God verwag geloof en gehoorsaamheid van ons. Ons moet sensitief wees vir Sy stem deur Bybel te lees en te bid en gehoorsaam wanneer Hy vir ons ‘n opdrag gee.

Ek is besig om ‘n boek met die naam, Take It By Force deur Judy Jacobs te lees.
Dit gaan oor geloof, en hoe ‘n mens sterk kan, en moet, staan in jou geloof, veral wanneer dit lyk asof jou gebede nie beantwoord word nie.
In een van die hoofstukke skryf Judy dat die Here vir haar gesê het Hy verwag twee dinge van haar: geloof en gehoorsaamheid. Hy verwag dat ons sensitief moet wees vir Sy stem deur elke dag Bybel te lees en te bid. En dan verwag Hy absolute gehoorsaamheid wanneer Hy vir ons ‘n opdrag gee.
GELOOF EN GEHOORSAAMHEID.
Geloof en gehoorsaamheid is twee dinge waarmee baie van ons ‘n probleem het.
Sommige van ons sukkel met net een van die twee, terwyl ander ‘n bietjie met altwee sukkel.
Ek moet erken dat ek nie regtig ‘n probleem met die geloof-deel het nie, maar wat die gehoorsaamheid aan betref, skiet ek soms te kort.
Die Here het byvoorbeeld verlede week vir my ‘n opdrag gegee, en dit het my twee dae geneem voor ek uiteindelik gedoen het wat Hy gevra het!
Dit was nie dat ek nié wou doen wat Hy gevra het nie, ek het dit bloot net bly uitstel. Daar was heeltyd iets anders wat ek as dringender beskou het.
God het egter ‘n baie goeie rede waarom Hy vra dat ons lewens gekenmerk moet wees deur geloof en gehoorsaamheid.
Jy sien, in elke opdrag van God is daar ‘n vorm van seën opgesluit. Soms is die grootste deel van die seën vir jouself, ander kere vir iemand anders.
Dit maak egter nie saak wie die grootste gedeelte van die seën ontvang nie, feit bly staan dat daar altyd seën voortspruit uit geloof en gehoorsaamheid.
LEES OOK: ONTWIKKEL JOU GELOOF – SES STAPPE
GOD SE SEëN OP GEHOORSAAMHEID.
Vandag wil ek graag met jou ‘n getuienis deel van ‘n predikant in Amerika. Hy het God gehoorsaam, en het nie net self groot seën ontvang nie, maar sy gemeente is ook geseën deur sy gehoorsaamheid.
Bill Cornelius se gemeente was iewers in 2004/2005 besig om ‘n nuwe kerkgebou te bou.
Op ‘n stadium gedurende die bouproses, het die kostes in die boubedryf geweldig opgegaan. Die gevolg was dat die gebou nou baie meer sou kos as wat aanvanklik voor begroot is.
Die deel van die stad waar hulle was, was ‘n deel waar daar nie baie geld was nie.
Daar was baie enkelma’s, baie mense wat minder as $20 000 ‘n jaar verdien, ensovoorts.
Op ‘n dag skakel die boukontrakteur vir Bill. Hy deel hom mee dat hulle nou nog driemiljoen dollar gaan nodig hê om die gebou te voltooi.
Bill weet nie wat om te doen nie.
Dadelik begin hy raad vra. Almal raai hom aan om terug te gaan na die gemeente en weer vir hulle geld te vra.
Bill was egter nie regtig bereid om dit te doen nie. Hy het immers geweet het wat die geldelike posisie van meeste gemeentelede was.
Ten spyte van die feit dat hy nie weer wou vra nie, het hy begin om ‘n preekreeks saam te stel, en beplan om tog aan die einde van elke diens te vra vir donasies.
Die eerste preek sou hy een aand preek.
DIE OPDRAG.
Voor die diens begin het, het Bill ‘n uur tyd gehad waar hy nie regtig besig was nie. Hy besluit toe om ‘n boek wat ‘n vriend vir hom gestuur het te begin lees. Die boek het gegaan daaroor om te gee, en Bill het gedink dat hy dalk iets in die boek kon lees wat hy gedurende die diens kon gebruik.
In hoofstuk een lees hy hoe die skrywer vertel dat hy al meer as een kar weggegee het, hoe hy huise weggegee het, en wat die Here in antwoord op sy gehoorsaamheid gedoen het.
Bill is geskok en maak die boek toe.
Die volgende oomblik vul die Heilige Gees die vertrek en sê vir Bill twee dinge: “Obey Me instantly” en “I will not share My glory with anyone”. En toe sê die Heilige Gees nog iets: gee vanaand jou motor weg.
Hiervoor het Bill nie kans gesien nie en hy probeer toe met God onderhandel.
Hy onderneem om sy kar weg te gee as sy vrou daartoe instem.
Daarna skakel hy sy vrou en vertel vir haar wat God vir hom gesê het. Haar eerste reaksie is: wie se motor – myne of joune? Bill antwoord dat dit sy motor is. Sy vrou is aanvanklik ook nie gewillig nie, maar sê aan die einde van die gesprek dat as Bill oortuig is dit is wat God wil hê hulle moet doen, dan is dit reg so.
Nou is dit amper tyd om te gaan preek, en toe kry Bill nog ‘n skok.
Die Here sê vir hom dat hy nie die preek moet preek wat hy beplan het nie, maar dat hy die storie wat hy in die boek gelees het, met die gemeente moet deel.

ONMIDDELLIKE GEHOORSAAMHEID.
Weer probeer Bill onderhandel. Hy het darem lank aan die preekreeks gewerk!
Maar God sê vir hom: “Obey Me instantly”, dus doen Bill wat God gesê het, en vertel vir sy gemeente die storie in die boek.
Dan vra hy hulle om God dadelik te gehoorsaam, wat ookal Hy vir hulle vra om te doen.
As dit is om te gee, moet hulle gee, selfs al sê God nie dat hulle vir die kerk moet gee nie, maar vir iemand anders. Hulle gemeente het as ‘n reël nie aan die einde van die diens ‘n geleentheid dat mense vorentoe kom nie. Maar daardie aand kom mense sommer uit hulle eie, sonder dat hulle gevra word!
Hulle kom bid, hulle kom gee bydraes, ensovoorts.
Na die diens sê God vir Bill dat hy sy motor moet gaan skoonmaak. Bill neem ‘n plastiese sak en gaan haal al die kinders se speelgoed en hulle ander persoonlike goed uit die motor.
Terwyl hy daarmee besig is, raak hy al hoe meer opgewonde oor die motorweggee-idee. Wie gaan die motor kry? ‘n Enkelma, ‘n arm student, wie?
Hy vra God, en God sê vir hom dat moet ophou om sy eie idees te hê oor wie die kar gaan kry. Die persoon wat die motor moet kry, sal in die volgende diens vorentoe kom.
WANNEER JY SY STEM HOOR.
Gedurende die tyd wat hulle die kollekte opneem in die tweede diens, staan daar ‘n man op en kom gee vir Bill ‘n $100 noot. Bill neem die noot, haal sy motorsleutel uit sy sak, en gee dit vir die man.
Die man wil eers nie die sleutel neem nie, maar omdat Bill daarop aandring, vat hy dit.
Na die diens kom die man na Bill toe en vra of hy met hom kan praat. Hy vertel vir Bill dat hy ‘n jaar tevore tot bekering gekom het, maar dat hy nie vreeslik baie kerk toe kom nie.
Daardie aand het hy en sy vrou baklei omdat sy vir hom gesê het die Here praat met haar. Hy het dit afgemaak as onsin. In sy woede het hy naderhand by die deur uitgestorm. Sy vrou roep toe agter hom dat, wanneer hy die dag vir God met hom hoor praat, hy dadelik moet gehoorsaam.
Die man is toe kerk toe. Toe die offer opgeneem word, haal hy sy beursie uit. Daar is ‘n honderddollar noot en ‘n twintigdollar noot in. Hy vat die twintigdollar en vir die eerste keer het hy die gewaarwording dat Iemand met hom in sy binneste praat en vir hom sê om die honderddollar te gee.
Hy neem die honderddollar en sit dit in die bordjie neer. Weer ‘hoor’ hy die stem wat vir hom sê om die geld nie in die bordjie te sit nie, maar dat hy moet opstaan en dit vorentoe neem.
Dit is dan wat hy gedoen het. En daar kry hy ‘n motor, wat hy glad nie verwag het nie!

ANDER IS OOK GEHOORSAAM.
Na sy gesprek met die man begin Bill iemand soek wat hom kan huistoe neem. Hy vra een van die kerkraadslede, maar dié antwoord dat hy nie kan nie, want hy het pas sy motor weggegee!
Saam stap hulle na ‘n gemeentelid en vra of hy hulle kan huistoe neem, maar weer kry hulle die antwoord dat hy nie kan nie, want hy het pas sy motor weggegee.
Dan sien hulle ‘n student en een van die mans begin hom vra vir ‘n saamrygeleentheid. Hy val homself egter in die rede omdat hy onthou die student het nie ‘n motor nie. Groot is hulle verbasing toe die student antwoord dat hy hulle wel kan huistoe neem. Hy het sopas ‘n motor present gekry!
‘n Dag of wat later kom sien ‘n man vir Bill by sy kantoor. Hy vertel Bill dat hy ‘n besigheid begin het toe hy 25 was. Ongelukkig het hy nie regtig geweet het wat hy doen nie. Maar hy het God absoluut vertrou en Hy het hom gehelp dat die besigheid baie goed doen. Hy was die aand in die kerk toe Bill sy motor vir die ander man gegee het,. Net daar het God vir hom gesê om te help met die geld vir die bou van die kerk.
Hy gee vir Bill tweemiljoen van die driemiljoen dollar wat hulle nodig het. Toe die man wegstap sê God vir Bill: “I am not done yet!” Binne twee weke samel hulle op verskillende maniere die ander miljoen dollar ook in!
Aanvanklik was die bedrag wat vir die bou van die kerk nodig was, 2.7 miljoen dollar. Dit het die gemeente twee jaar geneem om in te samel. Die tweede bedrag was driemiljoen dollar en het net twee weke geneem.
‘N SPLINTERNUWE MINIBUS.
Twaalf uur na Bill sy motor weggegee het, kom daar ‘n paartjie by sy huis aan. Die vrou vertel dat sy ‘n rukkie tevore vir haar ‘n nuwe motor gekoop het. Daarna het haar man haar verras met nog ‘n motor. Die Here het egter nou vir haar gesê dat sy die een motor vir Bill en sy familie moet gee. (MINIVAN)
Binne minder as ‘n dag het Bill nie meer ‘n vervoerprobleem nie, want God het vir hom ‘n splinternuwe minibus gegee!

GEHOORSAAMHEID AAN GOD.
God verwag van ons as Sy kinders om Hom te glo en vertrou en dat ons te alle tye in absolute gehoorsaamheid aan Hom sal leef.
Wat het God vandag vir jou gesê? Het jy Hom al gehoorsaam?
My gebed is dat elkeen van ons fyn sal luister vir God se opdragte, en dadelik gehoorsaam sal wees aan wat Hy vir ons sê.