Jesus gee in Johannes 14:1 vir ons ‘n teenmiddel om te gebruik teen alle dinge wat ons bang maak en ons ontstel – glo in God.
Verlede Woensdag was As-Woensdag.
As jy aan ‘n denominasie behoort wat Lent hou (observe), dan weet jy dat dit die begin van die Lent-periode was.
As jou denominasie egter nie Lent hou nie, dan was die 25ste Februarie die begin van Lydenstyd vir jou gemeente.
Hoe dit ookal sy, ons is vinnig besig om nader te beweeg aan Paasfees. Daarom gaan ons vir die volgende paar weke kyk na die gesprekke wat Jesus met Sy dissipels gehad het in Johannes 14-17.
Dit is Sy laaste gesprekke wat Hy met hulle gehad het. ‘n Mens se laaste woorde aan jou geliefdes is verseker iets wat hulle vir altyd sal onthou.
Jesus s’n is dan ook nie veel anders nie.
Dit was belangrike dinge wat Hy met hulle gedeel het. Juis daarom is dit ook belangrik dat ons daarna kyk en leer wat Hy vir hulle, en ons, daaruit wil leer.
‘N BIETJIE KONTEKS.
In Johannes 14:1 lees ons: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.”
In konteks gesien, is Jesus se woorde ‘n bemoediging vir Sy dissipels.
Hy het pas vir hulle gesê dat een uit hulle groep, Judas, Hom gaan verraai.
Hy het ook gesê Petrus, wat baie braaf was en gesê het hy is selfs bereid om saam met Jesus te sterf, gaan Hom verloën.
En laastens het Hy vir hulle iets gesê, wat Hy al telkemale voorheen vir hulle gesê het. Tot nou toe het hulle dit nie nie so mooi verstaan nie. Hy sê dat Hy gaan sterf.
Al hierdie dinge was genoeg om enige mens te ontstel.
WAT ONTSTEL JOU?
Hoewel ons nie in die dissipels se skoene is nie, is daar steeds soveel dinge in ons lewens wat ‘n mens kan ontstel en bang maak.
Die politieke probleme in Suid-Afrika gee mense slapelose nagte.
Mense is bekommerd oor die droogte, werkloosheid en die misdaad in die land.
Daar is diegene wat baie bekommerd is oor die Corona-virus wat, volgens berigte, besig is om te versprei.
Ouers bekommer hulle oor hulle kinders en volwasse kinders bekommer hulle oor hulle ouers.
Kinders bekommer hulle oor skool, die ‘regte’ vriende, en wat die nuutste gier is wat hulle moet navolg om in tel te wees by hulle maats.
Dinge om jou oor te bekommer en om ontsteld oor te wees, is daar baie van.
DIE OPDRAG.
Jesus sê egter ons moenie ontsteld wees nie.
In die Engelse vertalings staan: “Do not let your hearts be troubled.”
As jy al bietjie die Woord bestudeer het, sou jy seker al opgemerk het dat God se opdragte, veral in die Nuwe Testament, altyd met die hulp van die Heilige Gees uitgevoer kan word.
Ons kan dit nié op ons eie doen nie, maar ons is ook nie veronderstel om dit op ons eie te doen nie.
God het vir ons Sy Gees gegee om ons te help.
As jy dít in gedagte hou, dan is hierdie woorde van Jesus regtig baie bemoedigend. dit beteken ons kán iets daaromtrent doen dat ons harte nie ontsteld is en vrees ons oorweldig nie.
DIE TEENMIDDEL.
Nou wat is dan die teenmiddel?
Wat doen ons om van die ontsteltenis en vrees ontslae te raak?
Jesus gee Self die antwoord.
Glo in God. Glo ook in Jesus.
Wanneer ons ons fokus verander en ons oë op Jesus rig, verander ons uitkyk op die lewe.
LEES OOK: GELOOF IN GOD SE WOORD
HOU HOM VOOR Oë.
Hou Jesus voor oë, en die probleem lyk sommer kleiner.
Hoe meer jy besef dat Hy jou liefhet, en dat Hy jou in elke situasie bystaan en wil help, hoe minder gaan jy ontsteld raak oor situasies wat onmoontlik en sonder oplossing blyk te wees.
Hoe grote Hý in jou oë word, hoe kleiner gaan alle ander dinge word.
Geloof en vertroue in Hom bring vir ons ‘n vrede wat ‘n mens nie kan beskryf nie.
VREDE WAT JOU VERSTAND TE BOWE GAAN.
In Filippense 4:6-7 staan: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Hier sien ons die manier om die oë op God te vestig en alle probleme kleiner te laat lyk, is om by Sy voete stil te word en alles in jou lewe met Hom te deel.
Gee elke probleem in Sy hande oor, dank Hom dat Hy weet wat om daaromtrent te doen, en dat Hy Sy wysheid met jou sal deel en jou sal wys as daar iets is wat jý moet doen.
Wanneer jy dít doen, sal Sy vrede oor jou hart en gedagtes wag hou, en alle ontsteltenis sal by die deur uitvlug.
LEES OOK: BEKOMMERD? GEE DIT VIR GOD
GLO IN GOD.
Kom dus met alles eerste na die Here toe.
Vertrou Hom dat Hy is wie Hy sê Hy is.
Jy moet Hom ook ertrou Hom dat Hy kan doen wat Hy sê Hy sal doen.
En vertrou Hom dat Hy Sy beloftes sal hou.
Moenie langer ontsteld wees nie.
Glo in God die Vader en in Sy Seun, Jesus.
Bid tot Hom en vertrou Hom om jou gebede te verhoor.
En Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, sal oor jou hart en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
AKSIESTAPPE:
Bid in alles tot God.
Glo dat Hy is en dat Hy sal antwoord.
Vertrou Hom om Sy beloftes te hou.
Dank Hom vir wie Hy is, wat Hy doen, en dat Hy vir jou wysheid gee.
Laat Sy vrede toe om oor jou hart en gedagtes wag te hou.
2 thoughts on “GLO IN GOD”