Het jy al ooit ‘n gunsteling kledingstuk vir ‘n ruk lank nie gedra nie? Dan ontdek jy dit weer op ‘n dag, trek dit aan en kom agter dit sit nou nie meer so lekker nie!
Jy sien, verandering wat geleidelik plaasvind, is verandering wat soms by ‘n mens verbygaan. Dis waarom dit ‘n goeie idee is om boek te hou van jou geestelike reis. Hoewel daar soms dinge gebeur wat ‘n mens amper onmiddellik verander, gebeur meeste geestelike verandering baie geleidelik. Die beste manier om boek te hou van jou reis, is om ‘n geestelike joernaal te hou.
In hierdie video gesels ons oor wat ‘n geestelike joernaal is en wat ‘n mens alles daarin kan skryf.
IDEES VIR JOU GEESTELIKE JOERNAAL.
As jy nog steeds wonder wat om in jou geestelike joernaal te skryf, hier is nog ‘n paar idees:
JOU ERVARINGE.
‘n Geestelike joernaal is nie ‘n dagboek nie, maar dit beteken nie jy kan nie oor dinge wat met jou gebeur, skryf nie!
Jy kan skryf oor mense wat jy in die loop van jou lewe ontmoet. Of jy kan skryf oor dinge wat jy bereik, veral as jy weet jy het dit met God se hulp bereik.
Dan kan jy ook skryf oor die probleme of uitdagings wat jy in die lewe het.
Om dinge wat in jou lewe gebeur in woorde om te sit, is baie keer die beste manier om idees wat jy het, leuens wat jy glo en versoekinge waarmee jy sukkel, raak te sien. Wanneer jy dit raaksien, kan jy dit na God in gebed bring.
JOU TWYFEL, VRESE EN OORWINNINGS.
Is daar dinge waaroor jy twyfel of vrese wat jy het? Skryf daaroor.
Daar gaan ‘n dag kom wat jy daardie inskrywings weer gaan lees en dan gaan juig oor wat die Here daarmee gedoen het. Jy gaan sien hoe Hy jou gehelp het om oorwinning te behaal. Onthou dan ook om te skryf hóé Hy jou gehelp het om oorwinning te behaal.
JOU VRAE.
Almal van ons het vrae wat ons vir God wil vra. Jou geestelike joernaal is die ideale plek om hierdie vrae neer te skryf.
Dit kan dinge wees soos: Here, wat is die volgende stap wat U wil hê ek moet neem?
Of: Here, hoekom is my kind so ongelukkig?
Of: Hoe kan ek U liefde teenoor (persoon se naam) uitleef?
Na jy jou vraag neergeskryf het, moet jy ten volle verwag dat God jou op een of ander manier gaan antwoord.
ANDER SE WOORDE.
Soms lees ‘n mens iets wat iemand anders geskryf of gesê het, wat baie vir jou beteken. Jy kan hierdie dinge ook in jou joernaal skryf, sodat jy dit weer en weer kan lees.
NOG IDEES.
Ek het vir jou ‘n gratis PDF saamgestel, met nog idees van dinge waaroor jy in jou geestelike joernaal kan skryf. So, laai dit af, kry jou joernaal en pen, en begin om boek te hou van jou geestelike reis!