Hierdie Bybelverse sal jou daaraan te herinner dat God by jou is en jou gebroke hart weer sal heelmaak, wanneer jy oor iemand treur.
Om ‘n geliefde te verloor is nooit maklik nie. Of dit nou iets is wat skielik gebeur, of iets wat jy dalk verwag het, dit bly moeilik. En selfs al weet ons dat ons daardie persoon weer eendag in die hemel gaan sien, maak dit dinge nie juis makliker nie. Want enige dood is ‘n verlies en verlies bring altyd hartseer.
Mense hanteer hierdie hartseer op verskillende maniere. Sommige lyk asof hulle nie regtig treur oor die geliefde wat weg is nie. Maar net omdat jy hulle nooit openlik sien huil nie, beteken dit nie dat hulle nie diep seer het en daar, waar niemand kan sien, ook trane stort nie.
Ander maak weer geen geheim van hulle hartseer nie. Dit kan sommige mense nogal ongemaklik maak, omdat hulle nie weet wat om vir iemand wat openlik treur, te sê nie.
Ongelukkig verwag die wêreld baie keer van ons om so ‘n hartseer gebeurtenis vinnig te verwerk. Mense wat nog nooit oor ‘n geliefde getreur het nie, dink dat dit iets is wat jy in ‘n paar dae of dalk ‘n paar maande verwerk. Dis vir hulle vreemd as jy jare na die dood van jou geliefde, steeds soms hartseer voel oor hom of haar.
Om oor iemand wat jy verloor het te treur, is egter deel van die verwerkingsproses. Dis deel van die heelmaakproses.
God laat ons dan ook nie alleen wanneer ons treur nie. Hy is by ons in ons hartseer en stap die pad saam met ons. Daarom het Hy vir ons Bybelverse laat opteken wat ons kan gebruik om onsself, of iemand anders wat treur, te bemoedig.
MATTHEUS 5:4.
Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.
In konteks gesien praat hierdie vers eintlik van diegene wat treur oor hulle sondige toestand. Maar net soos God hulle vertroos deur hulle te red deur geloof in Jesus, vertroos Hy ook diegene wat letterlik treur oor die verlies van ‘n geliefde. Dis ons geloof in Hom wat ons weer hoop en moed gee en wat ons harte weer heelmaak.
OPENBARING 21:4.
Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of ‘n gehuil of pyn sal meer bestaan nie; want die eerste dinge het verbygegaan.
Ons het die wonderlike vooruitsig dat daar in die hemel gee hartseer gaan wees nie. Al wat ons daar gaan ervaar, is die wonderlike liefde van God.
PSALM 147:3.
Dit is Hy wat dié met gebroke harte genees, wat hulle wonde verbind…
As ons na God toe kom met ons seer en gebroke harte, kan ons Hom vertrou om ons weer heel te maak.
PSALM 34:19.
Die Here is na aan hulle wat gebroke harte het; wie se gees verpletter is, verlos Hy.
Dit mag in jou hartseer vir jou voel asof jy alleen is, maar jy is nie. God is by jou. Dit mag vir jou voel asof niemand jou seer verstaan nie, maar God verstaan.
Hy weet hoe jy voel en Hy is besig om in jou te werk om jou gebroke hart weer heel te maak.
ROMEINE 8:18.
Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie.
Daar is tye hier op aarde waar ons swaar kry, maar dis van korte duur. Dit gaan ook nooit kan opweeg teen dit wat ons gaan ervaar wanneer ons saam met God is nie.
PSALM 73:26.
My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd.
Die fisiese liggaam van die mens gaan nie vir altyd hou nie. Maar as ons in Jesus glo, gaan ons ‘n verheerlikte liggaam kry en ons gaan vir altyd in God se Teenwoordigheid leef.
1 THESSALONISENSE 4:13-18.
Broers, ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor diegene wat ontslaap het nie, sodat julle nie treur soos die ander mense wat nie hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterf het en opgestaan het – God sal ook so diegene wat gesterf het, deur Jesus met Hom saamneem.
Dit is normaal om diegene wat ons aan die dood afgestaan het, te mis. Maar ons het die versekering dat ons hulle eendag weer gaan sien. Onthou altyd dat die dood nie die einde is nie. Dis die begin van ‘n nuwe lewe op ‘n baie beter plek.
LUKAS 6:21.
Gelukkig is julle wat nou honger ly, want julle sal versadig word. Gelukkig is julle wat nou huil, want julle sal lag.
Wanneer ‘n mens se hart seer is oor ‘n geliefde, lyk dit soms of jy nooit weer gaan lag nie. Maar dis nie waar nie. Dit gaan dalk nie gou gebeur nie, maar jy sal wel weer op ‘n dag agterkom dat jou lag terug is en dat jy weer vreugde ervaar.
JESAJA 53:4 (OAV).
Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.
Onthou dat jy nie die eerste en enigste mens is wat al ooit ‘n geliefde verloor het nie. Ander is al voor jou ook daardeur. Moenie bang wees om op ander, wat al daardie paadjie gestap het, te leun nie.
PSALM 23:4 (OAV).
Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
Ons hoef nie die dood te vrees nie, want Jesus is elke tree van die pad saam met ons.
WANNEER JY TREUR.
Ek vertrou dat die Bybelverse hierbo jou help om te sien dat God by jou is wanneer jy treur. Hy is daar om jou te vertroos en om jou stukkende hart weer heel te maak.
Moet nooit Sy Teenwoordigheid onderskat nie.
Word gereeld stil by Hom wanneer jou hart seer is. Jy hoef nie eers met Hom te praat nie, sit net by Hom. Laat Hom toe om jou met Sy liefde te omvou. Jy sal verbaas wees wat se verandering dit in jou hart en lewe maak!