Dit is amper weer Moedersdag en mense begin weer kopkrap oor wat hulle op dié dag vir Ma kan gee of vir haar kan doen. As jy ook wonder, dan gaan hierdie artikel beslis help. Hier is 16 idees vir Moedersdag. En, asof dit nie genoeg is nie, is daar ook ‘n video met nog 7 idees om van te kies.
BLOMME.
Hierdie is seker die algemeenste geskenk wat ma’s op Moedersdag kry. Maar, soos hulle in Engels sê, ‘it never gets old’! ‘n Mooi ruiker of ‘n bos blomme is altyd ‘n goeie idee op Moedersdag.
‘N TUINPLANT.
As ma van tuinmaak hou, gee vir haar ‘n roosboom, ‘n struik of selfs ‘n vrugteboom om in haar tuin te plant. Dis iets wat jare gaan hou en vir haar vreugde verskaf.
FOTO-COLLAGE.
Kies ‘n klompie van julle gunsteling foto’s en maak ‘n collage. Gee dit op Moedersdag vir ma.
DANKIE-BRIEFIE.
‘n Mens vergeet soms om dankie te sê vir alles wat jou ma vir jou doen.
Skryf vir haar ‘n brief waarin jy vir haar dankie sê vir alles wat sy deur die jare vir jou gedoen het en steeds doen.
Of maak ‘n lys van dinge wat sy jou geleer het en sê vir haar dankie daarvoor.
‘N BOEK OM TE LEES.
As jou ma van lees hou, gee vir haar ‘n boek wat deur haar gunsteling skrywer geskryf is.
BEDERF IN DIE BED.
Daar is min dinge so lekker soos om ontbyt in die bed te kry. As jy naby jou ma bly, en dis enigsins moontlik, bederf haar met ontbyt in die bed.
‘N UITSTAPPIE NA DIE WINKELS.
Sommige vroue hou baie daarvan om in winkels rond te loop. Party koop met die oë, ander met geld.
As jou ma van so iets hou, neem haar die dag voor Moedersdag na ‘n paar winkels wat sy nie gereeld besoek nie. Bederf haar agterna met middagete by ‘n oulike restaurant.
‘N SKOON HUIS.
Huisskoonmaak is groot werk. En met al die ander dinge wat ‘n mens moet doen, kom jy nie altyd by alles wat skoongemaak moet word, uit nie.
‘n Goeie idee is dus om ma se huis vir Moedersdag vir haar skoon te maak. As jy nie lus is om die taak self aan te pak nie, gee vir haar ‘n geskenkbewys van ‘n skoonmaakdiens wat dit vir haar kan doen.
MOEDERSDAG-ETE.
Nooi jou ma op Moedersdag vir ete en maak haar gunsteling geregte. Moenie vergeet om nagereg ook in te sluit nie!
‘N SKOON KAR.
Om jou kar binne en buite by ‘n karwas te laat skoonmaak kan nogal duur wees. Daarom is dit iets wat jou ma dalk nie vir haarself sal doen nie. Gee vir Moedersdag vir haar ‘n geskenkbewys van ‘n karwas.
FLIEK-AAND.
Hou ‘n fliek-aand – Kies twee van haar gunsteling flieks, kry die hele familie (of soveel van hulle as wat jy kan!) bymekaar en hou ‘n fliek-aand. Moenie die springmielies vergeet nie.
KOEK, KOEKIES, TERT OF BESKUIT.
Daar is maar min mense wat nie lief is vir koek, tert, of selfs koekies of beskuit nie. Boonop ruik dit lekker wanneer dit gebak word. Kies iets wat jy vir jou ma kan bak en gee dit vir haar op Moedersdag. Op dié manier kan almal saam daaraan smul.
‘N KOFFIEWINKEL-KUIER.
As jou ma ‘n gunsteling koffiewinkel het, neem haar die dag voor Moedersdag vir ‘n koffie en dalk ‘n eetdingetjie by dié gunsteling plek.
PIEKNIEK IN DIE PARK.
Die weer in Meimaand is nie altyd warm genoeg om te gaan piekniek hou nie, maar as dit op Moedersdag ‘n lekker sonskyndag is, pak ‘n piekniekmandjie en vat jou ma vir ‘n piekniek.
‘N SPESIALE GESINSFOTO.
Neem ‘n spesiale gesinsfoto om vir ma of ouma te gee. Onthou om dit in ‘n mooi raam te sit!
‘N BEDERF-PAKKIE.
Maak ‘n bederfpakkie op waarin jy ‘n mooi sepie, lekkerruik lyfroom, ‘n houertjie borrelbad, ‘n kers en ‘n blok sjokolade sit. Ma kan dit gebruik wanneer sy haarself ‘n bietjie wil bederf.
NOG IDEES VIR MOEDERSDAG.
As jy nie van een van die idees vir Moedersdag hierbo hou nie, probeer dan een van dié in hierdie video.