Die Bybel is vol verse wat met ons praat oor dankbaarheid; verse waar ons lees dat ons dankbaar moet wees en vir God dankie moet sê. Verse soos hierdie:
Kolossense 3:15: Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar.
Kolossense 4:2: Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid.
1 Timotheus 4:4-5: Want alles wat God geskep het, is goed, en niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, omdat dit deur die woord van God en gebed geheilig word.
Hierdie maand gaan ons elke week ‘n bietjie oor dankbaarheid gesels.

WAAROM MOET EK DANKBAAR WEES?
Daar is verseker baie redes waarom ons dankbaar moet wees. Kom ek gee jou ‘n paar:
Ons moet byvoorbeeld vir God dankie sê omdat Hy vir ons sorg. En ons moet onthou dat al die goeie dinge wat ons in die lewe ontvang, uit Sy hand kom.
Wanneer ons dankbaar is fokus ons meer op wat ons het en ons sien al die seëninge in ons lewens raak. As ons nie dankbaar is vir wat ons reeds het nie, gaan ons begin fokus op die dinge wat ons nie het nie en ons gaan ongelukkig raak daaroor.
Dan het navorsing ook gewys dat dankbaarheid baie goed is vir ons.
In een so ‘n studie is een groep mense gevra om elke dag ‘n paar sinne te skryf oor dinge wat die week met hulle gebeur het, waarvoor hulle dankbaar was. Die ander groep moes skryf oor alles wat hulle geïrriteer en ongelukkig gemaak het. ‘n Derde groep moes net skryf oor wat met hulle gebeur het sonder om te fokus op die positiewe of die negatiewe.
Na 10 weke was dié wat geskryf het oor die dinge waarvoor hulle dankbaar was, baie meer optimisties en het beter gevoel oor hulle lewens. Dis interessant dat hulle ook meer geoefen het en minder by die dokter ‘n draai gaan maak het as diegene wat op die negatiewe gefokus het.
Sien jy waarom dit eintlik sommer baie goed is vir jou om dankbaar te wees en gereeld vir God dankie te sê?
DINGE OM VOOR DANKBAAR TE WEES.
Dalk kyk jy vandag na jou lewe en sê dat jy nie veel het om voor dankbaar te wees nie. Maar dis nie waar nie. Daar is altyd iets waarvoor ons dankbaar kan wees.
JESUS.
Sonder Jesus sou nie een van ons ‘n kans gestaan het om by God uit te kom nie.
Daarom moet ons altyd dankbaar wees vir Jesus en vir wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het.
Ons moet dan ook sommer baie gereeld vir die Vader dankie sê dat Hy Jesus gestuur het om die prys vir ons sondes te betaal. En ons moet vir Jesus dankie sê dat Hy bereid was om Sy lewe vir ons te gee sodat ons met God versoen kon word.
GELOOF.
Nog iets waarsonder ons nooit by God sou kon uitkom nie, is geloof.
In Hebreërs 11:6 staan: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek.”
Gelukkig is geloof dan ook iets wat God in Sy groot genade vir ons as geskenk gee. In Romeine 10:17 staan: “Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus.”
Wanneer iemand die boodskap van Jesus hoor, word geloof deur die Heilige Gees in sy hart gewek sodat hy weergebore kan word.
Verlossing en geloof is dus altwee geskenke uit God se hand – iets waarvoor ons altyd dankbaar moet wees.
DIE HEILIGE GEES.
God het die Heilige Gees vir ons gegee om ons te help en by te staan.
Wanneer ons met die Bybel besig is, leer Hy ons die waarhede wat ons moet weet. Hy help ons ook om dit te verstaan.
Wanneer dit nodig is, herinner Hy ons aan waarhede wat ons reeds geleer het. En Hy help ons om dit uit te leef.
Verder help die Heilige Gees ons bid. Hy bid ook vir ons wanneer ons nie woorde het om self te bid nie.
Al hierdie dinge, en soveel meer, is dinge waarmee die Heilige Gees in ons lewens besig is. En ons moet verseker dankbaar wees daarvoor en vir God dankie sê.
DIE BYBEL.
In 2 Timotheus 3:16-17 staan: “Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.”
In hierdie twee verse sien ons wat God deur die Bybel in ons lewens wil doen.
Hy wil ons onderrig en die waarheid leer.
Deur die Bybel wil Hy ons wys wanneer ons verkeerd is en ons leer wat die regte pad is om te stap.
En Hy wil ons opvoed sodat ons aan Hom gehoorsaam is en ons lewens op Sy manier leer.
Sien jy waarom die Bybel belangrik is? Sien jy ook waarom dit iets is waarvoor ons dankbaar moet wees?
Ons is so geseënd dat ons die Bybel in ons eie taal kan lees. Nie alle mense het daardie voorreg nie.
Ons is ook so bevoorreg dat ons ‘n fisiese Bybel kan lees, na ‘n oudio-Bybel kan luister, of sommer op die foon of rekenaar ook kan Bybellees.
Daarom is die Bybel beslis ook iets waarvoor ons dankbaar moet wees en God voor moet dank.
JOU LEWE.
Nog iets waarvoor jy dankbaar moet wees is die feit dat jy lewe.
Hoewel nie elke dag maanskyn en rose is nie, is elke dag van jou lewe steeds ‘n geskenk uit God se hand.
En moenie vergeet dat God ‘n doel het vir jou lewe nie. Jy weet dalk nie nou wat dit is nie, maar as jy Hom vertrou en die pad saam met Hom stap, sal Hy jou help om dit uit te leef.
So wees dankbaar daarvoor en onthou om gereeld vir Hom dankie te sê daarvoor.
HOE OM DANKBAARHEID UIT TE LEEF.
Om vir God dankie te sê vir al die goeie dinge wat ons uit Sy hand ontvang, is verseker baie belangrik.
Maar daar is ook ander maniere waarop jy dankbaarheid teenoor Hom kan uitleef.
JOU GETUIENIS.
Wanneer jy vir ander van Jesus vertel, is jy besig om te getuig. Jy is ook besig om dankbaarheid uit te leef.
Wanneer jy vir iemand vertel wat God onlangs vir jou gedoen het, is jy ook besig om te getuig. En jy is besig om dankbaarheid uit te leef.
Maak dus ‘n punt daarvan om gereeld vir iemand te vertel van Jesus of van iets wat God vir jou gedoen het.
So verkondig jy die Evangelie en jy leef dankbaarheid uit.
En moenie vergeet om ‘n lewende getuienis ook te wees nie. Leef jou lewe op so ‘n manier dat ander Jesus in jou kan sien nog voor jy jou mond oopmaak om oor Hom te praat.
DIEN ANDER.
Nog ‘n manier om dankbaarheid uit te leef, is om ander te dien.
Jy kan dit op verskeie maniere doen.
Jy kan byvoorbeeld gaan inkopies doen vir die ou dame wat langs julle woon.
Of jy kan jou vriendin, wat siek is, se kinders oplaai en skool toe vat.
Jy kan aanbied om na ‘n vriendin se kinders te kyk, sodat sy en haar man bietjie tyd alleen kan spandeer.
Daar is soveel dinge wat ons vir ander kan doen, wat nie noodwendig geld kos nie, maar wat vir hulle van waarde gaan wees.
Deur ander te dien, dien jy vir God en leef jy dankbaarheid teenoor Hom uit.
WEES ELKE DAG DANKBAAR.
As ‘n mens mooi gaan kyk, sal jy sien daar is elke dag iets waarvoor jy vir God kan dankie sê.
Hy is elke dag besig om op een of ander manier in jou lewe te werk. Maak dus ‘n punt daarvan om deur die dag op te let waar jy God se vingerafdrukke in jou lewe raaksien. Sê dan sommer dadelik vir Hom dankie daarvoor, anders vergeet jy netnou!
Onthou ook om dankbaarheid uit te leef deur die manier wat ek hierbo genoem het, te gebruik.
En jy sal sien hoe dankbaarheid en om dankie te sê, jou lewe verander.
O HEILIGE GOD DRIE-ENIG baie dankie dat U elke dag meer kan weesen ons minder kan wees uit dankbaarheid vir U O HEILIGE YAHWEH.
Baie dankie VADER GOD vir U Skepping in U Hemel, in U Aarde asook in U Waters onder U Aarde.
Baie dankie O HEILIGE DRIE-EENHEID vir elkeen wat deur die werking van U HEILIGE GEES bemoeienis maak met U elke dag en nag wat U uit U Genadetroon en Genadehande vir ons bewerkstellig.
Baie dankie dat U aan ons as mensekind dink en ons soek en naderhark met U Genadearms wanneer ons die pad byster raak.’
Baie dankie dat U hierdie skrywe wat uit U hart van liefde aan ons gestuur is van Risa ook vir ons leer.
Seen haar en elkeen daarbuite ryklik sodat U koringkorrels kan ontkiem tot die mooiste Ligstrale vir net U O Majesteit en Herder.
Dit bid ons slegs in U HEILIGE NAAM, DIE NAAM BO alle name YAHWEH. Amen.