God sien jou en Hy hoor jou. Hy het elke oomblik van elke dag Sy oë op jou. Hy weet wat in jou lewe aangaan en wil jou bystaan en help.

Watter probleme het jy op hierdie oomblik?
Dalk is die inperking jou grootste probleem, want jy sukkel om die kinders besig te hou en jy en jou geliefdes is kort-kort in mekaar se hare.
Of dalk het jy jou werk verloor as gevolg van die maatreëls in die land, en jy weet nie hoe jy vir jou gesin gaan sorg nie.
Miskien het jy ‘n onderliggende gesondheidsprobleem, en jy vrees die verspreiding van die virus.
Of miskien het jy een van ‘n duisend ander probleme wat jy nie ‘n oplossing voor sien nie.
Ek weet nie wat jou op hierdie stadium in die gesig staar nie, maar ek weet wél dat God weet!
Hy sien jou. Hy sien die probleem waarmee jy worstel en die vrees in jou hart.
‘N GOD WAT MY SIEN.
In Genesis 16 lees ons van Hagar.
Sarai, haar eienares, het haar kort tevore aan haar man, Abram, gegee as tweede vrou.
Omdat Sarai nie kon kinders hê nie, het sy gedink dis ‘n goeie plan. Haar idee was dat Hagar namens haar kinders sou hê.
Maar toe Hagar agterkom sy is swanger, minag sy vir Sarai.
Die gevolg is dat Sarai haar sleg behandel, en Hagar loop weg.
Langs die pad ontmoet die Engel van die Here haar. Hy beveel haar om terug te gaan na Sarai en haar aan haar gesag te onderwerp.
Sy kry ook by die Engel ‘n naam vir haar seun – Ismael. Dit beteken “God hoor”, want die Here het van haar swaarkry gehoor.
Hagar roep net daar die Naam van die Here aan, en sê, “U is ‘n God wat my sien!”
GOD SIEN JOU.
Hagar het ‘n probleem gehad.
Sy was swanger en, omdat sy weggeloop het van haar eienares, het sy geen heenkome nie.
Maar God sien haar; Hy sien haar swaarkry. En Hy tree in om haar te help.
Hy sien jou ook. Hy sien jou swaarkry.
Die probleem waarmee jy worstel? Hy weet daarvan.
Hy gee om vir jou en wil, as jy Hom toelaat, ook in jou lewe werk en jou help.
GOD HOOR.
Jare later raak Sarai, wat toe Sara genoem word, deur ‘n wonderwerk van God swanger.
Na haar seun, Isak, se geboorte, vra sy vir Abram, toe Abraham, om vir Hagar en Ismael weg te jaag. Sy wou verhoed dat Ismael en Isak albei erf.
Nadat God met hom gepraat het oor die saak (Genesis 21), doen Abraham wat sy vra.
Hy gee vir haar kos en water, en sy en Ismael vertrek.
Die Bybel sê hulle het in die Bersebawoestyn rondgeswerf.
En toe raak die water op.
Hagar het haar seun onder ‘n doringbos gesit en ‘n entjie daarvandaar gaan sit en huil. Sy wou nie by wees as haar seun van die dors doodgaan nie.
Maar God hoor die kind huil en weereens tree Hy in.
Hy vertroos haar deur ‘n belofte aan haar te gee dat Ismael ‘n groot nasie gaan word.
Dan maak Hy haar oë oop, en sy sien ‘n put waar sy die velsak vol water kan maak sodat hulle dors geles kan word.
GOD HOOR JOU.
Net soos God vir Ismael hoor huil het, hoor Hy ook wanneer jy tot Hom roep.
Hy wil jou ook troos met die beloftes in Sy Woord, net soos Hy met Hagar gedoen het.
Jy sien, God los hulle onmiddellike probleem op deur vir hulle water te gee.
Maar Hy sorg ook vir die toekoms deur ‘n belofte waaraan Sy en Ismael kon vashou.
God is by jou om ook jou onmiddellike probleem op te los. Dalk neem dit tyd om te gebeur, maar moenie moed verloor nie. Bly Hom vertrou. Hy sal jou nie in die steek laat nie.
En dan wil Hy ook vir jou toekoms sorg deur die beloftes in Sy Woord.
Vra Hom om jou te lei na die beloftes wat Hy nóú vir jou wil gee.
Wanneer jy weet wat dit is, bêre dit in jou hart deur dit gereeld te lees en te oordink.
Hou vas aan hierdie beloftes, selfs al lyk dit asof niks gebeur nie. Hou veral daaraan vas wanneer dit lyk of die teenoorgestelde besig is om te gebeur.
Onthou, God sien jou. Hy hoor jou. Hy ken die fynste detail van jou lewe en weet presies waarmee jy worstel.
Hou jou oë op Hom gerig net soos Hy Syne op jou hou.
Bly op Hom vertrou.
Op presies die regte tyd, sal elkeen van Sy beloftes aan jou ‘n werklikheid word, as jy daaraan bly vashou!
LEES OOK: GELOOF IN GOD SE WOORD