HOE OM VIR JOU LIGGAAM TE SORG

‘n Mens is ‘n gees, het ‘n siel en woon in ‘n liggaam. Elkeen van hierdie dele is vir God belangrik. Gebruik hierdie vyf maniere om vir jou liggaam te sorg.

5 Maniere om vir jou liggaam te sorg

GEES, SIEL EN LIGGAAM.

In 1 Thessalonisense 5:23-24 lees ons: “Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.”

Uit hierdie verse, en ander in die Bybel, leer ons dat die mens uit drie dele, as ons dit so kan noem, bestaan.

Jy is ‘n gees. Dit is die ware jy en dié deel van jou wat nuut word by wedergeboorte.

Jy het ‘n siel – jou verstand en gedagtes, jou wil en jou emosies.

En jy woon in ‘n liggaam, wat almal kan sien.

Dit is hoe God ons geskape het, en Hy gee om vir elkeen van daardie dele.

In die Bybel kry ‘n mens baie verse wat met jou praat oor jou gees. Daar is ook verse wat jou meer leer oor jou siel en ander praat weer oor jou liggaam.

God het vir ons instruksies en opdragte gegee wat elkeen van hierdie dele aan betref, want al drie is vir Hom belangrik.

Meeste van die tyd gesels ons op hierdie blad oor onderwerpe wat met die gees of die siel te doen het. Vandag gaan ons egter ‘n bietjie gesels oor die liggaam.

Ons gaan kyk na 5 maniere om vir jou liggaam te sorg.

LEES OOK: WAT Sê DIE BYBEL OOR EMOSIES?

GOD SE TEMPEL.

Jou liggaam het groot waarde vir God.

Hy het gekies om dit Sy tuiste, Sy tempel, te maak (1 Korinthiërs 6:19).

Jou liggaam is die instrument waarmee jy die lewe ervaar. Dit is die instrument wat jy gebruik om die goeie werke, wat God vir jou voorberei het, te doen.

Maar jy moet vir jou liggaam sorg. Jy kan dit nie afskeep of misbruik nie. As jou liggaam siek of moeg is, kan jy nie behoorlik funksioneer en doen wat God van jou vra nie.

Met dít in gedagte, kom ons kyk na die dinge wat ons kan doen, om beter vir ons liggame te sorg.

LAAT GOD JOU HELP.

Ek is seker meeste van ons was al een of ander tyd op ‘n dieet. En meeste van ons het ook al ‘n groot mislukking van ‘n dieet gemaak!

Sommige neem elke nuwe jaar die besluit om meer te oefen, net om nooit die binnekant van ‘n gym te sien nie.

Hoekom gee ons so maklik op en bereik ons so min kere ons doelwitte?

Ek dink ons grootste probleem is dat ons probeer om dit in eie krag te doen.

God het ons nie gemaak om sonder Hom te funksioneer nie.

Adam en Eva het aan die begin ‘n perfekte verhouding met God gehad. Sonde het hulle, en ons, egter van Hom geskei.

Maar Jesus het die weg na God weer vir ons oopgemaak. Ons kan nou weer ‘n verhouding met Hom hê, en weer een word met Hom (1 Korinthiërs 6:17).

Dit beteken, onder andere, dat ons nooit weer die lewe in eie krag hoef aan te durf nie. Ons het God by ons, in ons, om ons te lei, te help en krag te gee.

Ons kan enige tyd tot Hom bid en Hom vertrou om te doen wat ons nie kan doen nie.

Die Bybel sê alles is vir God moontlik (Mattheus 19:26). Dit sê ook alle dinge is moontlik vir die een wat glo (Markus 9:23).

Jy hoef dus nie te probeer om in eie krag vir jou liggaam te sorg nie!

Vra die Heilige Gees om jou daarmee te help.

Vra Hom om jou te wys wat jý moet doen om vir jou liggaam te sorg.

Onthou, ons is almal uniek en wat vir een persoon werk, mag dalk nie dieselfde doen vir ‘n ander een nie.

‘N VOORBEELD UIT MY LEWE.

Kom ek gee jou ‘n voorbeeld uit my eie lewe.

Vir die afgelope drie jaar doen ek elke weeksoggend vir ‘n halfuur lank Pilates.

Ek was nog nooit lief vir oefen nie, maar God het geweet ek sou Pilates geniet. Hy bring toe vir Robin Long van The Balanced Life oor my pad. Ek kan my nie nou my lewe indink sonder Pilates elke oggend nie!

Maar moenie my vra om te gaan draf nie!

Ek is nie ‘n drawwer nie. Stap, ja miskien, maar nie draf nie.

Sommig mense hou weer daarvan om te draf, fiets te ry, te swem, of gewigte op te tel. Ander geniet joga of om te dans.

Soos ek gesê het, wat vir een werk, mag dalk nie vir die volgende persoon werk nie.

Dit is dus ‘n goeie idee om saam met die Here te werk. Laat Hom toe om jou te help. Vertrou Hom dat Hy vir jou die wysheid, die vermoë en die begeerte sal gee om te doen wat jy moet doen om vir jou liggaam te sorg.

WEES LIEF VIR JOU LIGGAAM.

Maak enige modetydskrif oop en jy sien die wêreld se idee van hoe ‘n perfekte vrou lyk.

Sy is lank en baie maer. Haar hare en grimering is altyd perfek en sy dra die nuutste modes.

En sy is natuurlik ook baie mooi.

In die regte lewe werk dinge egter nie so nie.

In die regte lewe is sommige lank terwyl ander kort is.

Party is maer terwyl ander bietjie meer lyf het.

Ons het nie almal blonde hare en blou oë nie.

En ons liggame lyk ook nie dieselfde nie. Sommige se lyfies lyk soos appels terwyl ander meer soos pere lyk.

Omdat ons almal uniek is en verskillend lyk, gaan ons nie almal lyk soos die modelle in die tydskrifte nie.

Maar dit maak nie saak nie, want ons hoef nie almal so te lyk nie!

Moenie sleg voel as jy nie soos ‘n model lyk nie. Onthou, hulle lyk ook nie regtig soos hulle foto’s in die tydskrifte nie! Deesdae word alle foto’s op een of ander manier gemanipuleer om beter te lyk.

Kyk van nou af vir jouself in die spieël, en sien die pragtige mens raak wat jy daar sien.

Wees dankbaar vir die liggaam wat die Here jou gegee het. Waardeer dit en behandel dit met liefde. En werk saam met Hom om daarvoor te sorg.

Zumba oefening

OEFENING.

Of ons nou daarvan hou of nie, oefening is belangrik as ons gesond wil wees en ‘n sterk en soepel liggaam wil hê. En jy hoef nie eers gym toe te gaan om dit te doen nie!

Daar is baie oefeninge wat ‘n mens kan doen sonder dat jy baie geld spandeer. Kry iets waarvan jy hou. Dit is belangrik dat dit vir jou lekker moet wees, anders gaan jy nie aanhou om dit te doen nie.

Dit is ook ‘n goeie idee om jou liggaam te beweeg selfs wanneer jy nie oefen nie.

As jy iewers heen moet gaan, en dit is naby genoeg om sommer te stap, moenie daarheen ry nie.

As jy die hele dag voor ‘n rekenaar sit, maak seker jy neem elke nou en dan ‘n ruskans. Staan op, stap rond, strek dalk so ‘n bietjie.

Jy kan dinge doen soos om rugby saam met die kinders te speel of hou ‘n danskompetisie in die sitkamer.

Dink aan interessante en kreatiewe manier om die hele dag aan die beweeg te bly.

EET GESOND.

As jy al ooit voorheen probeer het om ‘n gesonde dieet te volg, sal jy weet dit is nie maklik nie.

Almal stem nie saam oor wat nou eintlik gesond is en wat nie.

‘n Dieetkundige mag dalk voorstel dat jy sekere dinge eet terwyl jy ander uitsny.

Maar dan koop jy die nuutste blitsverkoper, en lees daar dat jy veronderstel is om omtrent geen van die kosse te eet wat die dieetkundige voorgestel het nie.

Mense stem maar net nie saam oor wat ons moet eet en wat nie sodat ons gesond kan bly nie.

Hoewel mense nie saamstem hieroor nie, is daar Een wat weet presies wat ons moet eet en wat nie.

God het immers ons liggame geskape en Hy weet presies wat se brandstop ons daarin moet sit om dit optimaal te laat werk.

GOD SE INSTRUKSIES.

Nadat Hy vir Adam en Eva geskape het, het Hy vir hulle gesê: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy” (Genesis 2:16-17).

Later het Hy vir Noag en sy familie hierdie instruksie gegee: “Al die diere, al die voëls, al die diere wat kruip, en al die vis… word tot julle beskikking gestel. Alles wat roer en lewe, sal kos wees vir julle. Naas die groen plante gee Ek dit alles vir julle” (Genesis 9:2-3). En in Levitikus 11 kry ons die instruksies wat die Here vir die Israeliete gegee het rondom wat hulle kon eet en wat nie.

Alles wat in die Bybel geskryf staan, het ‘n doel en ‘n rede. Kan dit wees dat God hierdie instruksies vir ons laat opteken het, om ons te leer wat ons moet eet? As ons net sou eet wat God in die Woord sê ons moet eet, hoe gaan dit ons lewens verander? Gaan ons dalk gesonder wees? Ek dink dit is presies wat gaan gebeur.

Maar moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek probeer jou nie oortuig om net vrugte en groente te eet nie! Ek probeer maar net sê dat dit tot ons voordeel kan strek om te weet wat die Woord oor ons dieet sê en om daardie instruksies te volg. Ons volg tog God se ander instruksies – waarom hierdie ignoreer?

Ek moet erken dat ek self nog met hierdie een sukkel. Ek eet steeds partykeer iets wat ek weet nie goed is vir my nie. Maar met God se hulp, kan ons gesond begin eet!

WATER, WATER, WATER.

Ek is baie lief vir koffie, veral as dit koud is! Maar daar is niks lekkerder as ‘n glas koue water wanneer ek regtig dors is nie.

Om seker te maak ons drink elke dag genoeg water, is een van die belangrikste dinge wat ons kan doen.

‘n Mens se liggaam het water nodig om die voedingstowwe wat uit ons kos kom, na ons spiere en brein te vervoer. Dit het ook water nodig om van die afvalstowwe onstlae te raak. Sonder water kan die niere, imuunsisteem en brein nie behoorlik funksioneer nie.

Probeer om agt glase water ‘n dag te dink. Ek weet dit is nie altyd maklik nie, veral as dit koud is. Ek sukkel self op die stadium daarmee.

Sommige mense hou nie van die smaak van water nie. As die smaak jou afsit, sit ‘n skyfie komkommer of suurlemoen daarin.

Dit werk ook goed om ‘n bottel water oral met jou saam te dra. Op dié manier kan jy elke nou en dan ‘n sluk vat. Jy kan ook die alarm op jou selfoon stel om elke uur te lui om jou daaraan te herinner om water te drink.

Geniet jou koppie tee of beker koffie, maar maak seker jy drink elke dag genoeg water ook.

VOLDOENDE RUS.

Om te kan sê jy is baie besig, is deesdae amper mode. Mense is heeltyd besig om van een ding na ‘n ander te haas. Ek ken iemand wat so besig is by die werk, dat sy nie eens tyd het om badkamer toe te gaan nie!

Dit is egter nie goed vir ons om die hele tyd so besig te wees nie.

Ons het tyd nodig om te rus, te ontspan en weer ons kragte te herwin.

Genoeg slaap is een van die beste manier om te rus. Nie almal het ewe veel slaap nodig nie, maar jou liggaam sal wel vir jou vertel as jy te min slaap. Gaan klim vroeg genoeg in die bed sodat jy genoeg slaap en die volgende oggend nie die ‘snooze’ knoppie ‘n paar keer moet druk nie.

‘n Mens het ook nodig om te ontspan en tyd saam met familie en vriende te spandeer.

Jy is in beheer van jou skedule. As jy nie daarvan hou nie, as jy voel jy is te besig, doen iets daaromtrent. Haal ‘n paar dinge van jou doen-lysie af. Sê nee wanneer jy iets nie wil doen nie of nie tyd het daarvoor nie. Jy mag dalk iemand anders teleurstel, maar jy kan nie almal gelukkig hou nie.

OM VIR JOU LIGGAAM TE SORG.

Jou liggaam is belangrik vir God. Hy wil hê jy moet daarvoor sorg sodat dit optimaal kan funksioneer en jy jou Godgegewe doel kan bereik.

Wees lief vir die liggaam wat God jou gegee het. Vertrou Hom om jou te help om dit met respek te behandel. Eet gesonde kos, drink genoeg water en kry genoeg rus. Kry ‘n vorm van oefening waarvan jy hou en maak seker jy is elke dag aktief aan die beweeg.

Begin sommer vandag nog om ‘n voorbeeld vir ander te wees deur vir jou liggaam te sorg op ‘n gebalanseerde manier wat God eer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *