OM DANKBAAR TE WEES EN DANKIE TE Sê

Die Here verwag van ons as Sy kinders om dankbaar te wees vir alles wat ons uit Sy hand ontvang. In hierdie artikel gesels ons oor dankbaarheid en danksegging.

Om dankbaar te wees en dankie te sê

Dit is aan die einde van die maand weer ‘Thankgiving’ in Amerika.

Hoewel dit nie iets is wat hier by ons gevier word nie, beteken dit nie ons het niks om voor dankbaar te wees nie!

Die Here seën ons elke dag met soveel dinge waarvoor ons dankbaar kan, en moet, wees.

Vandag gaan ons dus ‘n bietjie gesels oor dankbaarheid en danksegging.

DANKBAARHEID KAN JOU LEWENSUITKYK VERANDER.

Robin Long van The Balanced Life het jare gelede, tydens ‘n moeilike tyd in haar lewe, begin om elke dag ‘n paar dinge neer te skryf waarvoor sy dankbaar was. Sy doen dit vandag nog en getuig dat dit haar baie gehelp het.

Sy het gekies om te fokus op die dinge waarvoor sy dankbaar was. Dit het haar gesindheid verander. Sy het meer vreugde en minder stres begin ervaar.

Hierdie gewoonte het haar geleer om to fokus op die goeie dinge te midde van slegte omstandighede.

‘n Paar jaar gelede het sy ‘n miskraam gehad. Dit was ‘n moeilike tyd vir haar, maar sy was dankbaar vir haar ander twee kinders, asook vir God se genade. Sy was ook dankbaar vir hoe die hele situasie verloop het, want dit kon soveel erger gewees het.

Haar storie is baie bemoedigend en dit wys vir ons hoe dankbaarheid ‘n mens se lewensuitkyk kan verander.

OM DANKBAAR TE WEES.

Daar is meer as vers in die Bybel waar God ons opdrag gee om dankbaar te wees.

In Filippense 4:6 sê Hy dat ons oor niks besorg moet wees nie. Wat ons moet doen is om in alles ons begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan Hom bekend te maak.

In 1 Thessalonisense 5:18 gee Hy ons die opdrag om in alle omstandighede dankbaar te wees. Om die waarheid te sê, Hy sê vir ons dat Hy in Christus van ons verwag om altyd bly te wees, gedurig te bid en in alle omstandighede dankbaar te wees. Dít is hoe ernstig Hy daaroor is dat ons altyd dankbaar moet wees.

Ek het iewers gelees as ons vir iemand ‘dankie’ sê, dan erken ons dat ons iets ontvang het wat die gewer nie verplig was om vir ons te gee nie.

God is nie verplig om enige iets vir ons te gee nie. En tog gee Hy ons die een seëning op die ander omdat Hy ons liefhet.

Wanneer was die laaste keer wat jy die Here gedank het vir iets wat Hy vir jou gegee of gedoen het?

LEES OOK: DANKBAAR – WAARVOOR DANK JY GOD?

DANKBAARHEID EN DANKSEGGING.

In sy boek, The Essentials of Prayer, skryf Edward M. Bounds oor die noue verband tussen gebed, lofprysing en danksegging.

Hy skryf daar is baie dinge waarvoor ons God kan loof en prys en Hom voor dank. Baie van die dinge is as gevolg van beantwoorde gebed.

Hy skryf: “Thanksgiving is but the expression of an inward conscious gratitude to God for mercies received. Gratitude is an inward emotion of the soul, involuntarily arising therein, while thanksgiving is the voluntary expression of gratitude.”

Dankbaarheid is innerlik. Dit is stil, ‘n amper geheime houding.

Danksegging, daarenteen, is uiterlik en in die openbaar. Dit is om God hartlik te bedank vir wie Hy is en vir wat Hy doen.

‘n Mens kan dankbaar wees sonder om dankie te sê. Maar dit is nie so maklik om ‘n hartlike dankie te sê sonder om regtig dankbaar te wees nie.

Ons sê ons is dankbaar vir die dinge wat God vir ons gee. Maar sê ons ooit vir Hom dankie?

Onthou ons om Hom te eer en te dank wanneer Hy ons gebede beantwoord?

WEES ALTYD DANKBAAR.

In Jakobus 1:17 staan daar: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.”

Hoe maklik vergeet ons nie hierdie waarheid nie!

Ons sien nie altyd die seëninge in ons lewens raak nie en neem dit as vanselfsprekend aan.

Ek het gehoor van ‘n vrou wat elke dag, terwyl sy huis skoonmaak, die Here dank vir alles in haar huis.

Sy beweeg van vertrek na vertrek en dank die Here letterlik vir alles wat haar oë sien.

As ‘n mens bewus is van elke seëning, en jy sê vir die Here dankie daarvoor, gaan jy altyd dankbaar wees.

Jy gaan ook geen seëning miskyk en as vanselfsprekend aanvaar nie.

Nee, jy gaan die hele dag op die uitkyk wees vir dinge waarvoor jy die Here kan dankie sê!

Sê VANDAG NOG DANKIE.

Jou lewe is gevul met dinge waarvoor jy moet dankbaar wees.

Sommige is groot dinge, soos jou verlossing en die feit dat jy ‘n kind van God is.

Ander dinge is klein, soos die warm water wat uit die kraan kom wanneer jy stort.

Dit maak egter nie saak hoe groot of hoe klein die seëning is nie, elkeen is iets waarvoor jy dankbaar moet wees en dankie moet sê.

Ek wil jou uitdaag om vandag nog ‘n klompie dinge neer te skryf waarvoor jy dankbaar is. Laai die gratis ‘Vandag Se Dankbaarheidslysie PDF‘ af en gebruik dit vandag, en elke dag, om neer te skryf waarvoor jy dankbaar is.

Word dan stil by die Here en sê vir Hom dankie vir alles wat jy onverdiend uit Sy hand ontvang.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *