LEWENSSEISOENE: HOE OM IN ELKEEN TE FLOREER

Jy het seker, toe dit vroeër die jaar herfs geword het, gesien hoe die bome se blare verander het. Oral tussen die groen blare kon ‘n mens geel, rooi, bruin en soms selfs oranje blare sien.

Aan die ander kant van die wêreld was dit ‘n ander seisoen en daar het die bome weer begin om nuwe blare en blommetjies te kry.

God het die natuur darem so wonderlik gemaak, dat daar elke drie maande ‘n ander seisoen is waar dinge anders lyk en ander dinge gebeur.

Lewensseisoene: Hoe om in elkeen te floreer

Dieselfde is waar van ons lewens.

Ons is ook elke nou en dan in ‘n ander seisoen. Sommige van dié seisoene lyk na lente en somer, want dinge in ons lewens is voorspoedig, daar is groei en vooruitgang. Ander seisoene lyk na herfs en winter, want daar is seerkry, swaarkry en soms selfs dood in daardie seisoen.

In die herfs- en winterseisoene van die lewe mag dit lyk asof ons lewens stilstaan, dalk selfs agteruitgaan.

Maar het jy geweet dis moontlik om in elke lewensseisoen te floreer? Ja, selfs in die seisoene wanneer dinge nie so rooskleurig is nie, kan ek en jy as kinders van God steeds floreer.

Hoe doen ons dit?

Psalm 52:10-11 gee ons die antwoord.

Daar staan: Maar ek is soos ‘n welige olyfboom in God se huis; ek stel my vertroue in God se troue liefde, vir altyd en altyd. Ek sal U vir altyd prys omdat U opgetree het. In die teenwoordigheid van u getroue volgelinge vestig ek my hoop op u Naam, want dit is goed.

In die twee verse sien ons drie dinge wat ons kan doen om seker te maak ons floreer, ongeag watter een van die lewensseisoene ons tans beleef.

    Iemand wat elke dag sy vertroue in God se troue liefde stel, gaan floreer.

    Onthou, daar is niks wat jou van God se liefde vir jou kan skei nie. Selfs die negatiefste ding wat met jou kan gebeur, kan nie God se troue liefde vir jou ongedaan maak nie.

    Hy het jou lief en sal altyd, in elke omstandigheid, alles vir jou ten goede laat meewerk.

      God is altyd besig om op een of ander manier in ons lewens te werk.

      Soms sien ons dit nie raak nie, maar dit beteken nie Hy is nie besig met ons en in ons nie!

      Daarom kan ons altyd vir Hom dankie sê en Hom loof en prys vir wat Hy reeds vir ons gedoen het.

      Dit sal ons help onthou dat Hy getrou is en dat Hy, wat Hy in die verlede gedoen het, ook in die hede en in die toekoms sal doen.

        Onthou jy toe God aan Moses in die brandende bos verskyn het? Daardie dag het Hy vir Moses gesê Sy Naam is ‘Ek Is Wie Ek Is’.

        Vir my beteken daardie Naam van God dat Hy altyd getrou bly aan Sy karakter. Hy verander nooit. En daarom kan ons op Hom hoop.

        Romeine 8:24 en 25 leer ons dat ons hoop op dié dinge wat ons nog nie kan sien, want dan wag ons met volharding daarop.

        As ons dus wil floreer, moet ons aanhou glo en vertrou dat God op die regte tyd in ons lewens sal doen wat Hy beplan het om te doen. Ons moenie moed opgee wanneer dit lyk asof niks gebeur nie.

        Ons moet bly hoop op die Een wat nooit verander nie.

        Ek weet nie in watter een van die lewensseisoene jy nou is nie, maar ek wil jou daaraan herinner dat God by jou is. Onthou dat Hy altyd in beheer is en dat Hy altyd alles vir Sy kinders ten goede laat meewerk.

        Baie seën vir jou en onthou om te vertrou in God se liefde vir jou, te hoop op Sy Naam en altyd dankbaar te wees vir wat Hy doen. Doen dít jy sal floreer in elke seisoen van jou lewe!

        Leave a Reply

        Your email address will not be published. Required fields are marked *