Vyf minute. Dit klink nie na ‘n baie lang tyd nie. Veral nie wanneer jy besig is met iets nie. Dan gaan vyf minute sommer in ‘n japtrap verby. Maar het jy geweet dat vyf minute genoeg tyd is om jou lewe te verander?
Jy sien, daar is gewoontes, wat jy vir net 5 minute op ‘n dag hoef te doen om dit aan te leer, wat jou lewe kan verander. Wanneer jy die gewoontes aangeleer het, en jy bly dit doen, gaan dit op die ou end groot resultate lewer.
Hoekom?
Omdat dit iets is wat jy gereeld doen.
Wil jy hierdie jaar jou lewe verander?
Jy kan dit doen deur elke dag, net vir vyf minute, een van die dinge te doen waaroor ons in hierdie video gesels.
5 MINUTE-UITDAGING.
Noudat jy die video klaar gekyk het, vra jy dalk, “Maar wat is ek veronderstel om in daardie 5 minute te doen?”
Ek’s bly jy het gevra, want ek het ‘n uitdaging saamgestel om jou daarmee te help!
Vir 31 dae gaan jy elke dag een van die volgende vir net 5 minute doen: Bybellees, bid, dankie sê vir dinge, in jou joernaal skryf of iets vir iemand anders doen.
Na die 5 minute verby is, kan jy ophou. Jy kan natuurlik ook vir ‘n langer tyd aanhou, as jy wil. (Dag 15 s’n gaan jou beslis langer as 5 minute vat, maar doen dit in elk geval. Dit sal iemand anders baie gelukkig maak!)
Dit kan ook gebeur dat dit wat jy vir die dag moet doen nie presies 5 minute vat nie, maar net 2 of 3. As dit jou minder tyd vat, is dit ook goed so! Dit gaan nie regtig oor hoe lank dit jou vat nie, maar wel oor die gewoonte wat jy aanleer.
Jy kan die uitdaging enige maand en op enige dag van die maand begin. So, as jy reg is vir ‘n uitdaging en graag jou lewe wil verander, vul jou inligting hieronder in en laai die 5 Minute-Uitdaging PDF af.
Begin dan so gou as moontlik daarmee en leer hierdie vyf gewoontes aan. Dit sal beslis jou lewe verander!