‘n Mens kan nooit genoeg tyd saam met God spandeer nie. As jy reeds die dag met God begin, gebruik hierdie wenke en eindig jou dag met God.
Jy sal nooit jou lewe verander tot jy iets verander wat jy daagliks doen nie. Die geheim van jou sukses lê in jou daaglikse roetine – John C. Maxwell.
So aan die begin van ‘n nuwe seisoen is die Internet en tydskrifte vol artikels en idees oor jou roetine.
Die een beveel aan dat jy jou daaglikse roetine heeltemal verander, terwyl die ander een van mening is dat jy dit net so ‘n bietjie moet opskerp.
Hier lees jy dat jou oggendroetine die belangrikste deel van jou dag is, terwyl jy daar weer sien dat dit eintlik is wat jy in die aand doen wat belangrik is.
Al die skrywers het dit egter eens dat ‘n roetine belangrik is.
Dit is veral die klein dingetjies wat ons daagliks doen wat baie keer die grootste verskil in ons lewens maak.
‘N IDEE VIR JOU ROETINE IN DIE AAND.
Ek wil vandag ook op die roetine-karretjie klim en ‘n paar gedagtes met jou deel.
Elkeen van ons het ‘n roetine wat ons volg wanneer dit kom by ons stiltetyd.
Sommige verkies om in die oggend tyd met die Here te spandeer, ander doen dit weer in die aand.
Ek is ‘n oggendmens.
My stiltetydroetine in die oggend is al vir jare gevestig, en dit werk vir my.
Dit sal baie oortuiging kos om my te laat besluit om enige iets daaraan te verander.
Maar in die aand het ek nog nooit regtig ‘n vreeslike roetine gehad nie.
Ja, ek bid voor ek gaan slaap, maar dit is al.
Ek het egter verlede maand ook begin met ‘n roetine in die aand, wat sover vir my baie beteken.
SKRYF DIE WOORD.
Cultivate What Matters het verlede maand ‘n ‘Write the Word challenge’ gehad, waaraan ek deelgeneem het.
Die idee is dat jy ‘n vers, of selfs ‘n paar verse, uit die Bybel in ‘n notaboekie neerskryf. Dis al.
Ek het dit ‘n bietjie verder gevat, en ook neergeskryf wat ek uit die vers geleer het.
‘n Mens kan dit nog verder vat, en vir jouself ‘n paar vrae opstel, wat jy dan oor die verse vra en antwoord.
Dink aan vrae soos, Wat leer dit my oor God, oor myself as Sy kind, of oor ‘n spesifieke onderwerp?
HOE DOEN EK DIT?
Die skryf van die Woord laat ‘n mens dinge raaksien wat dalk andersins by jou sou verbygaan, en die antwoord van die vrae help jou om oor die verse te dink.
Die slim mense beweer dat ‘n mens dinge beter onthou wanneer jy dit neerskryf, en ek het gevind dat dit regtig so is.
Om die Woord te skryf hoef nie ‘n ingewikkelde storie te wees nie.
Al wat jy nodig het is jou Bybel, pen en notaboekie.
Kies ‘n vers of verse wat jy wil skryf en oordink en begin skryf – so maklik soos dit!
As jy dit graag wil probeer, en jy het ‘n bietjie hulp nodig met die kies van verse, teken in vir ons weeklikse nuusbrief.
Jy sal dan toegang kry tot die Bybel Biblioteek, waar jy gratis Skryf Die Woord-planne (en ander hulpmiddele) kan aflaai.
OORDINK JOU DAG SAAM MET GOD.
Het jy al aan die einde van ‘n dag gekom, en gedink dat jy nie veel uitgerig het nie?
Of dalk het daar iets onaangenaams gebeur, en nou dink jy die hele dag was een groot onaangenaamheid.
As dít ook partykeer met jou gebeur, dan het ek vandag vir jou ‘n teenvoeter daarvoor.
Elke aand, na ek my tyd in die Woord gespandeer het, neem ek tyd om my dag saam met God te oordink.
Eerstens vra ek die Heilige Gees om my te lei soos ek my dag oordink.
Volgende probeer ek om al die goeie dinge wat gebeur het te onthou.
Ek dink ook oor al die take wat ek wél afgehandel het, al was dit dan nou nie almal nie.
En ek sê vir die Here dankie dat Hy by my was en my gehelp het.
Dan werk ek stukkie vir stukkie deur die dag en antwoord vrae soos, hoe het dit wat ek ervaar het, my laat voel? Wat was my gemoedstoestand? Waaraan het ek gedink? Is daar iets wat my benoud of bang gemaak het? Wat het stres veroorsaak?
Ek dink ook aan tye wat ek nie gedoen het wat God wou hê nie.
Ek bely my ongehoorsaamheid en aanvaar God se vergifnis.
Laastens neem ek ‘n kwaliteit besluit dat ek die volgende dag my lewe vir God gaan leef.
Ek vra Hom om in my te werk en my te help om dit te doen.
Nadat ek klaar my dag saam met God oordink het, en ons daaroor gesels het, bid ek vir ander dinge wat Hy op my hart lê en kruip dan in die bed.
As jy ook jou dag saam met God wil oordink, kliek hier om ‘n gratis ‘Oordink jou dag saam met God’ vraeblad af te laai.
TYD MET GOD IN DIE OGGEND EN AAND.
‘n Mens kan nooit genoeg tyd saam met God spandeer nie.
Daarom wil ek jou aanmoedig om nie net jou dag met God in Sy Woord en gebed te begin nie, maar dit ook so met Hom te eindig.
Gebruik die idees hierbo of skep jou eie roetine.
Maar wat jy ookal doen, probeer vir ‘n ruk om meer tyd met die Here in die oggend en die aand te spandeer
Jy sal verbaas wees oor wat se verskil dit aan jou lewe gaan maak.