LEGKAART VAN ‘N NUWE JAAR

Jy het seker al voorheen in jou lewe ‘n legkaart gebou.

Elke persoon het sy eie manier hoe dit gedoen word, maar meeste mense volg darem die basiese stappe.

Eerstens word die legkaartstukkies uit die houer op ‘n plat oppervlak gegooi. Dan word al die stukkies met die prentjiekant boontoe gedraai. Volgende soek ‘n mens die stukkies uit wat ‘n plat kant het en gebruik word om die buitekant van die legkaart te bou.

Sommige mense begin by die hoeke en bou dan die raam van die legkaart. Ander begin enige plek in die raam en bou van daar na die hoeke toe.

Nadat die hele raam gebou is, kom die binnekant van die legkaart aan die beurt.

Stukkie vir stukkie word die prentjie aanmekaar gesit todat die legkaart klaar is en lyk soos die prentjie op die houer.

Dít is nou natuurlik as jy al die legkaartstukkies het, en daar nie een of twee met die jare saam verlore geraak het nie.

Legkaart van 'n nuwe jaar

DIE NUWE JAAR LEGKAART.

‘n Nuwe jaar is soos ‘n legkaart.

Daar is 525600 stukkies wat jy bymekaar moet sit om die volle prentjie te kan sien. (Dit is die hoeveelheid minute wat jy in die jaar het.)

VERSKILLENDE STUKKIES.

Sommige van hierdie stukkies is kleurvol en baie mooi. Hierdie is die legkaartstukkies wat jy aanmekaar sit wanneer dinge goed gaan en jou lewe sommer rooskleurig lyk.

Daar is ook stukkies wat maar so ‘n bietjie vaal lyk. Dit is die alledaagste goed wat jy gereeld moet doen – dinge soos kosmaak, wasgoed en skottelgoed was, die gras sny, die huis skoonmaak en die garage regpak. Nie juis opwindende dinge nie, maar dit is nodig vir ons daaglikse lewe.

Dan is daar stukkies wat net een kleur het. Dit is soms nogal ‘n storie om te probeer uitwerk waar hierdie stukkies nou eintlik inpas. Jy bou hierdie stukkies in jou nuwe jaar legkaart wanneer jy met probleme te doen het.

En dan is daar die stukkies wat lyk asof hulle nie iewers inpas nie. Hoe nader jy egter daaraan kom om die legkaart te voltooi, hoe meer vind jy dat daar tog ‘n plekkie is vir hierdie skynbaar doellose stukkies. Wanneer daar een of ander baie moeilike omstandigheid of hartseer in jou lewe opduik, is jy besig om hierdie stukkies in die legkaart te bou.

Jy verstaan dalk nie die doel daarvan todat alles verby is en jy terugkyk en besef, “My aarde, nou sien ek! Daar was gegroei en ek het verander gedurende hierdie tyd. Ek het ook geleer om die Here meer te vertrou en op Hom te steun. Nou kan ek die goeie sien wat daaruit gekom het, selfs al het dit op ‘n stadium gelyk asof daar nooit iets goeds daaruit sou voortspruit nie.”

BOU JOU LEGKAART.

Elke minuut van elke dag is ‘n legkaartstukkie wat die Here in jou hand gesit het. Jy is besig om bietjie vir bietjie, stukkie vir stukkie, hierdie legkaart aanmekaar te sit totdat jy die einde van die jaar bereik en terugkyk, en die volle prentjie sien.

Jy sien:
die mooi en die swaarkry;
alles wat vir jou maklik was om te doen, maar ook dié dinge waarmee jy gesukkel het;
die mense wat God gebruik het om jou te help om jóú legkaart te bou;
en ook hoe Hy jou gebruik het om ander te help om húlle s’n aanmekaar te sit.

En jy weet die prentjie is mooi, want God was deel daarvan.

Volgende jaar gaan God weer vir jou ‘n nuwe legkaart gee, en jy gaan begin om dit gedurende die jaar te bou totdat jy dit voltooi aan die einde van die jaar.

En elke keer kan jy terugkyk en besef jy het aan die begin nie geweet hoe die prentjie gaan lyk nie, maar jy het dit gebou en dit het uitgekom presies soos dit moes.

Seën vir jou met die bou van jou legkaart in 2020!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *