WYSHEDE UIT SPREUKE – AUGUSTUS LEESPLAN.

In Spreuke word daar baie gepraat van Wysheid as ‘n persoon, wat haar wysheid met ons wil deel. Die Bybelleesplan vir Augustus handel oor die Wyshede Uit Spreuke.

Wyshede uit Spreuke - Augustus leesplan

Verlede Vrydag het ek met jou ‘n klompie verse gedeel wat gegaan het oor wysheid.

Ek het dit met opset gedoen, om jou lus te maak vir die nuwe maand se Bybelleesplan.

Jy sien, in Augustus gaan ons ‘n bietjie in Spreuke lees.

Spreuke is vol allerhande wyshede.

En dit is ook in Spreuke waar Wysheid uitgebeeld word as ‘n vrou, wat graag haar wysheid met ons wil deel.

LEES OOK: 12 BYBELVERSE OOR WYSHEID EN GOD

ONS HET WYSHEID NODIG.

Ons besef dit nie altyd nie, maar ons het elke dag wysheid nodig.

Die pad wat vir ons na die regte een lyk, is nie altyd die regte een nie.

En die besluit wat soos die wyse een klink, is ook nie altyd die wyse een nie.

Daar is net Een Persoon wat ware wysheid het en wat vir ons die wysheid wat ons nodig het, kan gee.

In Job 12:13 lees ons: “By God is wysheid en krag, by Hom is raad en insig.”

Teken in vir die gratis Bybelleesplanne en laai Wyshede Uit Spreuke sommer nou af.

WYSHEID EN DIE DIEN VAN DIE HERE.

God wil Sy wysheid met ons deel.

Hy weet ons gaan die verkeerde besluite neem en die verkeerde pad volg as ons staatmaak op ons eie wysheid en insig.

Daarom waarsku Hy ons in Spreuke 3:5-6: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”

Van gaan Hy verder in vers 7: “Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is…”

Nou mag jy wonder waarom dit sê ons moenie dink ons het die wysheid in pag nie, maar dat ons die Here moet dien.

Wat het die twee nou eintlik met mekaar te doen?

Ons vind die antwoord in Psalm 111:10: “Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig.”

WYSHEID IS KOSBAAR.

Wysheid is seker een van die belangrikste dinge wat ons in ons lewens nodig het.

Spreuke 4:5 sê: “Sorg dat jy wysheid bekom, en insig! Moenie my woorde vergeet en daarvan afwyk nie; maak die wysheid jou metgesel, dit sal jou beskerm; as jy dit liefhet, sal dit jou veilig bewaar.”

En in Spreuke 4:7-8 staan daar: “Die wysheid kom eerste. Sorg dat jy wysheid bekom, gee alles wat jy het, om insig te kry! Slaan dit hoog aan, dan sal dit aan jou aansien gee. Dit sal jou ‘n man van betekenis maak as jy dit vasgryp.”

Wysheid is kosbaar. Volgens Spreuke 8:11 is dit kosbaarder as edelstene of enige iets anders wat ons as waardevol beskou.

VRA GOD VIR WYSHEID.

Die wysheid van God is tot ons beskikking, maar dit gaan nie sommer net so in ons skote val nie.

Nee, volgens Jakobus 1:5 moet ons daarvoor vra: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

Wanneer ons vra, en ons twyfel nie dat God ons sal seën met Sy wysheid nie, dan het ons die belofte in die vers hierbo dat God vir ons die wysheid wat ons nodig het, sal gee.

Waarvoor het jy vandag wysheid nodig?

Moenie langer huiwer nie.

Kom na God toe en vra Hom vir Sy wysheid.

Hy sal jou nie teleurstel nie.

Hy sal vir jou wysheid gee en jou die regte pad laat loop!

As jy dit nog nie gedoen het nie, teken in vir die gratis Bybelleesplanne en laai Wyshede Uit Spreuke, of enige van die ander planne, sommer nou af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *