JESUS IS DAAR, HY SORG VIR JOU.

In hierdie onseker tyd kan jy verseker weet, Jesus is daar, Hy sorg vir jou. Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie.

Jesus is daar, Hy sorg vir jou

Ek wil vandag ‘n storie met jou deel wat iemand, wat voorheen in ons Bybelstudie was, ‘n paar jaar gelede vertel het.

Omdat ek nie haar regte naam wil gebruik nie, noem ons haar sommer Sanette.

Sanette is ‘n diabeet en dié dag het sy nie veel te ete gehad nie. Die gevolg was dat sy flou geword het. Haar man het haar die aand na werk eers gekry.

Hy het haar dadelik hospitaal toe gevat.

Omdat die aanval baie soos ‘n beroerte gelyk het, het die hospitaalpersoneel begin het om allerhande toetse te doen, om uit te vind wat die oorsaak was.

Sanette kon glad nie praat nie, so hulle was nie seker of dit regtig ‘n beroerte was en of dit maar net was omdat haar bloedsuiker te laag was nie.

JESUS IS DAAR.

Terwyl sy nie kon praat nie, het Sanette op ‘n stadium baie onrustig geraak, en sy het begin hiperventileer.

Ons predikant, wat by haar was, het probeer om haar te kalmeer. Hy het vir haar gesê om diep en stadig asem te haal.

Dit het ongelukkig nie gehelp nie, want hoe harder sy probeer het om normaal asem te haal, hoe minder kon sy dit regkry.

Toe bid sy, en vra die Here Jesus om haar te help om te kalmeer.

Sy vertel dat sy in haar geestesoog gesien het Jesus is daar by haar.

Hy het oor haar gebuig, Sy mond oor haar neus gesit, en begin om Sy asem in haar in te blaas. Die oomblik toe Hy die eerste teug in haar inblaas, het sy rustig geraak en normaal begin asem haal.

LEES OOK: JESUS IS BY JOU IN DIE VALLEIE

WEER IS HY DAAR.

Later moes sy gaan vir ‘n MRI.

Arme Sanette is nie net ‘n diabeet nie, sy het ook engtevrees.

By die gedagte dat sy nou vir ‘n ruk lank in ‘n baie klein spasietjie moet lê, het sy weer begin benoud raak.

Weer het sy gebid en vir Jesus gevra om haar te help om kalm te bly.

Nog ‘n keer het sy in haar geestesoog gesien Jesus is daar by haar.

Sy het gesien hoe sy voor Hom staan met haar arms omhoog, soos wat ‘n klein kindjie maak wanneer hy wil hê sy ma moet hom optel.

Jesus het haar opgetel en haar teen Sy bors vasgedruk. Teen Sy bors het Sanette gesien hoe sy in ‘n babatjie verander. Jesus het haar styf vasgeou, terwyl Hy heeltyd haar hare en rug streel.

En Sanette was heeltemal kalm gedurende die tyd wat die MRI gedoen is. Sy is ook kort daarna ontslaan, want dit was net haar bloedsuiker wat te laag was.

JESUS IS DAAR VIR JOU.

Hierdie is vir my ‘n baie bemoedigende verhaal.

Sanette het sonder enige twyfel geweet Jesus is daar by haar, dat Hy besig is om vir haar te sorg.

Hy wil vandag, en elke dag, dieselfde vir jou doen.

Hy wil hê jy moet weet Hy is by jou, maak nie saak wat om jou aangaan of wat oor jou pad kom nie.

Jy is nooit alleen nie. Jesus het belowe om jou nooit te verlaat nie, jou nooit in die steek te laat nie.

Dalk sien jy nie in jou geestesoog ‘n prentjie van Hom en wat Hy alles vir jou doen nie, maar jy kan met ‘n geruste hart ten volle op Hom vertrou.

Jesus is daar om vir jou te sorg, na jou om te sien, en jou te beskerm.

Niks kan jou ooit van Sy liefde skei nie.

Hou jou oë op Hom gerig en plaas al jou vertrou in Hom.

Hy gee om vir jou en sal alle dinge ten goede laat meewerk vir jou!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *