Die storie word vertel van iemand wat op ‘n dag vir ‘n bekende prediker gevra het: “Wat is die wonderlikste ding wat God se Woord jou geleer het? ” Die prediker het begin sing: “”Jesus min my, salig lot, ek weet dit uit die Woord van God!”
God het ons lief!
Daar is so baie dinge wat ons omtrent God se liefde uit Sy Woord kan leer. Kom ons kyk vandag na ses dinge wat jy oor God se liefde moet weet.
GOD IS LIEFDE.
1 Johannes 4:8: “Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.”
Die heel belangrikste ding wat jy oor God se liefde moet weet, is dat liefde is wie Hy is.
Dit beteken Hy het nie net liefde nie, maar Sy hele wese is liefde.
En alles wat Hy doen word gedoen uit ‘n hart van liefde.
Soms mag dit vir ons lyk asof dit nie waar is nie, want ons sê dinge soos, “Hoe kan ‘n God van liefde….?” Maar dis eenvoudig omdat ons God se liefde nie altyd so mooi verstaan nie.
God is so groot dat ons ou klein mensies maar sukkel om alles omtrent Hom en Sy liefde te verstaan. Bietjie vir bietjie is Hy egter besig om Homself en Sy liefde aan ons te openbaar. Ons gaan nie alles hier op aarde verstaan nie, maar ons kan nou leef in die sekere wete dat God liefde is. En ons kan Hom vra om ons te help om Sy liefde te verstaan.
DIE LIEFDE VAN GOD HET VIER DIMENSIES.
Efesiërs 3:18-19: “sodat julle volledig in staat mag wees om saam met al die heiliges tot die besef te kom van die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte, ja, om die liefde van Christus te leer ken, wat alle begrip te bowe gaan, sodat julle gevul mag word met al die volheid van God.”
God se liefde het vier dimensies. Daar is ‘n breedte (die 1983-vertaling praat van wyd), ‘n lengte, ‘n hoogte en ‘n diepte.
God se liefde is breed of wyd genoeg dat dit rondom die aarde kan strek en elke mens bereik. Sy liefde is lank genoeg dat dit nooit ophou nie. Dit is vir altyd, van ewigheid tot ewigheid.
God se liefde is hoog genoeg dat dit jou bereik waar jy ookal is en jou daarin toevou. Dis ook hoog genoeg dat dit elke sonde wat jy doen onder die bloed van Jesus plaas sodat jy vergifnis kan ontvang.
Dan is daar die diepte van God se liefde. Dit verwys na die intensiteit en intimiteit van Sy liefde. God weet alles van jou af. Hy gee om wat met jou gebeur. Selfs die kleinste detail van jou lewe is vir Hom belangrik.
DIS ‘N LIEFDE WAT GEE.
Johannes 3:16: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
Een van die belangrikste dinge wat ons omtrent God se liefde in die Bybel leer, is dat dit ‘n liefde is wat gee.
Ons lees oral in die Bybel daarvan, maar Johannes 3:16 is seker een van die bekendste verse daaroor.
God se liefde gee nie net Sy Seun nie, maar ook die Heilige Gees. Sy liefde gee vir ons vergifnis van sonde, die ewige lewe, en alles wat ons nou nodig het vir ‘n godvresende lewe (2 Petrus 1:3).
In Sy groot liefde leer God ons die waarheid uit Sy Woord. Hy voorsien in ons behoeftes, beskerm ons, gee ons wysheid, en lei ons elke dag op die regte pad.
God se liefde hou net aan om te gee en gee. Kyk maar wat sê Romeine 8:32: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?”
JY KAN DIT NIE VERDIEN NIE.
Romeine 5:8: “God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
In die vers hierbo sien ons dat God ons liefgehad het toe ons nog sondaars was. Toe ons niks met Hom te doen wou hê nie, het Hy ons liefgehad. Die tye wat ons ons eie ding gedoen het, het Hy ons liefgehad. Elke keer wat ons aan Hom ongehoorsaam was, het Hy ons liefgehad.
Sien jy dat ons niks gedoen het oms Sy liefde te verdien nie? Inteendeel, Hy het die volste reg gehad om Sy liefde van ons af weg te vat. Maar Hy het nie en Hy sal ook nie.
En, net soos jy nie voorheen Sy liefde kon verdien nie, kan jy dit ook nie nou te doen nie.
God het jou lief. Punt.
Niks wat jy doen gaan veroorsaak dat Hy jou liewer het nie. En niks gaan veroorsaak dat Hy jou minder liefhet nie.
Hy gee Sy liefde vir jou gratis, vry en verniet!
NIKS KAN JOU VAN GOD SE LIEFDE SKEI NIE.
Romeine 8:35; 37-39: “Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?… Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.”
Lees weer die verse hierbo. Sien jy dit? Daar is letterlik niks wat jou van God se liefde kan skei nie.
Dit maak nie saak wat die wêreld jou kant toe gooi nie, dit kan jou nie van God se liefde vir jou skei nie.
Selfs al is dit wat met jou gebeur jou eie toedoen, kan dit jou nie van God se liefde skei nie.
Die duiwel en sy trawante kan jou nie van God se liefde skei nie.
Swaarkry, seerkry, probleme, mense, enige negatiewe ding – niks kan jou van God se liefde skei nie.
Sy liefde is altyd daar om jou te vertroos, te bemoedig en te help. Hoekom? Want Hy is liefde en Hy is altyd daar om al hierdie dinge, en soveel meer, vir jou te doen.
Jy kán dus te alle tye verseker wees dat jy meer as ‘n oorwinnaar is, deur Hom wat Sy liefde aan jou bewys het.
DIE LIEFDE VAN GOD IS VOLMAAK.
1 Johannes 4:18: “In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite; want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.”
God is volmaak. Hy is altyd lig en daar is geen duisternis in Hom nie.
En omdat Hy volmaak is, en Hy is liefde, is Sy liefde ook volmaak.
Hy is die enigste Wese wie se liefde nie op een of ander manier besoedel kan word nie. Die mens kan baie ervaringe met liefde hê, maar dit word altyd op een of ander manier besoedel deur verwagtinge, gebeure en die op-en-af van die lewe.
Net God se liefde is altyd volmaak, altyd rein, altyd sonder vlek of rimpel.
En gelukkig kan ons by Hom leer hoe om ander lief te hê. Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het en Sy liefde in ons harte uitgestort het deur die Heilige Gees.
ONTVANG GOD SE LIEFDE.
Die ses dinge hierbo is maar net ‘n paar van die dinge wat jy oor God se liefde moet weet.
Sy liefde is ‘n geskenk wat Hy elke dag na elke mens toe uithou. Al wat ons moet doen, is om dit te ontvang.
As jy sukkel om te glo Hy het jou lief, of om Sy liefde te ontvang, vra Hom om jou daarmee te help. Doen ‘n Bybelstudie oor Sy liefde of soek Skrifgedeeltes oor Sy liefde en lees dit elke dag. Vra Hom om Sy liefd vir jou so ‘n werklikheid in jou lewe te maak, dat jy nooit weer daaraan gaan twyfel nie.
God is liefde en Hy het jou lief met ‘n ewigdurende, onvoorwaardelike, volmaakte liefde. Maak vandag nog jou hart oop en ontvang hierdie geskenk wat Hy na jou toe uithou.
Jy sal nie spyt wees nie, want Sy liefde gaan jou lewe verander!
Thankyou very much from today I will learn how to live my life as a Christian I am so glad I came across this verse I was very sick 2 years ago but God’s love and mercy was so good to me I had a kidney problem neuphrotic syndrome as do tors said but it came back now a little my urine started to make little bubbles but it’s my fault please pray for me to eat healthy in the Allmighthy name of Jesus and lived a honest life
Waar ek vandag in moedelose vlakte le het hierdie boodskap vir my hoop gebring. Baie dankie vir die artikel
Bly dit het iets vir jou beteken!
Baie dankie dit betelken baie Vir my is soos a nuwe begin in my lewe met God
baie dankie vir die artikel dit het my oë oopgemaak
Ek is bly dit het jou gehelp!
Baie dankie vir die artikel. Dit het my nou geseen. Seen vir jou en die werk wat jy in ABBA se Koningkryk doen.
Baie dankie! Ek is bly die artikel het iets vir jou beteken.