OM GOED TE WEES VIR ANDERE

‘n Paar weke gelede het ons gesels oor 5 gewoontes wat jy kan aanleer, wat jou lewe gaan verander. Een van dié gewoontes is om goed te wees vir andere.

Die Bybel het heelwat te sê oor hoe ons ander behandel, so kom ons kyk eers na ‘n paar van dié verse.

Om goed te wees vir andere

LIEFDE IN AKSIE.

“Kinders, ons moenie net met woorde, met die tong, liefhê nie, maar met die daad, in waarheid” (1 Johannes 3:18).

Liefde is meer as net woorde. Wanneer jy liefde teenoor iemand uitleef, dan is daar ‘n aksie, ‘n handeling, by betrokke.

Dink byvoorbeeld aan Jesus. Hy het Sy liefde vir ons uitgeleef toe Hy aan die kruis gesterf het. Hy het nie maar net gesê Hy het ons lief nie, maar dit bewys deur Sy lewe vir ons te gee.

SOOS JY BEHANDEL WIL WORD.

“Soos julle wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle” (Lukas 6:31).

Hierdie vers word die goue reël genoem. Dit neem in ‘n neutedop saam hoe ons liefde teenoor ander moet uitleef en goed wees vir hulle.

As jy wil hê ander moet jou met vriendelikheid behandel, wees dan vriendelik teenoor andere. As jy wil hê mense moet geduldig wees met jou, wees dan geduldig met hulle.

Hoe jy ookal wil hê andere moet jou behandel, behandel diegene wat jou pad kruis op daardie manier.

WEES GOEDGESIND, MEELEWEND EN VERGEWE.

Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het” (Efesiërs 4:32).

Hierdie vers herinner ons daaraan dat ons andere moet behandel soos God ons behandel.

Hy is altyd goedgesind teenoor ons en doen net wat goed is vir ons.

In Jesus het Hy ons sondes vergewe en daarom verwag Hy ook van ons om andere, wat teen ons oortree, te vergewe.

BEMOEDIG EN BOU OP.

“Daarom, bemoedig mekaar, en laat die een die ander in die geloof opbou, soos julle inderdaad doen” (1 Tessalonisense 5:11).

Daar is ‘n Engelse gesegde wat lui: “Sticks and stones may break my bones, but words will never hurt me.” Dis klink mooi, maar dis ongelukkig nie waar nie.

Woorde kan baie seermaak. Dit kan afbreek en soms selfs vernietig. En as jy eers iets gesê het, kan jy dit nie weer terugneem nie.

Maar woorde kan ook opbou. Dit kan bemoedig. Daarom moet ons altyd versigtig wees met die woorde wat by ons monde uitkom. Ons moet seker maak ons woorde en dade bemoedig en bou op eerder as om af te breek en seer te maak.

DRA MEKAAR SE LASTE.

“Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus” (Galasiërs 6:2).

Ons moet nooit dink dat ons mekaar nie nodig het nie. Jy het andere nodig en hulle het jou weer nodig. So gebruik God ons om mekaar te help en by te staan.

Op dié manier is ons instrumente in Sy hand en leef ons Sy liefde teenoor mekaar uit.

HOE OM GOED TE WEES VIR ANDERE.

Dié verse hierbo is maar net ‘n paar van die Bybelverse wat ons meer leer oor hoe ons teenoor ander moet optree.

Noudat ons weet hoe ons ander mense moet behandel, kom ons kyk na ‘n paar idees wat jy kan gebruik om goed te wees vir andere.

BID VIR ANDER MENSE.

Almal van ons het gebed nodig, so die beste ding wat jy vir iemand anders kan doen, is om vir hom of haar te bid.

Soms weet ‘n mens van ‘n probleem of behoefte wat iemand het en dan kan jy spesifiek daarvoor bid. Ander kere weet ‘n mens nie regtig nie, dan bid jy sommer so in die algemeen.

Gelukkig weet God wat in elke mens se lewe aangaan, so dit maak nie saak as ons bid sonder om spesifieke besonderhede te hê nie.

Wie is daar vir wie jy vandag kan bid? Maak sommer ‘n lysie van mense en begin om elke dag vir hulle te bid. En as jou lysie te lank is, deel dit op en bid elke dag net vir ‘n paar van die mense.

VERLEEN HULP.

In Galasiërs 6:2 het ons gelees dat ons mekaar se laste moet dra.

Ken jy iemand wat ‘n probleem het, waaraan jy dalk iets kan doen? Moet dan nie net oor die saak bid nie, maar doen daadwerklik iets daaraan.

Veronderstel jy ken iemand wie se motor stukkend is en wat nou sukkel om haar kinders by die skool te kry. Bied dan aan om haar kinders skool toe te vat.

Of dalk ken jy iemand wat siek is en nie self kan gaan inkopies doen nie. Bied dan aan om sy inkopies te kry wanneer jy weer self dorp toe gaan.

Dalk is jou bure bejaarde mense wat nie meer self hulle gras kan sny nie. Sny dan sommer hulle s’n ook wanneer jy volgende keer joune sny.

Waar jy ookal hulp kan verleen, doen dit en wees so goed vir andere.

LUISTER.

Soms het mense nodig om te praat en hulle gevoelens, seer, probleme, of wat ookal met iemand anders te deel. Dit laat hulle voel dit wat in hulle lewens aangaan maak saak en daar is iemand wat belangstel in hulle.

Om dus te luister wanneer iemand praat, is ‘n goeie manier om goed te wees vir andere.

Onthou, daar is min dinge wat so irriterend is as om met iemand te praat wat nie regtig luister nie. So, maak ‘n punt daarvan om regtig te luister wanneer ander met jou praat.

As dit gepas is, vra vrae. As dit nié is nie, luister net.

WEES GEDULDIG.

Die lewe is deesdae so gejaagd en mense se geduld raak al hoe vinniger op.

Maar in Galasiërs 5:22-23 lees ons dat geduld deel uitmaak van die vrug van die Gees.

Daarom moet ons as God se kinders leer om geduldig te wees met ander mense.

Onthou, daar gaan tye kom wat jy wil hê ander moet geduldig met jóú wees, so wees goed vir andere deur geduldig met hulle te wees.

BIED JOU VRIENDSKAP AAN.

Daar is baie mense wat alleen is. Veral ouer mense kry soms min besoekers en dan raak hulle eensaam.

Weet jy van iemand wat alleen is?

Bied jou vriendskap aan. Nooi die persoon vir koffie en kuier ‘n rukkie saam.

Of nooi die persoon om by julle gesin te kom eet. Soos die spreekwoord sê, hoe meer siele, hoe meer vreugde!

Julle hoef nie elke dag saam te kuier nie, maar maak gereeld ‘n afspraak vir ‘n kuier. Op dié manier het jou nuwe vriend/in iets om na uit te sien.

GEE JOU TYD.

‘n Mens besef dit nie altyd nie, maar jou tyd is eintlik jou lewe. Hoe jy jou tyd spandeer, is hoe jy jou lewe spandeer.

As jy goed wil wees vir andere, gee van jou tyd. Want dan gee jy in werklikheid van jouself.

Jy kan dit op verskeie maniere doen. Hier is vier idees:

Werk ‘n paar uur ‘n maand by ‘n sopkombuis.
Maak vir iemand ‘n handgemaakte geskenk.
Besoek die ouetehuis en lees vir die bejaardes.
Pas ‘n vriendin se kinders op, sodat sy bietjie alleen-tyd kan hê.

VOLG JESUS SE VOORBEELD.

In die Evangelies lees ons omtrent op elke bladsy van iets wat Jesus gedoen het, waar Hy goed was vir andere.

Kom ons volg Sy voorbeeld en probeer om ook elke dag iets te doen waar ons goed is vir iemand anders.

Onthou, die Bybel sê dit maak ‘n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang (Handelinge 20:35). So, as jy gelukkiger wil wees, begin om goed te wees vir andere. Dit sal beslis jou lewe verander!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *