die ‘A’-eienskappe gebruik het, kan jy aangaan na eienskappe wat met ‘B’ begin. Hou so aan totdat jy deur die hele alfabet gebid het.
As jy wil, kan jy natuurlik ook een hele dag opsy sit om hierdie verskillende lysies te maak. Dan kan jy in jou stiltetyd net met ‘n lysie gaan sit en begin bid.
(Daar gaan dalk van die letters wees waarvoor jy nie regtig woorde gaan kry nie – ‘n letter soos ‘Q’, byvoorbeeld. As jy by so ‘n letter kom en jy kan aan geen woord dink nie, los dit uit en gaan aan na die volgende letter.)
PROBEER DIT!
Ek wil jou vandag uitdaag om hierdie maklike gebedsmetode in jou stiltetyd te probeer.
As jou gedagtes geneig is om te dwaal wanneer jy bid, dan kan hierdie metode jou help om met meer fokus te bid omdat jy klaar ‘n idee het van waarvoor en waaroor jy wil bid.
Dit kan jou ook help om vir dinge, waaraan jy nog nooit voorheen gedink het nie, te bid.
En natuurlik gaan dit jou help om dinge, wat jy dalk as vanselfsprekend aanvaar het, raak te sien sodat jy die Here daarvoor kan dankie sê.
So begin sommer vandag nog volgens hierdie metode bid. Jy sal sien hoe dit die tyd wat jy saam met God spandeer verryk en hoeveel makliker dit gaan word om te bid.
Hi Risa.
Ek geniet jou stukkies baie en leer baie waaoor jy skryf. ek wil graag uitvind of jy nie dalk iets kan skryf oor Ouerskap nie?
Hallo Shaun. Ek is bly die artikels beteken iets vir jou. Ek het self nie kinders nie, so om oor ouerskap te skryf gaan nie vir my maklik wees nie, maar ek sal kyk wat ek kan doen.