Hier is 7 maniere wat jy kan gebruik om die meeste uit elke kerkdiens wat jy bywoon, te kry.
Het jy al iemand hoor sê dat hy nie veel uit ‘n kerkdiens gekry het nie? Baie mense kan nie ná ‘n kerkdiens vir jou sê waaroor die dominee gepreek het nie. Vir hulle is om kerk toe te gaan net iets om van hulle weeklikse ‘doen-lysie’ af te merk.
Maar wat as ons die hele manier hoe ons ‘n kerkdiens benader, verander?
Vandag wil ek vir jou ‘n paar wenke gee wat jy kan gebruik om die meeste uit ‘n kerkdiens wat jy bywoon, te kry.

NOMMER 1: WEES VOORBEREID.
Sommige gemeentes stuur gedurende die week die gedeelte waaruit daardie Sondag gepreek gaan word, aan die gemeentelede.
As dit in jou gemeente die geval is, maak ‘n tydjie om die Skrifgedeelte ‘n paar keer deur te lees voor jy Sondag kerk toe gaan. Skryf ook sommer neer wat die Here jou daaruit leer.
NOMMER 2: BID.
Meeste van ons vergeet om te bid vir Sondag se erediens. Begin om elke week vir jou predikant, die leiers in jou gemeente en ook die erediens te bid.
Vra die Here om die regte boodskap vir die predikant te gee, sodat Hy deur hom of haar praat. Vra Hom ook om jou hart voor te berei, sodat die Woord wat in jou hart gesaai word, op goeie grond val. En vra Hom om jou te help verstaan presies wat Hy vir jou deur die boodskap wil sê.
NOMMER 3: WEES BETYDS.
Om almal gereed te kry om iewers heen te gaan kan op die beste van tye ‘n moeilike proses wees. Maar Sondae is gewoonlik die ergste! Hoekom? Want die duiwel hou daarvan as ons so gejaagd is wanneer ons by die kerk kom, dat ons aandag nie regtig is by dit waarmee ons besig is nie.
Maak dus ‘n punt daarvan om betyds op te staan sodat daar genoeg tyd is om almal gereed te kry. Maak ook seker daar is ‘n bietjie ekstra tyd vir dié dae wat dinge skeefloop.
Besluit die vorige aand reeds wat almal gaan aantrek. Op dié manier kan jy seker maak almal se klere is gestryk en reg om aan te trek en jy gaan nie nodig hê om een van die kinders se verlore skoene te soek nie.
As dit moontlik is, maak sommer die vorige aand al die ontbyt wat die gesin gaan eet. Almal kan hulleself dan help sonder om vir ma te wag om eers ontbyt voor te berei.
En as jy ‘n Bybel en notaboekie en pen saamvat kerk toe, maak seker jy weet waar dit is.
NOMMER 4: VERWAG OM IETS TE ONTVANG.
In 2 Timotheus 3:16-17 lees ons dat elke Skrifgedeelte deur God geïnspireer is. Dit is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing en opvoeding om God se wil te gehoorsaam.
Deur die Woord rus God ons toe vir die goeie take wat Hy vir elkeen van ons het. God wil dus die boodskap wat jy by die kerk hoor, in jou lewe gebruik.
Hy kan dit gebruik om jou ‘n waarheid te leer. Of Hy kan dit gebruik om jou te wys waar jy besig is om die pad byster te raak. Hy kan dit ook gebruik om jou te wys hoe om ‘n sekere situasie volgens Sy wil te hanteer.
Jy moet dus met ‘n verwagting kerk toe gaan. Gaan met die verwagting dat jy iets van God gaan ontvang.
Selfs al dink jy die boodskap is nie vir jou bedoel nie, kan jy altyd iets daaruit haal wat wél op jou van toepassing is.
NOMMER 5: NEEM DEEL AAN DIE DIENS.
‘n Mens gaan nie veel uit ‘n erediens kry as jy nie daaraan deelneem nie. Om die meeste uit ‘n diens te kry moet jy in gees, siel en liggaam teenwoordig wees en deelneem.
Moenie dink aan wat jy vir middagete gaan voorberei terwyl die res van die mense besig is om God met sang te loof nie. Sing saam met hulle! Lig jou hande, maak jou oë toe – doen wat jy ookal wil om God met jou alles te loof en prys.
Maak seker jy fokus op die Here. Vergeet van die mense rondom jou en van alles wat jy in die volgende week moet doen.
NOMMER 6: MAAK NOTAS.
Die beste manier om gefokus te bly tydens ‘n preek is om notas te maak. Jy hoef nie elke woord wat die predikant sê neer te skryf nie, maar skryf dié dinge neer wat vir jou uitstaan.
Lees gedurende die week weer deur jou notas en dink oor wat jy in die diens geleer het. Vra die Heilige Gees om jou te help om dinge raak te sien wat jy dalk in die diens gemis het.
NOMMER 7: LOS JOU FOON UIT.
Maak seker dat jy voor die diens jou foon op ‘silent’ sit sodat jy kan luister na wat in die diens gesê word.
Sommige mense gebruik hulle fone om notas te neem of die Bybel te lees, en dis goed, maar moenie jou tyd in die kerk gebruik om te kyk wat jou vriende op Facebook ‘gepost’ het nie.
Vergeet vir ‘n rukkie van jou foon. Onthou, al jou boodskappe sal ná die diens steeds daar wees vir jou om te lees.
Ek vertrou dat hierdie wenke jou gaan help om die meeste uit elke kerkdiens wat jy bywoon, te kry. As jy in ‘n seisoen is waar van hierdie wenke nié gaan werk nie, gebruik dan die wat wel gaan werk.
Baie seën vir jou en mag jy van nou af elke keer wat jy ‘n kerkdiens bywoon, die meeste daaruit kry wat jy kan!