SARA, HANNA EN MARIA

Sara, Hanna en Maria is drie bekende moeders in die Bybel. In hierdie artikel kyk ons na lesse wat ons uit die drie vroue se lewens kan leer.

In Bybelse tye was vroue baie keer gesien as minderwaardig. Sommige kulture het hulle meer beskou as besittings as wat hulle beskou is as mense.

Maar in God se oë werk dinge anders.

Hy het die man en vrou as gelyke gemaak. Hulle is daar om mekaar aan te vul en te help. En ja, die man is die hoof van die huis, maar dit beteken nie die vrou is ‘n besitting of is minderwaardig nie.

Ons lees oor baie vroue in die Bybel. Sommige van hierdie vroue het sterk karakters gehad, en hulle was ‘n voorbeeld vir dié rondom hulle asook vir ons wat van hulle lees.

Ander vroue in die Bybel het ‘n minder goeie reputasie gehad, en ‘n mens kan weer by hulle leer wat jy nié moet doen nie.

Dan is daar die moeders. Nie alle vroue waarvan ons lees was moeders nie, maar daar is ook heelwat waarvan ons lees wat wel moeders was.

Dit is een van die dae weer Moedersdag en daarom gaan ons vandag kyk na drie vroue in die Bybel, wat moeders was. Hierdie drie vroue was ook sommer baie bekend daarvoor dat hulle moeders was.

Ons gaan gesels oor Sara, Hanna en Maria en wat ons by hulle kan leer.

Sara, Hanna en Maria

SARA – DIE BELOFTE VAN ‘N SEUN.

In Genesis lees ons van Abraham en Sara. Hulle het nie kinders gehad nie en was albei al eintlik verby die ouderdom waar dit moontlik was om kinders te hê.

Maar toe verskyn God op die toneel. Hy sluit ‘n verbond met Abraham en belowe dat Hy vir hulle ‘n seun gaan gee.

Ons lees dat die tyd verby gegaan het en dat dit Abraham en Sara steeds nie kinders het nie.

Sara besluit toe dat haar slavin, Hagar, met Abraham moet trou. As hulle dan ‘n kind het, kan dié kind mos hare word.

Ongelukkig werk die plan toe nie so goed soos Sara gehoop het nie. Want toe Hagar agterkom sy is swanger, minag sy vir Sara.

Dan lees ons dat God op ‘n dag aan Abraham verskyn weer die belofte van ‘n seun herhaal (Genesis 18).

Sara staan by die tentopening en afluister, en lag by haarself toe sy hoor wat God sê (Genesis 18:10-12).

Sy dink niemand hoor haar nie, maar God het geweet sy lag. Hy vra dan ook vir Abraham waarom sy gelag het en Sy woorde in twyfel trek. Hy herhaal wat Hy voorheen vir Abraham gesê het – volgende jaar hierdie tyd sal Sara ‘n seun hê.

En dit is presies wat gebeur. Op die tyd wat God gesê het, is Sara en Abraham se beloofde seun, Isak, gebore.

GLO, SELFS AL LYK DIT ONMOONTLIK.

Daar is verseker meer as een les wat ‘n mens uit Sara se lewe kan leer, maar ek wil vandag op drie fokus.

Abraham en Sara het ‘n belofte van God gehad, maar Sara het so ‘n bietjie gesukkel om dit te glo. Toe die belofte te lank na haar sin neem om vervul te word, kry sy haar eie plan. Sy probeer God help om Sy belofte te vervul.

Iewers in die proses het haar geloof egter gegroei, en sy het, net soos Abraham, geglo dat God Sy belofte sal vervul (Hebreërs 11:11, OAV).

Uit Sara se lewe leer ons dat ‘n mens God se beloftes altyd kan glo, selfs al lyk dit onmoontlik. Niks is vir God te buitengewoon nie. Hy kan selfs vir ‘n bejaarde man en vrou ‘n kind gee as Hy wil. Hy kan doen wat vir ons onmoontlik lyk.

LAAT DIT AAN GOD OOR.

Die tweede les wat ons leer is dat ‘n mens nie moet probeer om God te help om ‘n belofte te vervul nie.

Dit is natuurlik totaal ‘n ander saak as God wél vir jou sê om iets te doen. Maar in Abraham en Sara se geval, het God nie gesê hulle moet iets anders doen as glo nie.

As ‘n mens probeer om God te help, loop dit net op ‘n gemors uit!

WANNEER BELOFTES ONMOONTLIK LYK.

Laastens leer ons ook dat dit nie altyd so maklik is om God te glo nie! Veral as Sy belofte na die onmoontlike lyk. Dit gee ons egter nie ‘n verskoning om in ongeloof en twyfel te bly voortstrompel nie.

God het meer as een keer Sy belofte oor ‘n seun aan Abraham herhaal. In Romeine 10 lees ons dat geloof kom wanneer jy die Woord van God hoor (Romeine 10:17, OAV). Abraham het God se belofte, Sy woorde, oor en oor gehoor. Die Bybel sê nie vir ons of Sara elke keer by was toe God die belofte herhaal het nie, maar Abraham het sekerlik vir haar vertel. Dit beteken sy het ook God se woorde oor en oor gehoor. En beide se geloof het gegroei.

Wanneer jy sukkel om God se beloftes te glo, dan is dít wat jy moet doen. Maak seker jy plant die belofte in jou hart en vernuwe jou gedagtes daarmee. Lees dit elke dag. Sê dit hardop vir jouself sodat jy dit hoor. Hou Sy woorde voor jou oë en in jou ore. En, soos Abraham en Sara s’n, sal jou geloof ook sterker word en groei. En op die ou end sal jy ten volle oortuig wees dat God kan en sal doen wat Hy gesê het.

HANNA – NOG ‘N KINDERLOSE.

Die eerste hoofstuk van 1 Samuel gee ons ‘n kort kykie op die lewe van Hanna.

Ons weet maar min oor haar, maar wat ons wel weet is dat sy getroud was met Elkana en dat sy nie kinders gehad het nie.

Elkana het nog ‘n vrou gehad. Haar naam was Penina, en sy het wel kinders gehad.

Elke jaar het die gesin Silo toe gegaan om die Here te aanbid en offergawes te bring.

Vir Hanna was hierdie ‘n moeilike tyd, want Penina het haar gespot omdat sy kinderloos was.

Dit het jaar na jaar gebeur.

Elke keer wat hulle gaan offer het, het Penina vir Hanna gespot en haar tot trane gedryf.

En elke jaar het haar man haar probeer troos deur vir haar te vra of hy nie vir haar meer werd is as tien seuns nie.

HANNA SE GEBED.

Een jaar, na die offermaaltyd, was Hanna baie hartseer. Die Bybel sê sy het bitterlik gehuil.

In haar hartseer en pyn het sy na die Here geroep en lank tot Hom gebid.

Sy het ‘n gelofte afgelê dat, as die Here haar seën met ‘n seun dat sy hom vir die Here sou teruggee.

Die priester, Eli, het haar dopgehou terwyl sy bid. Hy kon nie hoor wat sy sê nie, omdat sy in haar gedagtes gebid het. Net haar lippe het geroer. Eli neem toe aan dat sy te veel gehad het om te drink.

Hy praat met haar daaroor, maar Hanna verduidelik dat sy nie dronk is nie, maar dat sy ernstig tot die Here gebid het.

Sy sê nie vir Eli waarvoor sy gebid het nie, en tog antwoord hy dat die Here vir haar sal gee wat sy van Hom gevra het.

En dis toe ook wat gebeur.

Die Bybel sê dat Hanna by die wisseling van die jaar swanger was, en sy het ‘n seuntjie gehad.

Sy het hom Samuel genoem, en het, soos sy belowe het, hom vir die Here teruggegee.

En hy het vir die res van sy lewe die Here gedien. Hy was ‘n priester, profeet, en ‘n Rigter en God het wonderlike dinge deur hom gedoen.

GAAN NA GOD TOE.

Uit Hanna se lewe kan ons die volgende leer:

Sy het met haar verdriet en haar nood na die Here toe gegaan. Sy het geweet Hy is die enigste Een wat haar kon help.

Dit maak nie saak wat in ons lewens aangaan nie, God is ook die enigste Een wat kan help.

As ons wysheid nodig het, kan Hy dit vir ons gee.

Hy kan ons lei en ons leer, vir ons voorsien en ons beskerm.

Hy kan ons bemoedig, vertroos, opbou en verander.

Wat ons ookal op hierdie aarde nodig het, God kan dit gee en voorsien.

HANNA SE GELOOF.

Die tweede les wat ek raaksien, is die feit dat Hanna God geglo het.

Sy het tot Hom gebid en toe Sy dienskneg vir haar sê dat haar gebed beantwoord sal word, het sy nie getwyfel nie.

Die Bybel sê sy het daarna geëet en was nie meer bedruk nie.

Haar fokus was nou nie meer op die feit dat sy kinderloos was nie, maar op die belofte wat sy deur die priester van God af ontvang het.

Ons kan by Hanna leer om dieselfde te doen.

Wanneer ons ‘n probleem het, is die beste ding om te doen om dadelik te gaan kyk wat God daaroor sê in Sy Woord.

Is daar ‘n belofte waar Hy belowe om te voorsien of te help?

Staan dan op daardie belofte. Neem dit na die Here toe en dank Hom dat Hy ook Sy belofte in jóú lewe ‘n werklikheid gaan maak.

Moenie die belofte laat gaan nie, selfs al lyk dit asof niks gebeur nie. Hou net aan om die Here te vertrou.

Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

MARIA – DIE MOEDER VAN JESUS.

In Lukas 1 lees ons van Maria, ‘n jong meisie wat verloof was aan ‘n man met die naam Josef.

Op ‘n dag het ‘n engel aan haar verskyn. Hy het haar gegroet met die woorde, “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

Die Bybel sê Maria was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat sy groet kon beteken.

Verder het hy vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

GOD MAAK DIE ONMOONTLIKE, MOONTIK.

Hierdie woorde van die engel het Maria dadelik aan die dink gesit.

Hoe kon so iets moontlik wees?

Sy was nie getroud nie. Sy het nog nooit met ‘n man omgang gehad nie. Hoe kon sy ‘n Seun in die wêreld bring?

Sy hou egter nie haar gedagtes vir haarself nie, maar vra die engel hoe dit moontlik is.

Die engel antwoord dat die Heilige Gees oor haar sal kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in haar wek. Dan voeg hy by: “Niks is vir God onmoontlik nie.”

Net hier leer ons die eerste les.

Niks is vir God onmoontlik nie.

Sara het ‘n seun ontvang toe sy al heeltemal te oud was om kinders te hê. En Hanna het een ontvang nadat sy vir baie jare kinderloos was.

Dit maak nie saak wat die probleem is wat ons in die gesig staar nie, die Here kan dit binne ‘n oogwink oplos.

Al lyk dit na iets wat nie ‘n oplossing het nie, omdat ‘n menslike oplossing onmoontlik is, is niks vir God onmoontlik nie.

Die Bybel leer ons ook dat alle dinge moontlik is vir die een wat glo (Markus 9:23, OAV).

Hoekom?

Omdat ons geloof is in die Een vir Wie niks onmoontlik is nie!

EK IS TOT DIE HERE SE BESKIKKING.

Nadat die engel al hierdie dinge vir haar gesê het, het Maria net een antwoord: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Ek dink nie ons besef altyd hoe ‘n groot probleem ‘n meisie gehad het wat in die Bybelse tye swanger was sonder dat sy getroud was nie.

As deel van die volk van Israel, moes sy volgens die Wet van Moses summier met klippe doodgegooi word.

En tog laat sy haar nie van stryk bring nie.

Sy neem die engel op sy woord, wat beteken sy het God op Sy woord geneem, en stel haarself dadelik tot God se beskikking.

Al het sy nie geweet of haar ouers en Josef haar sou glo as sy vir hulle vertel wat die engel vir haar gesê het nie, sê sy in elk geval dat God haar kan gebruik.

WEES BEREID OM GEBRUIK TE WORD.

Ons leer les nommer twee uit Maria se woorde.

Sy was bereid om ernstige gevolge te dra as haar familie en vriende haar nie glo nie.

En, al het húlle haar geglo, was daar natuurlik altyd die moontlikheid dat die mense in haar dorp haar nie glo nie, en haar in elk geval stenig.

Maar steeds is sy bereid om deur God gebruik te word.

Kan ek en jy dieselfde sê?

Is ons bereid om deur God gebruik te word wanneer dit iets van ons gaan vra?

Sal ons ook sê ons is tot God se beskikking as dit gaan beteken ons lewens kan in gevaar wees?

Dink maar aan baie mense wat gaan sendingwerk doen in lande waar gelowiges vir hulle geloof vervolg word.

As die Here byvoorbeeld vir jóú vra om in só ‘n land te gaan sendingwerk doen, sal jy ja sê?

Maria was bereid om deur God gebruik te word, ongeag die gevolge.

Ons as God se kinders moet, soos sy, ook bereid wees om deur Hom gebruik te word. Ons moet onthou dat Hy nooit iets van ons sal vra sonder om ons in staat te stel om dit te doen nie.

MARIA SE GELOOF.

Ek dink persoonlik dat Maria se geloof in God baie te doen gehad het met haar optrede en bereidheid om deur Hom gebruik te word.

Deur die engel het Hy onder andere vir haar gesê dat haar Seun as koning oor die nageslag van Jakob sal heers tot in ewigheid.

Dink nou so ‘n bietjie logies hieroor.

Hoe sou die Kind ‘n ewige Koning kon wees as Hy nooit eers gebore is nie, omdat Sy ma met klippe doodgegooi is?

Maria het dus, sonder dat die engel dit in soveel woorde gesê het, ook ‘n belofte van God gehad dat Hy haar sou beskerm.

Daar was ‘n doel wat hierdie Seun van God op aarde moes vervul, en niks en niemand sou God keer om daardie doel te bereik nie.

En Maria het dit geglo, want sy het God se woorde aan haar geglo.

GOD SE PLAN.

Ons kan hieruit nog ‘n les leer.

Daar is sekere dinge in God se plan wat vas staan, en niemand kan dit keer nie.

Een daarvan is dat Jesus weer gaan terugkom.

Die ou duiwel kan maak wat hy wil, hy sal dit nooit kan verhoed nie. Hy het sy bes probeer om die Messias se geboorte te keer, maar dit het nie gewerk nie.

Toe Jesus gebore is, het hy probeer om van hom ontslae te raak toe Herodes al die seuntjies onder twee jaar laat doodmaak het.

Maar weereens was hy nie suksesvol nie.

Jesus het gekom en die doel wat die Vader vir Hom gehad het, vervul.

En Hy sál op die regte tyd weer kom en alles wat oor Hom in die Bybel voorspel is, wat nog nie gebeur het nie, sal op die regte tyd in vervulling gaan.

Niemand kan dit keer nie.

Niks kan dit verhoed nie.

God se plan staan vas en dit sal gebeur soos Hy gesê het.

JOU LES VIR VANDAG?

Ons het nou gesels oor drie vroue, wat op wonderbaarlike maniere ma’s geword het.

Ons het ook gesels oor die lesse wat ons uit hulle lewens kan leer.

Watter les het jy vandag nodig gehad? Deel dit met ons in die kommentaar hieronder.

3 thoughts on “SARA, HANNA EN MARIA

  1. Elsabe

    Ek het vandag besef ek is nes Sara, ek wag op God se beloftes maar raak ongeduldig en neem dinge dan in my eie hande want ek wil God aanhelp in die proses. So maak ek die lewe vir myself net langer en ek mis dit wat Vader eintlik vir my voorberei. Ek word vandag opnuut herinner dat ek net moet glo, sekerheid he en vertrou. My tyd van seening is in Vader se hande en dit gaan ongelooflik wees.

    • Risa Cronje

      Elsabe, ek dink ons is almal so!

  2. Antoinette Louwrens

    My broer, sy vrou, dogter en haar vriend en hul baba bly by ons. Dit is net die dogter se vriend wat werk. Met ‘n klein salaris probeer hy om hul te ondersteun.

    met tye raak ek ongeduldig omdat ek voel dit raak te veel vir my omdat hulle nie werk soek nie. Finansieel help ons ook.

    Ek het vandag geleer dat ek net moet aanhou vertrou op die Here. Ek moet nie mismoedig raak nie. Die Here sal vir hulle ‘n uitweg maak. Deur God se genade sal ek die krag kry om te blom waar ek geplant is.

    God is getrou en ek moet net aanhou om Sy beloftes vir voorsiening te glo.
    Dit is God wat voorsien, uit my eie kan ek dit nie doen nie. God se tyd en nie my tyd nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *