ORDE IN JOU GEESTELIKE LEWE

Dit is oor ‘n paar weke alweer Septembermaand, wat beteken dis die begin van lente. Baie vrouens het die gewoonte om in die lente ‘n groot huisskoonmaaksessie te hê, wat almal sommer ‘spring cleaning’ noem.

So ‘n huisskoonmaaksessie is gewoonlik groot werk, maar as jy die dissipline aan die dag lê om dit te doen, het jy agterna ‘n huis wat in orde is en waar alles mooi silwerskoon is. En as jy nog bietjie dissipline aan die dag lê, is dit nie so ‘n groot werk om die huis na so ‘n skoonmaaksessie in orde en skoon te hou nie.

Jy het dalk nog nooit daaraan gedink nie, maar net soos ‘n mens elke nou en dan moet seker maak jy doen wat nodig is om die huis in orde te kry, moet ons as gelowiges ook seker maak ons doen wat nodig is om ons geestelike lewens in orde te kry.

Baie gelowiges wil graag ‘n intieme verhouding met God hê en deur Hom gebruik word, maar daar is min wat bereid is om te doen wat gedoen moet word om hierdie doelwitte te bereik.

Dis interessant dat ‘n mens nie enige spesiale talente en gawes nodig het om jou huis skoon te maak en in orde te hou nie. Enige gewone mens kan dit doen.

Dis ook waar van ons geestelike lewens. Enige gelowige, wat sy hart daarop sit om dit te doen, kan sy geestelike lewe in orde kry. Al wat nodig is, is die besluit dat jy dit gaan doen en die dissipline om die werk wat nodig is, te doen.

Orde in jou geestelike lewe

Voor jy egter aan jou geestelike lewe kan begin werk, is dit belangrik om uit te vind waar jy op die stadium in jou geestelike lewe staan. Jy kan Joshua 24:14-15 gebruik om jou daarmee te help.

In hierdie verse lees ons die volgende uitdaging, wat Joshua vir die Israeliete gegee het: Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af van die gode wat julle voorvaders anderkant die Eufraat en in Egipte gedien het, en dien die Here. Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.

Vra jouself die volgende vrae na aanleiding van hierdie verse:

  1. Is om die Here te dien iets wat ek graag wil doen, wat ek met ander woorde goedvind, of is dit nie regtig vir my belangrik nie?
  2. Betoon ek eerbied aan die Here en dien ek Hom met opregtheid en trou of doen ek dit omdat ek voel dis my plig of om ander gelowiges te probeer beïndruk?
  3. Is ek bereid om ontslae te raak van enige ander ‘gode’, wat my aandag van God aftrek?

Vra die Here om met jou te praat en jou te lei terwyl jy oor hierdie vrae nadink.

Na jy hierdie vrae eerlik geantwoord het, kan jy die volgende wenke gebruik om vir jou ‘n aksieplan uit te werk.

‘n Mens kan soms blind wees vir die dinge in jou eie lewe, wat ‘n probleem is.

Vra die Here om jou wysheid te gee sodat jy raaksien watter dinge in jou lewe jy van moet ontslae raak.

Onthou ook om Hom te vra om jou die moed te gee om aan Hom gehoorsaam te wees en uit jou lewe te sny wat Hy jou wys nie daar hoort nie.

Soms is dit nodig om hulp van buite te kry, om jou geestelike lewe in orde te kry.

Dalk moet jy gaan vir berading.

Of dalk moet jy gaan raad vra by die dominee van jou gemeente.

Dalk het jy net iemand nodig wat gereeld vir jou kan bid.

Dit maak nie saak watter tipe hulp jy nodig het nie, moenie skaam wees om daarvoor te vra nie.

Maak ‘n lys van aktiwiteite, verhoudings, besittings en houdings wat jy het, wat jou verhouding met die Here benadeel.

Vat hierdie lysie na die Here toe, erken dit teenoor Hom en begin daaraan werk om op ‘n goddelike manier van hulle ontslae te raak.

Moenie probeer om jou hele lewe in een dag te verander nie. Begin met dit wat vir jou die belangrikste is.

Werk daaraan tot jy dit uitgesorteer het voor jy aanbeweeg na die volgende ding.

Sonder die nodige beplanning gaan jy nie maklik jou geestelike lewe in orde kry nie. Maak dus seker jy weet presies wat jy wil doen.

Dalk wil jy meer tyd met God spandeer. Maak dan seker jy skryf daardie afspraak met God in jou dagboek neer en dat jy dit getrou nakom.

Of dalk wil jy by ‘n Bybelstudie aansluit. Vind dan uit watter Bybelstudiegroepe in jou omgewing bymekaar kom en besluit by watter een jy gaan aansluit. Maak dan seker dat jy elke week voorberei vir Bybelstudie en dat jy ook opdaag vir die byeenkomste.

Dalk moet jy iemand gaan sien om jou met jou geestelike lewe te help. Vind uit wie daar is wat kan help, vra die Here om jou te help om die regte persoon te kies, maak ‘n afspraak en kom dit na.

Ek het netnou genoem dat dit, met die nodige dissipline, nie so ‘n groot werk is om jou huis na ‘n groot skoonmaaksessie in orde en skoon te hou nie.

Dis ook waar van jou geestelike lewe. As jy eers die werk gedoen het om dit in orde te kry, dan gaan jy met die nodige dissipline dit makliker in orde hou.

So, werk vir jou ‘n instandhoudingsplan uit om jou daarmee te help. Vra die Here om jou te help met hierdie plan, want elke mens se instandhoudingsplan gaan uniek wees.

Maak ook ‘n punt daarvan om gereeld saam met die Here na te dink oor jou geestelike lewe, sodat jy kan sien of jy nie dalk iewers besig is om weer die pad byster te raak nie.

As jy nog hulp nodig het met vrae en wenke wat jy kan gebruik om jou geestelike lewe in orde te kry, kan jy gerus hierdie artikels lees:

16 Vrae Vir Geestelike Groei

Geestelike Doelwitte Vir Die Jaar

Geestelike Dissiplines vir 2023 (of enige jaar daarna!)

One thought on “ORDE IN JOU GEESTELIKE LEWE

  1. Ek sal voorstel ja asb ek is so dankbaar date die Here Jesus Christus u op my pad in media gestuur ht dt was alles indie plan van God Vir u hulpbron in leering ek benodig onderwyse in God se Wyse en wandel ek dien die Leidsman en moet my oe gevestig hou op Hom vir meer insig en wysheid Vir siel saligheid Amen

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *