Die Bybel leer ons dat God uit drie Persone bestaan, maar dat Hy Een is.
Vandag wil ek met jou iets deel, wat die Here my ‘n paar jaar gelede hieroor gewys het.
Ek het die oggend, in my gebed, vir Hom gesê dat ek dit nie so mooi verstaan nie. Hoe werk dit dat daar drie is – Vader, Seun en Heilige Gees, maar dat Hulle tog ook een is.
Die woorde was skaars uit my mond, toe hierdie gedagte in my kop opkom: “One in mind; one in purpose; one in action.”
En skielik het dit net soveel meer sin gemaak.

EENHEID IN WOORD EN DAAD.
Jesus het meer as een keer gesê dat Hy net sê wat Hy die Vader hoor sê en dat Hy net doen wat Hy die Vader sien doen.
Hy het ook gesê wat die Heilige Gees sê, kom nie van Homself nie: Hy sê wat Hy hoor (Johannes 16:13).
Dit beteken die Vader, Seun en Heilige Gees sê altyd presies dieselfde ding en Hulle doen altyd presies dieselfde ding.
EENHEID IN DIE VERLOSSINGSPLAN.
Dan is daar die ‘purpose’ of plan gedeelte.
Reg van die begin af, na die val van die mens in die Tuin van Eden, het God ‘n plan gehad vir ons verlossing.
Die Vader het deur monde van die profete keer op keer geprofeteer oor die koms van Sy Seun.
Op presies die regte tyd het die Heilige Gees gesorg dat Maria swanger word en Jesus is gebore.
Dit is maar net ‘n klein kykie na die plan van God en dit wys ons dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees saam aan dieselfde plan werk.
EENHEID ONDER GELOWIGES.
God wil hê ons, as Sy kinders, moet ook een wees. Hy wil hê ons moet een wees met Hom en ook met mekaar.
In Johannes 17:22 lees ons Jesus bid: “Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is…”.
Ons lees ook in ‘n hele paar van Paulus se briewe dat hy vir die gemeentes skryf hulle moet eensgesind onder mekaar wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.
Die Here wil hê dat Sy liggaam as ‘n eenheid saamwerk.
Hy wil hê ons moet een wees in wat ons sê en doen, net soos Hy en die Vader en die Heilige Gees een is in wat Hulle sê en doen.
Soos Hulle ‘n eenheid vorm in die plan wat Hulle vir hierdie wêreld het, wil Hy hê ons moet saam met Hulle een wees en saam met Hulle werk aan die plan.
Kan jy jou indink wat gaan gebeur as ons gehoorsaam is, as ons net doen wat God vir ons sê om te doen?
Wat gaan gebeur as ons net sê wat ons God hoor sê en as ons daagliks saam met Hom werk om Sy plan vir hierdie wêreld tot stand te bring?
Hoe anders gaan die wêreld nie lyk as ons minder tyd spandeer aan ons eie planne en belange en meer fokus op God en Sy Koninkryk nie!
MET GOD SE HULP.
En ons hoef dit nie eers in eie krag te probeer doen nie! Ons is een met die Here, en daarom is ons tot alles in staat deur Hom wat ons krag gee.
Kom ons bid elke dag dat die Here ons sal help om een te wees in wat ons sê, dink en doen; dat dit Sy woorde, Sy dade en Sy planne sal wees waarmee ons ons besig hou.