IS JOU HOOP OP GOD, DIE BRON VAN HOOP?

Daar is baie dinge waarop mense hulle hoop plaas. Maar God alleen kan ware hoop gee, want Hy is die bron van hoop. Is jou hoop op God?

Ons het almal hoop nodig.

Sonder hoop stort die wêreld rondom ons in duie en ons sien geen toekoms of enige rede om aan te gaan nie.

Maar waarin plaas ons ons hoop?

Of in wie plaas ons ons hoop?

Die Bybel praat van verskeie dinge waarin ‘n mens jou hoop kan plaas. Sou jy egter jou hoop op sommige van dié dinge plaas, gaan jy bitter teleurgestel word.

Is jou hoop op God?

HOOP OP RYKDOM.

Die eerste ding waarop baie mense hulle hoop plaas, is op rykdom en geld.

Maar in 1 Timotheus 6:17 word ons gewaarsku om dit nie te doen nie: “Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.”

Geld en rykdom is iets wat baie onseker is.

Jou bankrekening kan vandag amper oorloop van geld, maar môre gebeur iets wat jy nie verwag het nie, en jy verloor alles.

Om dus jou hoop op geld te plaas, is ‘n mors van tyd.

HOOP OP ANDER MENSE.

Dan is daar ook diegene wat hulle hoop op ander mense plaas.

Soms is die ‘ander mense’ die regering of die maatskappy waarvoor hulle werk.

Dit kan ook ‘n familielid of vriend wees.

Dit maak egter nie saak wie die mens of mense is op wie jy jou hoop plaas nie, die Bybel waarsku ons weereens dat dit nie ‘n goeie idee is nie.

In Psalm 146:3-4 lees ons: “Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ‘n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen.

Mense is feilbaar en kan jou maklik teleurstel.

Hulle belowe jou enige iets onder die son, maar baie keer kom daar niks van die beloftes nie.

Dit is dus ook ‘n mors van tyd om jou hoop op mense te plaas.

HOOP OP AFGODE.

En dan is daar diegene wat hulle hoop op een of ander afgod plaas.

‘n Afgod is nie net die gewone dinge waaraan ‘n mens dink wanneer jy die woord ‘afgod’ hoor nie.

Dis nie net die beelde wat mense aanbid of die gode van ander godsdienste nie.

‘n Afgod is enige iets wat ons in God se plek, of voor Hom, stel.

In Jesaja 40:19-20 staan daar: “‘n Beeld word deur ‘n ambagsman gegiet en deur ‘n smid met goud oorgetrek en met silwerkettinkies versier. Wie te arm is vir so ‘n offer aan sy god, kies hout wat nie vrot nie en soek vir hom ‘n bedrewe ambagsman om vir hom ‘n beeld te maak wat nie omval nie!”

En dan kry ons hierdie waarskuwing in Habakuk 2:18: “Wat is die nut van ‘n afgod? Dit is maar net iets wat deur ‘n mens gemaak is, ‘n beeld waarvan net bedrog te wagte kan wees. Wat baat dit die maker om op sy maaksel te vertrou as hy ‘n afgod gemaak het wat nie eens kan praat nie?”

WAAROP MOET ONS HOOP?

Geld, mense, en verskillende afgode… as ons eerlik is, sal elkeen van ons moet erken dat ons al soms ons hoop op hierdie dinge geplaas het.

Die Bybel waarsku ons teen die dinge wat ons gaan teleurstel as ons op hulle hoop.

Dit is egter nie al wat die Bybel doen nie.

Dit leer ons ook waarop ons kan, en moet, hoop.

WAT DIE BYBEL LEER.

Kyk ‘n bietjie wat die volgende verse leer aangaande waarop ons ons hoop moet plaas.

Psalm 43:5 (OAV): “Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig en my God!”

Psalm 42:6 (OAV): “Wat buig jy jou neer, o my siel, en is jy onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof – die verlossing van sy aangesig!”

Psalm 71:5: “…want U , Here, U is my hoop, op U, Here, het ek van jongs af vertrou.”

2 Thessalonisense 2:16-17: “En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons Sy liefde bewys en aan ons deur Sy genade ‘n blywende troos en goeie hoop gegee.”

Romeine 15:13: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”

HOOP OP GOD.

Daar is net een Persoon wat ons ware hoop kan gee – God.

Anders as mense, sal Hy ons nooit teleurstel nie.

Hy maak nooit ‘n belofte wat Hy nie nakom nie, want Hy is getrou.

Hy is ewig en sal steeds daar wees selfs na alle ander dinge in duie gestort het.

Plaas dus jou hoop op God.

Hy is die bron van hoop.

Erken elke dag dat Hy jou hoop is, dat jou hoop op Hom gevestig is.

En deur die krag van die Heilige Gees sal jou hoop al hoe sterker word!

LEES OOK: 15 VERSE OOR GOD SE NABYHEID EN SORG

BYBELLEESPLAN OOR HOOP.

Ons het al voorheen ‘n Bybelleesplan oor hoop gehad.

Ek kom egter uit gesprekke agter daar is baie mense, ook Christene, wat besig is om hoop te verloor.

Om jou te help om weer jou oë op God die Vader, en Jesus ons Here, te vestig, sodat jy weer hoop kan hê, gaan ons in Februarie weer ‘n Bybelleesplan oor hoop hê.

As jy deur die leesplan wil werk, vul jou besonderhede in die vorm hieronder in. Jy sal dan ‘n skakel ontvang waar jy hierdie leesplan, asook enige van die ander wat reeds geplaas is, kan aflaai.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *