Frank was nou nie juis bekend daarvoor dat hy ‘n man met baie geduld was nie. Hy het ook glad nie daarvan gehou as mense negatief geklink het nie.
Op ‘n dag kry hy ‘n oproep van sy vrou. Hy was juis besig om aan ‘n groot projek te werk en het nie regtig tyd gehad om met haar te praat nie. Toe doen sy boonop die ongehoorde – sy praat stadig en klink nie juis opgewonde nie.
In die middel van ‘n sin val hy haar in die rede met: “Vrou, ek is besig. Praat asseblief vinnig en klink net ‘n bietjie meer positief!”
Sy is vir ‘n rukkie stil en antwoord toe ewe vrolik: “Ek het netnou uitgevind ons nuwe BMW se ‘airbags’ werk regtig baie goed!”

GEDULD, O GEDULD.
Die Bybel het sommer baie te sê oor geduld.
Soms lees ons dat ons geduldig moet wees met ander mense. Ander kere dat ons geduldig moet wees wanneer ons iets beleef wat nie vir ons lekker is nie.
Ons word ook geleer dat ons geduldig op God moet wag om te doen wat ons nie self kan doen nie. En dat ons geduldig moet wag dat Hy dit op Sý tyd doen.
Die Bybel gebruik nie altyd die woord ‘geduld’ nie. Soms word woorde soos ‘wag’ of ‘volhard’ gebruik. Maar elke keer kry ons die boodskap dat daar tye is wanneer ons geduld moet gebruik.
So kom ons kyk na ‘n paar verse in die Bybel oor geduld.
GOD SE GEDULD MET ONS.
Die Bybel leer ons dat God baie geduldig is met ons. Dankie tog daarvoor, want anders sou dit maar swaar met ons gegaan het!
Psalm 103:8: “Barmhartig en genadig is die Here, geduldig en oorvloedig in troue liefde…”
2 Petrus 3:9: “Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
1 Timotheus 1:16: “Ek is juis om hierdie rede begenadig, sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy geduld kon betoon, as voorbeeld vir hulle wat in Hom sou glo met die oog op die ewige lewe.”
Eksodus 34:6: “Die Here het reg voor hom [Moses] verbygegaan en uitgeroep: “Die Here, die Here, ‘n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid…””
GEDULD MET ANDER MENSE.
Soos ons hierbo gesien het, is geduld een van God se karaktereienskappe. Wanneer ons geduldig is met ander mense, wys ons dus vir hulle hierdie eienskap van God.
Kolossense 3:12-13: “Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Verdra mekaar en, as enigiemand ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe.”
1 Korinthiërs 13:4: “Liefde bly geduldig, liefde gee om, liefde is nie jaloers nie, spog nie, en is nie verwaand nie.”
1 Thessalonisense 5:14: “En ons moedig julle aan, broers, om die leeglêers aan te spreek; bemoedig die moedeloses; ondersteun die swakkes; wees geduldig teenoor almal.”
Efesiërs 4:1-2: “Daarom spoor ek julle aan, ek, wat ter wille van die Here ‘n gevangene is, om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is: deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra…”
OM MET GEDULD OP GOD TE WAG.
God weet presies wanneer die regte tyd is vir iets om te gebeur. Daarom kan en moet ons op Hom wag om te doen wat net Hy kan doen. Wanneer ons op Hom wag, sal ons geduld beloon word.
Psalm 27:14: “Wag op die Here! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die Here!”
Jakobus 5:7-8: “Wees geduldig, broers, tot met die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag met geduld op die waardevolle opbrengs van die aarde, tot die vroeë en laatreëns geval het. Wees dan geduldig, staal julle harte, want die wederkoms van die Here is naby.”
Romeine 8:24-25: “Ons is immers verlos in hoop. Maar die hoop wat gesien kan word, dit is nie regtig hoop nie; want wie hoop nog op wat ‘n mens reeds kan sien? Maar as ons hoop op dit wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.”
Jesaja 40:31: “Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.”
DIS WYS OM GEDULDIG TE WEES.
Die Bybel leer ons dat dit wys is om geduld te hê.
Spreuke 19:11: “Die skranderheid van ‘n mens maak hom geduldig, en dit is vir hom ‘n eer om ‘n oortreding oor te sien.”
Prediker 7:9: “Moenie in jou gees haastig wees om jou te vererg nie, want verdriet is tuis op die skoot van dwase.”
Spreuke 14:29: “Die geduldige mens is ryk aan verstandigheid, maar wie kort van humeur is, stel sotheid ten toon.”
Spreuke 15:18: “‘n Opvlieënde man sit ‘n stryery aan die gang, maar ‘n geduldige mens bring ‘n geskil tot bedaring.”
VOLHARDING IS BELANGRIK.
Soos ek vroeër gesê het, gebruik die Bybel nie altyd die woord ‘geduld’ nie. Soms kry ons die woord ‘volhard’, wat ook maar net beteken dat ons geduldig moet wees en nie moed opgee nie.
Romeine 12:12: “Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed.”
Galasiërs 6:9: “Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes.”
Romeine 8:25: “Maar as ons hoop op dit wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.”
Hebreërs 10:36: “Julle het inderdaad volharding nodig, sodat julle, wanneer julle die wil van God gedoen het, die belofte kan verkry.”
Here, Leer My Hoe Om Bybelstudie Te Doen is ‘n tien-dae Bybelstudie wat die vier stappe van die S.O.A.P. Bybelstudie-metode gebruik om jou te leer hoe om self Bybelstudie te doen. Besoek ons aanlynwinkel vir meer besonderhede.

NOG BYBELVERSE OOR GEDULD.
Daar is nog heelwat ander verse in die Bybel wat ons op een of ander manier meer leer oor geduld. Hier is nog twee:
2 Timotheus 4:2: “Verkondig die woord, hou tydig en ontydig aan, bestraf, bemoedig in alle geduld en deur lering.”
Galasiërs 5:22-23: “Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.”
HOE OM GEDULDIG TE WEES.
Ons het nou gesien dat die Bybel ons baie leer oor geduld. Maar hoe maak ‘n mens nou om altyd geduld te beoefen?
In die volgende artikel gaan ons daaroor gesels, so moenie vergeet om weer ‘n draai te kom maak nie.