JOU NUWE IDENTITEIT IN CHRISTUS

In Christus het jy ‘n nuwe identiteit. Die Woord van God is die spieël waarin jy moet kyk om uit te vind wie jy is en hoe hierdie idenititeit van jou lyk.

Jou nuwe identiteit in Christus

Volgens Wikipedia is jou identiteit die kwaliteite, geloofsoortuigings, persoonlikheid, voorkoms en/of uitdrukkings wat jou ‘n persoon maak. Met ander woorde, dit is wie jy is.

Ons weet nie veel van Jesus se kindertyd nie, maar die Heilige Gees het dit goedgedink om wel die storie oor Sy besoek aan Jerusalem, toe Hy twaalf was, met ons te deel.

Ons lees dat Jesus saam met Sy ouers Jerusalem toe is vir die Paasfees. Na die feestyd is Sy ouers terug Betlehem toe, maar Hy het in Jerusalem agtergebly. Sy ouers was nie bewus daarvan nie en het gedink Hy is maar tussen die ander reisigers. Daardie aand kom hulle egter agter dat hulle Seun soek is en hulle draai terug Jerusalem toe. Terug in Jerusalem soek hulle na Hom vir ‘n volle drie dae voor hulle Hom uiteindelik in die tempel kry, waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en vrae vra.

Tipies ma vertel Maria dadelik vir haar Seun dat hulle baie bekommerd was oor Hom, waarop Hy antwoord, “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” (Lukas 2:49).

Daar is sekerlik verskeie redes waarom die Heilige Gees juis hierdie storie vir ons laat opteken het, maar een daarvan is beslis om vir ons te wys dat Jesus al op so ‘n jong ouderdom geweet het wie Hy was. Hy was ten volle bewus daarvan dat Hy die Seun van God was. Hy het, om dit so te stel, Sy identiteit geken. En juis daarom kon Hy later, toe die duiwel Hom in die woestyn probeer versoek het, en twee keer vir Hom gesê het, “as jy die Seun van God is…” in geloof bly staan, want Hy het geweet wie Hy is.

God die Vader het vir ons ook ‘n identiteit gegee. Hierdie identiteit kry elkeen wat glo in Jesus as Verlosser. In 2 Korinthiërs 5:17 lees ons die volgende daaroor: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

As jy in Jesus glo, is jy dus nie meer die mens wat jy voorheen was nie.

Jy het nou ‘n nuwe identiteit.

Die Bybel leer vir ons baie dinge oor hierdie identiteit. Dit leer ons onder andere dat ons deel het aan die Goddelike natuur (2 Petrus 1:3-4). Dit leer ons ook dat ons dood is vir sonde, en lewe vir God (Romeine 6:11). Dit leer ons dat ons heilig, sonder smet en onbesrispelik voor God is (Kolossense 1:22). Dit leer ons dat ons nou nie meer in die mag van die duisternis is nie, maar onder die heerskappy van Jesus (Kolossense 1:13).

Ons nuwe identiteit is heilig en rein voor God. Ons nuwe identiteit sê ons is kinders van God en in staat daartoe om ander lief te hê, geduldig te wees, vrede en vreugde uit te straal en die goeie te doen soos God dit doen.

Jesus het presies geweet wie Hy is, en niemand kon Hom anders oortuig nie. Die duiwel het Hom probeer oorreed om Homself te bewys, dat Hy regtig is wie Hy geweet het Hy is, maar Jesus het nie daarvoor geval nie. Die Fariseërs en skrifgeleerdes het met allerhande aantygings en vrae gekom, maar ook hulle kon Hom nie laat twyfel oor Sy identiteit nie.

Wat ons nuwe identiteit aan betref, moet ons soos Jesus wees.

Ons moet die Bybel lees om uit te vind wie ons nou is, want dit is soos ‘n spieël wat jou wys wie jy in die gees is.

Ons moet só oortuig raak van hierdie identiteit dat niemand ons anders kan oortuig nie. Al kom die duiwel met allerhande aantygings, moet ons God glo bo wat hy ons vertel. Al sien ons dat ons steeds met tye sonde doen, moet ons nie daardie sonde neem as ‘n bewys dat ons identiteit nou skielik weer terug verander het na die ou mens toe nie.

Jy is ‘n nuwe mens met ‘n nuwe identiteit.

Hierdie identiteit is net soos Jesus s’n.

En jy kan elke dag vanuit hierdie geestelike identiteit optree en lewe, soos Jesus gedoen het, want dit is wie jy regtig is.

One thought on “JOU NUWE IDENTITEIT IN CHRISTUS

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *