GEBEDE OM TE BID VIR JOU KIND

Maak ‘n punt daarvan om elke dag te bid vir jou kind. Hier is ‘n paar idees van dinge waarvoor jy kan bid.

In Psalm 127:3-5 lees ons: “Kyk, seuns is ‘n erfdeel wat van die Here kom; die vrug van die moederskoot is ‘n beloning. Soos pyle in die hand van ‘n krygsheld, so is die seuns van jou jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker met hulle gevul het. Hulle sal nie beskaamd staan wanneer hulle met die vyande in die stadspoort woorde wissel nie.

Kinders is ‘n geskenk van God. Vra maar vir iemand wat lank gesukkel het om swanger te raak en baie gebid het vir ‘n kind.

Dit maak nie saak hoe lank jy al kinders het nie, iewers langs die pad besef jy dat jy nie oral kan wees en alles in jou kind se lewe kan beheer nie. Geen ouer kan sorg dat alles in sy kind se lewe altyd reg uitwerk nie.

Maar dis in elk geval nie ‘n ouer se werk nie. ‘n Ouer se werk is om sy kinders groot te maak in die weë van die Here en om vir hulle te bid.

‘n Mens wonder soms wat jy vir jou kind kan bid, sodat jy nie oor en oor dieselfde paar dinge bid nie. Hier is ‘n paar idees.

GELOOF.

Niemand gaan op grond van iemand anders se geloof hemel toe nie. Dis ook nie anders met ‘n kind nie. Jy kan nie namens hom glo nie. Iewers in sy lewe moet hy ‘n keuse maak vir of teen Jesus.

Die belangrikste gebed wat jy vir jou kind kan bid, is dat hy geloof in Jesus sal hê.

Leer hom wat hy oor Jesus moet weet en leef jou geloof voor hom uit. Maar bid gereeld dat die Here in sy hart sal werk en dat hy, op die regte tyd, vir Jesus as Verlosser sal aanneem.

LEES OOK: WEDERGEBOORTE – JOU BEGIN MET GOD

Gebede om te bid vir jou kind

KARAKTER.

Volgens die HAT beteken karakter die volgende: geestelike of sedelike aard of inbors: al die einskappe wat die een persoon anders maak as die ander.

Voeg daarby die Bybelse definisie van karakter: wie ons is as gevolg van ons verhouding met Jesus. (Hierdie karakter word gebou en aangeleer wanneer ons Hom volg.)

Soos jy kan sien is karakter by enige mens baie belangrik. En dis veral belangrik dat ‘n mens weet wie hy in Jesus is.

Bid daarom dat jou kind goddelike karakter sal ontwikkel. ‘n Persoon wat weet wie hy in Christus is, sal keuses in die lewe maak wat lei na goeie dinge.

Bid dat jou kind integriteit sal hê en altyd die goeie sal najaag.

BESKERMING.

Hoewel jy nie altyd by jou kind kan wees om hom te beskerm nie, is daar Een wat altyd daar is.

God is altyd by jou kind. En Hy belowe in Sy Woord dat Hy ons sal beskerm, so jy kan Hom vertrou om dit ook vir jou kind te doen.

Bid dus elke dag vir jou kind vir beskerming. Onthou om nie net te bid vir fisiese beskerming nie, maar ook vir geestelike en emosionele beskerming.

LEES OOK: GOD IS BY JOU, JY IS NOOIT ALLEEN NIE

JOU KINDERS SE TOEKOMS.

God het ‘n plan vir elke mens se lewe, maar dis ons keuse of ons daardie plan wil volg of ons eie ding wil doen.

Jou kinders is dalk nou nog klein, maar die tyd gaan vinnig verby. Voor jy jou oë uitvee, is hulle groot.

Dit is dus belangrik om te onthou om te bid vir jou kind se toekoms. Bid dat hy God se plan vir sy lewe sal volg. Vra dat God hom sal leer om Sy leiding te volg en dat hy altyd gehoorsaam sal wees daaraan.

LEES OOK: JESUS LEI JOU NA GOD SE PLAN VIR JOU LEWE

JOU KINDERS SE VRIENDSKAPPE.

God het ons geskep om mekaar nodig te hê. ‘n Kind het nie net sy familie nodig nie, maar ook goeie vriende.

Ongelukkig is dit ook so dat kinders baie keer die verkeerde pad kies as gevolg van vriende.

God weet wie die regte vriende vir jou kind is. Vra Hom om jou kind te help om die vriende wat Hy vir hom uitgekies het, te kry.

Bid ook dat hulle vriendskappe sal floreer en dat hulle mekaar altyd sal bystaan en help.

GESONDHEID.

‘n Ouer wat gesonde kinders het, neem hulle gesondheid soms as vanselfsprekend. Maar nie almal is so gelukkig om gesonde kinders te hê nie. Sommige ouers het kinders wat altyd siek of swak is.

As jou kinders gesond is, dank die Here daarvoor. Bid ook dat hulle verder in hulle lewens gesondheid mag geniet.

En moenie vergeet om te bid vir kinders wat siek is nie!

VREDE EN VREUGDE.

Die wêreld leer ons dat ‘n mens net gelukkig kan wees wanneer jy baie geld en goed het. Maar dis nie waar nie.

Ware vrede en vreugde kom van God. ‘n Mens moet ook net leer om in alle omstandighede tevrede te wees en dat vreugde nie afhang van jou omstandighede nie.

Bid dat jou kinders God se vrede en vreugde in hulle lewens ervaar en dat hulle tevrede sal wees in alle omstandighede.

REINHEID.

God vra van ons as Sy kinders om ‘n lewe van reinheid te leef. En dis meer as om net nie die verkeerde te doen nie.

Reinheid begin in ons gedagtes, want dit waaroor jy dink, word op die ou end die dinge wat jy doen.

Bid dus vir jou kinders se gedagtes en denke. Vra die Here om hulle denke met Sy Woord te vernuwe sodat hulle soos Hy begin dink.

Vra Hom ook om jou kinders te help om keuses te maak wat gaan lei tot ‘n lewe van reinheid.

JOU KIND SE TOEKOMSTIGE HUWELIKSMAAT.

As jou kinders nog klein is, mag jy dalk dink dis nie nou nodig om vir ‘n toekomstige huweliksmaat te bid nie.

Maar, soos ek reeds voorheen gesê het, kinders word vinnig groot. En elke ouer se hartsbegeerte is tog dat sy kind ‘n huweliksmaat sal kry wat hom liefhet, ondersteun, versorg, bystaan, en wat regtig ‘n intieme maat vir hom kan wees.

Daarom is dit ‘n goeie idee om, al is jou kinders nog klein, nou al te bid vir hulle toekomstige huweliksmaats.

Bid dat die huweliksmaat ook in die weë van die Here grootgemaak word. Om die waarheid te sê, bid sommer elkeen van die dinge hierbo ook vir jou kind se toekomstige huweliksmaat!

GEBEDE OM TE BID.

Die beste gebede wat ‘n mens vir jou kind kan bid, is gebede wat kom uit God se Woord.

Ongelukkig is daar nêrens ‘n hoofstuk in die Bybel wat ‘Gebede om vir jou kind te bid’ as opskrif het nie. Maar dit maak nie saak nie, want ‘n mens kan verskillende verse gebruik en dit tot God bid.

GEBEDE UIT DIE WOORD.

Here, ek bid dat my kind U sal liefhê met sy hele hart, hele siel en hele verstand. Ek bid ook dat hy sy naaste sal liefhê soos hy homself liefhet (Mattheus 22:37; 39).

Mag hy wyser en meer volwasse word en toeneem in guns by U en by ander mense (Lukas 2:52).

Ek bid vir geliefde maats, wat nader aan hom is as broers (Spreuke 18:24).

Dankie dat U ‘n plan vir my kind se lewe het. Dankie dat U vir hom ‘n toekoms van voorspoed en hoop beplan. Ek bid dat hy U leiding sal volg en dat hy U plan vir hom sal uitleef (Jeremia 29:11).

Here, ek bid dat my kind deur U Gees vrug sal dra. Mag hy ‘n lewe van liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing leef (Galasiërs 5:22-23).

Ek bid dat U u engele oor hom sal opdrag gee om hom te beskerm op al sy paaie (Psalm 91:11).

Ek bid dat U my kind sal seën en beskerm, dat U aangsig oor hom sal skyn en dat U hom genadig sal wees. Lig U aangesig na hom toe op en gee hom vrede (Numeri 6:24-26).

Here, ek bid dat hom in vrede sal gaan lê en dadelik aan die slaap raak omdat U ons veilig laat woon (Psalm 4:9).

Verder bid ek dat my kind te alle tye waaksaam sal wees. Ek dat hy aan U Woord gehoorsaam sal wees, sterk sal staan in sy geloof en manhaftig en sterk sal wees (Lukas 21:36; Psalm 119:9; 1 Korinthiërs 16:13).

En ek vra dat U hom sal help om alles wat hy doen te doen sonder kla of teenpraat. Help hom om altyd met geesdrif te werk, soos vir U, en nie vir mense nie (Filippense 2:14; Kolossense 3:23).

BID VIR JOU KIND HULPMIDDEL.

Die gebedsidees hierbo is maar ‘n paar gebede uit die Bybel wat jy vir jou kinders kan bid.

As jy op soek is na nóg gebede om vir jou kind te bid, teken dan hieronder in vir die Bybel Biblioteek. Dis propvol allerhande hulpmiddele vir jou stiltetyd.

Daar is ook spesiale hulpmiddele om jou te help bid vir jou kind, jou huwelik en jou finansies.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *