LESSE UIT DIE LEWE VAN MARIA

In Lukas 1 lees ons van die engel se besoek aan Maria. Watter lesse kan ons leer uit hierdie klein gedeeltjie van haar lewe?

Lesse uit Maria se lewe

Maria, die moeder van Jesus, is seker die bekendste vrou in die Bybel.

Vandag gaan ons na ‘n klein gedeeltjie van haar lewe kyk om te sien watter lesse ons daaruit kan leer.

MARIA KRY ‘N BOODSKAP VAN GOD.

In Lukas 1 lees ons van Maria, ‘n jong meisie wat verloof was aan ‘n man met die naam Josef.

Op ‘n dag het ‘n engel aan haar verskyn. Hy het haar gegroet met die woorde, “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

Die Bybel sê Maria was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat sy groet kon beteken.

Verder het hy vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

GOD MAAK DIE ONMOONTLIKE, MOONTIK.

Hierdie woorde van die engel het Maria dadelik aan die dink gesit.

Hoe kon so iets moontlik wees?

Sy was nie getroud nie. Sy het nog nooit met ‘n man omgang gehad nie. Hoe kon sy ‘n Seun in die wêreld bring?

Sy hou egter nie haar gedagtes vir haarself nie, maar vra die engel hoe dit moontlik is.

Die engel antwoord dat die Heilige Gees oor haar sal kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in haar wek. Dan voeg hy by: “Niks is vir God onmoontlik nie.”

DIE EERSTE LES.

Net hier leer ons die eerste les.

Niks is vir God onmoontlik nie.

Ons het dit verlede week in twee ander vrouens se lewens ook gesien.

Sara het ‘n seun ontvang toe sy al heeltemal te oud was om kinders te hê. En Hanna het een ontvang nadat sy vir baie jare kinderloos was.

Dit maak nie saak wat die probleem is wat ons in die gesig staar nie, die Here kan dit binne ‘n oogwink oplos.

Al lyk dit na iets wat nie ‘n oplossing het nie, omdat ‘n menslike oplossing onmoontlik is, is niks vir God onmoontlik nie.

Die Bybel leer ons ook dat alle dinge moontlik is vir die een wat glo (Markus 9:23, OAV).

Hoekom?

Omdat ons geloof is in die Een vir Wie niks onmoontlik is nie!

EK IS TOT DIE HERE SE BESKIKKING.

Nadat die engel al hierdie dinge vir haar gesê het, het Maria net een antwoord: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Ek dink nie ons besef altyd hoe ‘n groot probleem ‘n meisie gehad het wat in die Bybelse tye swanger was sonder dat sy getroud was nie.

As deel van die volk van Israel, moes sy volgens die Wet van Moses summier met klippe doodgegooi word.

En tog laat sy haar nie van stryk bring nie.

Sy neem die engel op sy woord, wat beteken sy het God op Sy woord geneem, en stel haarself dadelik tot God se beskikking.

Al het sy nie geweet of haar ouers en Josef haar sou glo as sy vir hulle vertel wat die engel vir haar gesê het nie, sê sy in elk geval dat God haar kan gebruik.

LES NOMMER TWEE.

Ons leer les nommer twee uit Maria se woorde.

Sy was bereid om ernstige gevolge te dra as haar familie en vriende haar nie glo nie.

En, al het húlle haar geglo, was daar natuurlik altyd die moontlikheid dat die mense in haar dorp haar nie glo nie, en haar in elk geval stenig.

Maar steeds is sy bereid om deur God gebruik te word.

Kan ek en jy dieselfde sê?

Is ons bereid om deur God gebruik te word wanneer dit iets van ons gaan vra?

Sal ons ook sê ons is tot God se beskikking as dit gaan beteken ons lewens kan in gevaar wees?

Dink maar aan baie mense wat gaan sendingwerk doen in lande waar gelowiges vir hulle geloof vervolg word.

As die Here byvoorbeeld vir jóú vra om in só ‘n land te gaan sendingwerk doen, sal jy ja sê?

Maria was bereid om deur God gebruik te word, ongeag die gevolge.

Ons as God se kinders moet, soos sy, ook bereid wees om deur Hom gebruik te word. Ons moet onthou dat Hy nooit iets van ons sal vra sonder om ons in staat te stel om dit te doen nie.

MARIA SE GELOOF.

Ek dink persoonlik dat Maria se geloof in God baie te doen gehad het met haar optrede en bereidheid om deur Hom gebruik te word.

Deur die engel het Hy onder andere vir haar gesê dat haar Seun as koning oor die nageslag van Jakob sal heers tot in ewigheid.

Dink nou so ‘n bietjie logies hieroor.

Hoe sou die Kind ‘n ewige Koning kon wees as Hy nooit eers gebôre is nie, omdat Sy ma met klippe doodgegooi is?

Maria het dus, sonder dat die engel dit in soveel woorde gesê het, ook ‘n belofte van God gehad dat Hy haar sou beskerm.

Daar was ‘n doel wat hierdie Seun van God op aarde moes vervul, en niks en niemand sou God keer om daardie doel te bereik nie.

En Maria het dit geglo, want sy het God se woorde aan haar geglo.

DIE DERDE LES.

Ons kan hieruit nog ‘n les leer.

Daar is sekere dinge in God se plan wat vas staan, en niemand kan dit keer nie.

Een daarvan is dat Jesus weer gaan terugkom.

Die ou duiwel kan maak wat hy wil, hy sal dit nooit kan verhoed nie. Hy het sy bes probeer om die Messias se geboorte te keer, maar dit het nie gewerk nie.

Toe Jesus gebore is, het hy probeer om van hom ontslae te raak toe Herodes al die seuntjies onder twee jaar laat doodmaak het.

Maar weereens was hy nie suksesvol nie.

Jesus het gekom en die doel wat die Vader vir Hom gehad het, vervul.

En Hy sál op die regte tyd weer kom en alles wat oor Hom in die Bybel voorspel is, wat nog nie gebeur het nie, sal op die regte tyd in vervulling gaan.

Niemand kan dit keer nie.

Niks kan dit verhoed nie.

God se plan staan vas en dit sal gebeur soos Hy gesê het.

DRIE LESSE UIT MARIA SE LEWE.

Ons het vandag gekyk na net een gebeurtenis in Maria se lewe en drie lesse daaruit geleer.

Die eerste les is dat niks vir God onmoontlik is nie.

Les nommer twee is dat ons bereid moet wees om deur God gebruik te word, selfs al kan ons gehoorsaamheid ernstige gevolge hê.

En les nommer drie is dat daar sekere dinge in God se plan is, wat vas staan. Niemand kan verhoed dat hierdie dinge in vervulling gaan nie.

Watter les het jy vandag nodig gehad? Deel dit met ons in die kommentaar hieronder.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *