DIE BROOD VAN DIE LEWE = BEVREDIGING

Jesus is die Brood van die Lewe. Net Hy kan jou honger stil en jou werklik bevredig.

Die Brood van die Lewe = Bevrediging

Wat is jou gunsteling kos?

As ek moet antwoord, sou brood beslis hoog op my lys wees.

Wanneer ek aan die begin van elke jaar saam met ons kerk vas, en ek mag nie brood eet nie, is dit een van die eerste dinge – en koffie natuurlik! – waarvoor ek baie lus raak.

In Johannes 6 lees ons dat Jesus Homself die Brood van die Lewe noem: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (vs.35).

Jy sien, hoewel ons liggame sonder brood kan klaarkom (my ma mag byvoorbeeld weens gesondheidsredes nie brood eet nie), het ons gees die Brood van die Lewe nodig. Ons kan eenvoudig nie daarsonder nie.

Ons het Jesus nodig om ons aan te raak en ons geestelik lewe te gee.

Dan het ons Hom ook nodig as Reisgenoot, wat die lewensreis saam met ons aanpak en ons daagliks na Sy beeld verander.

Hy voed ons met Sy Woord en help ons om te groei en geestelike volwassenheid te bereik.

Ons is despraat vir die enigste Brood wat kan bevredig – die Brood van die Lewe – Jesus Christus.

HET JY JOU SMAAK VERLOOR?

Ongelukkig het baie gelowiges hulle smaak vir die Brood van die Lewe verloor.

Daar is verskeie redes waarom dit kan gebeur, maar die punt is dat daar baie is wat nie eens meer honger na die ware Brood nie.

Hulle het versadig geraak van dié dinge wat nie regtig bevredig nie, maar hulle besef dit nie eens nie.

As jy vandag na jou verhouding met Jesus kyk, moet jý erken dat jy jou smaak vir Hom verloor het?

Dalk het die feit dat jy besig is jou op ‘n plek waar jy nie eers die tyd of energie het om tyd met Jesus te spandeer nie. Jy weet nie wanneer laas jy jou Bybel gelees of tyd in gebed deurgebring het nie.

Of miskien het jy tyd en energie, maar jy is nou al so gewoond daaraan om jou vrye tyd aan ander dinge te spandeer.

HONGER NA DIE BROOD VAN DIE LEWE.

As hierdie ‘n beeld is van hoe jou verhouding met Jesus lyk, weet dan dat daar hoop is!

Met Sy hulp kan jy dit verander.

Begin deur Hom te vra om jou weer ‘n honger vir Hom te gee.

Maak dan ‘n punt daarvan om elke dag tyd opsy te sit om te bid en jou Bybel te lees. Dit hoef aanvanklik nie vir lank te wees nie, maar dis belangrik dat jy iewers begin. Al is dit net vir 15 minute op ‘n dag, is dit ook reg.

Vra die Heilige Gees om jou te help om te hoor wanneer die Here met jou praat deur Sy Woord.

Moenie moed verloor as jy die eerste paar keer niks ‘hoor’ nie. Onthou, jou ore moet soort van weer geoefen raak om God se stem te onderskei tussen al die ander. Hou dus aan om te luister.

LEES OOK: WORD STIL EN LUISTER

BLY MET HOM IN KONTAK.

Praat ook gereeld deur die dag met die Here.

As jy aan Hom dink, praat met Hom.

As jy sukkel met iets, vra Hom vir Hulp.

Wanneer jy wysheid of leiding nodig het, vra Hom daarvoor.

Dank Hom vir die seëninge in jou lewe.

Vra Hom om jou te help met die vergadering wat jy moet bywoon.

Bid vir jou kollega se kind wat siek is.

Dit maak eintlik nie saak waaroor jy met die Here praat nie, onthou net om dit te doen!

Jy sal spoedig uitvind dat jy graag meer tyd met Hom wil spandeer om met Hom te praat en na Hom te luister.

Jy sal agterkom dat jy weer honger na die Here.

En jy sal beslis agterkom dat Sy Teenwoordigheid baie bevredigender is as enige iets anders.

Jesus is die Brood van die Lewe.

Kom na Hom toe en laat Hy jou bevredig!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *