DANKBAAR – WAARVOOR DANK JY GOD?

Elkeen van ons het baie dinge waarvoor ons dankbaar kan wees, maar soms het ‘n mens ‘n bietjie aanmoedinging nodig om weer die dinge raak te sien waarvoor jy God kan dank.

Waarvoor dank jy God?

Ons is vinnig besig om nader te kom na die einde van die jaar, en dit is altyd goed om terug te kyk en te sien wat God alles deur die jaar in jou lewe gedoen het, waarvoor jy Hom kan dank.

Dalk kan jy sommer vinnig ‘n hele paar dinge noem waarvoor jy dankbaar is. Maar dalk kyk jy terug oor die jaar en jy sien net probleme en hartseer, en jy weet nie regtig of daar iets is waarvoor jy God kan dank nie.

As dít met jou die geval is, dan gaan vandag se gedagtes jou sommer baie help, want selfs wanneer dinge om ons baie donker lyk, en dit lyk asof jy geen rede tot dankbaarheid het nie, is daar steeds dinge waarvoor jy God kan dank.

Ons gaan vandag kyk na verse uit Psalm 136 om ons hiermee te help.

DANKBAAR VIR GOD SE GOEDHEID.

“Loof die Here, want Hy is goed. Aan Sy liefde is daar geen einde nie” (vs.1).

Die eerste rede wat Psalm 136 vir ons gee om God voor te dank, is Sy goedheid. God is goed – Hy is altyd goed. Alles wat Hy doen spruit voort uit Sy goedheid.

Anders as met mense, hoef jy nie te wag tot God die dag in ‘n goeie bui is voor jy Hom nader en tot Hom bid nie. Jy hoef nie bekommerd te wees dat Hy jou gaan uitskel omdat jy Hom pla of dat Hy jou gaan wegwys omdat Hy nie nou lus is om jou te help nie.

Jy kan enige tyd by Hom stil word en met Hom gesels. Hy is daar vir jou en jy kan enige tyd op Sy knoppie druk vir voorsiening, hulp en wysheid.

God is goed, en jy kan ten volle vertrou op Sy goedheid en ook Sy liefde vir jou.

Sy goedheid is die eerste rede tot dankbaarheid.

LEES OOK: HOE OM JOU DAG MET GOD TE EINDIG

DIE SKEPPING.

“Hy het die hemel met soveel insig gemaak. Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy het die aarde op die waters gevestig. Aan Sy liefde is daar geen einde nie” (vs.5-6).

Die tweede rede wat ons vind vir dankbaarheid tot God, is die skepping. Met soveel insig en sorg het God dit geskep. En Hy onderhou alles wat Hy geskep het elke dag. Hy sorg vir die voëls van die hemel, en die lelies van die veld. Hy weet wanneer ‘n mossie op die grond val (Mattheus 10:29) en Hy het selfs die hare op jou kop getel (Lukas 12:7).

God stel intens belang in alles wat Hy geskep het. En Hy het hierdie skepping aan ons gegee om te geniet. Wanneer jy in die oggend wakker word, geniet die vars lug, die sonsopkoms en die voëltjies wat met hulle gesing die dag verwelkom.

Geniet die reën en die wind, die blomme en die bome en die diere.

Kyk elke dag om jou rond en sien alles wat die Here gemaak het. En sê dan vir Hom dankie vir al hierdie mooi dinge wat Hy gemaak het en wat daar is vir jou om te geniet.

JOU VERLOSSING.

“Hy het die Egiptenaars getref met die dood van hulle eersgeborenes Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
en Israel onder hulle uit gelei Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
met Sy groot mag en krag Aan Sy liefde is daar geen einde nie” (vs.10-12).

In Psalm 136:10-15 lees ons hoe God die Israeliete uit Egipte gelei het. Hy het hulle bevry van die slawerny waarin hulle vasgevang was.

Dit wat ons lees van die Israeliete in Egipte, is ‘n beeld van ons as gelowiges. Net soos God hulle uit die mag van die Epigtenare bevry het, het Hy ons ook bevry van die mag van sonde en die dood. Kolossense 1:13 sê: “Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van Sy Seun wat Hy liefhet.”

Dít is ons grootste rede tot dankbaarheid – ons verlossing in Jesus Christus.

Selfs wanneer alle ander dinge in ons lewens skeefloop, kan ons God steeds dank dat ons verloste mense is en dat niks en niemand dit ooit van ons kan wegneem nie.

LEES OOK: GAAN BY DIE SMAL DEUR IN EN WAT DOEN JY MET JESUS?

DANK IN DIE WOESTYN.

“Hy het Sy volk deur die woestyn laat trek. Aan Sy liefde is daar geen einde nie” (vs.16).

Die Israeliete het vir veertig jaar in die woestyn rondgeswerf. Dit was hulle eie toedoen nadat hulle die tien verspieders se negatiewe verslag geglo het en geweier het om die Beloofde Land in besit te neem (Numeri 13).

Maar in al daardie tyd het God hulle nooit verlaat nie. Hy het hulle steeds gelei deur ‘n wolkkolom in die dag en ‘n vuurkolom in die nag. Hy het voor hulle uit gegaan en op die regte tyd, toe al die mense wat veertig jaar tevore in opstand gekom het dood was, hulle weer gebring by die Jordaanrivier. Hierdie keer het hulle God geglo en deur die Jordaan getrek en begin om die land in besit te neem.

Op dieselfde manier lei God ons wanneer ons in die woestyn ronddwaal.

Soms is die woestyn-ervarings ook ons eie toedoen, maar soms is dit iets wat op jou pad kom en jy het niks daarmee te doen gehad nie. Dit maak egter nie saak waarom die woestyn-ervaring jou pad kruis nie, jy kan ten volle op die Here vertrou om jou deur die woestyn te lei.

En, omdat jy weet Hy lei jou en sal jou veilig anderkant bring, kan jy dankbaar wees en Hom reeds in die middel van die woestyn-ervaring dank vir Sy leiding, bystand en hulp.

DANKBAAR VIR DIE OORWINNINGS IN JOU LEWE.

“Hy het groot konings oorwin, Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
magtige konings laat sneuwel: Aan Sy liefde is daar geen einde nie” (vs.17-18).

Elkeen van ons kan op ons lewens terugkyk en ‘n paar oorwinnings uitwys. Hierdie oorwinnings kom van God. Ja, jy het sekere dinge wat jy gehad het gebruik om hierdie oorwinnings te behaal – talent, krag, insig, verstand, ens. – maar al hierdie dinge het in die eerste plek van God af gekom.

Kyk terug na hierdie jaar wat amper verby is, en sien die oorwinnings raak wat God moontlik gemaak het.

Dank Hom daarvoor.

DANKBAAR VIR SY SORG.

“Hy het aan ons gedink in ons vernedering Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
en ons uit die mag van ons teëstanders bevry. Aan Sy liefde is daar geen einde nie.
Hy gee voedsel aan al wat lewe. Aan Sy liefde is daar geen einde nie” (vs.23-25).

Dwarsdeur hierdie jaar het God vir ons gesorg. Hy het ons gebede gehoor en verhoor. Wanneer ons krag en wysheid nodig gehad het en daarvoor gevra het, het Hy dit gegee. Hy het voorsien dat ons genoeg gehad het om te eet en drink en dat ons klere gehad het om aan te trek (Mattheus 6:25-33).

Hy het deur Sy Gees ons geleer en gelei, ons vertroos, gehelp, bygestaan en bemoedig.

Elke tree van die pad was Hy saam met ons, selfs wanneer dit vir ons moeilik was om te sien Hy is regtig daar.

Hy het Sy hand van beskerming om ons gehou en seker gemaak dat ons weer die einde van nog ‘n jaar beleef.

En daarvoor kan ons Hom verseker dank!

As jy vandag so terugdink aan hierdie jaar, wat sien jy daar waarvoor jy dankbaar kan wees?

Waar het jy God se goedheid en sorg beleef?

Het jy tye gehad waar jy die skepping kon geniet?

Was jy in die woestyn, en God het jou deur dit gelei?

Waar het Hy vir jou oorwinnings gegee?

Dank Hom vandag vir al hierdie dinge, en, meeste van alles, dank Hom vir Jesus en vir die verlossing wat joune is as gevolg van jou geloof in Hom.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *