HOE OM ‘N WEEK LANK OOR EEN BYBELVERS NA TE DINK

Het jy geweet dat dit moontlik is om vir ‘n hele week lank oor net een vers of ‘n kort gedeelte in die Bybel na te dink? ‘n Mens is geneig om te dink jy moet elke dag aangaan waar jy gister opgehou lees het. En soms is dit nie ‘n slegte idee om dit te doen nie, veral as jy besig is om die Bybel van voor tot agter deur te lees. Maar dis ook ‘n goeie idee om vir ‘n ruk lank stil te staan by ‘n vers of gedeelte sodat jy regtig alles wat jy daaruit kan leer, kan raaksien.

Vandag wil ek met jou gesels oor ‘n paar eenvoudige stappe wat jy kan gebruik om vir sewe dae lank oor ‘n vers of gedeelte in die Bybel, na te dink. Die stappe bou op ‘n manier op mekaar, maar jy hoef dit nie regtig in die volgorde waarin ek dit gee, te gebruik nie. As jy die dag meer tyd het, gebruik ‘n stap wat jou langer gaan vat. En as jy minder tyd het, kies dan een van die stappe wat nie soveel tyd in beslag gaan neem nie.

Hoe om 'n week lank oor een Bybelvers na te dink

Jou heel eerste stap is om ‘n vers of gedeelte waaroor jy wil nadink, te kies. Daar is ‘n paar vrae wat jy jouself kan vra om jou hiermee te help.

Het jy die afgelope tyd iets in die Bybel gelees wat vir jou uitgestaan het? Dit kan jou fokusvers of fokusgedeelte wees.

Of dalk het jy iets gelees waaroor jy meer wil weet. Maak dit dan jou fokusgedeelte.

Het jy ‘n gunsteling vers of gedeelte in die Bybel? Gebruik dit as fokusvers of fokusgedeelte sodat jy kan sien wat die Here jou alles daaruit wil leer.

Jy kan selfs net die vers of gedeelte wat laaste jy in die Bybel gelees het, as fokusvers of gedeelte gebruik.

Nadat jy besluit het watter vers of gedeelte jy wil gebruik, is jou volgende stap om dit in konteks te lees, sodat jy weet wat voor en na die vers of gedeelte staan. Dit gaan jou help om nie iets in die vers of gedeelte in te lees, wat die skrywer nie regtig daarmee bedoel het nie. En dan volg jy eenvoudig elke dag een van hierdie stappe om oor die vers of gedeelte na te dink.

Op dag 1 gaan jy die gedeelte wat jy wil oordink – of dit nou een vers is of ‘n hele paar verse – woord-vir-woord neerskryf. Wanneer jy net deur ‘n gedeelte lees, veral as jy ‘n vinnige leser is, is daar dinge wat by jou kan verbygaan. Maar as jy dit wat jy lees neerskryf, help dit jou om stadig deur die gedeelte te werk. Dit wat ‘n mens neerskryf, onthou jy ook gewoonlik beter.

Jy kan selfs, as jy net een vers wil oordink, dit sommer ‘n paar keer neerskryf, sodat jy regtig sien wat daar staan. Gebruik elke keer ‘n ander kleur pen om dit interessant te hou.

Na jy die vers of verse neergeskryf het, is dit ‘n goeie idee om ‘n paar aantekeninge te maak van woorde, frases of gedagtes wat vir jou uitstaan. Jy kan ook in kort skryf waarom dit vir jou uitstaan. Moenie lang verduidelikings skryf nie. Net ‘n paar kort punte is genoeg om jou te help onthou wat uitgestaan het en waarom.

Onthou veral om neer te skryf wat ‘n vers of gedeelte jou oor God leer. Die Bybel is immers ‘n boek oor Hóm, so maak seker jy let op na wat ‘n gedeelte oor God leer.

Op dag twee gaan jy een van die verse wat vir jou in die gedeelte wat jy oordink uitgestaan het, kies om dieper oor te dink. As jy in elk geval net een vers het waarna jy kyk, dan is dit jou vers.

Skryf die vers wat jy kies weer ‘n slag in jou joernaal of notaboek neer. Na jy dit neergeskryf het, gaan jy dit hardop lees en klem lê op die eerste woord. As jy klem lê op die eerste woord, wat staan vir jou uit? Wat sê dit vir jou omtrent die vers en wat daar staan? Skryf al jou gedagtes neer.

Lees dan weer die vers en beklemtoon die tweede woord. Wat staan vir jou uit? Sien jy die vers nou in ‘n ander lig? Skryf weer neer wat jy sien en leer.

Hou aan om elke keer die vers te lees terwyl jy die volgende woord in die vers beklemtoon. Skryf neer wat jy leer wanneer jy daardie woord beklemtoon.

Kom ons veronderstel jy wil Psalm 23:1a oordink. Daar staan: “Die Here is my Herder…”

Die eerste woord wat jy gaan beklemtoon is die woorde ‘Die Here’. Wanneer ek dit beklemtoon, staan vir my uit dat die God van die heelal, die Skepper van alle dinge, my Herder is. Nie ‘n ander mens nie. Nie ‘n instansie, die regering, my werk, of enige iets anders nie. Die Here.

Volgende beklemtoon ons die woord ‘is’. Dit sê vir my dat Hy nie ‘miskien’ my Herder is nie. Hy is my Herder. Dit sê vir my dat Hy nie ‘dalk’ my Herder is wanneer my lewe in orde is en alles verloop soos ek dit graag wil hê nie. Nee, Hy is my Herder, ongeag hoe my omstandighede lyk.

Die volgende woord wat ons beklemtoon, is die woord ‘my’. Wanneer ek dit beklemtoon, dan sien ek dat die Here nie net ander gelowiges se Herder is nie, maar myne ook. Hy is, om dit so te stel, my eie persoonlike Herder!

Die laaste woord wat ons beklemtoon is die woord ‘Herder’. Wat doen ‘n herder? Hy pas sy skape op. Een ding wat die Here dus vir my as my Herder doen, is om my op te pas en te beskerm. Nog iets wat ‘n herder doen is om sy skape te versorg. As my Herder, is dit dan ook deel van God se sorg om na my om te sien deur te voorsien wat ek nodig het.

Hierdie is net ‘n kort voorbeeld van hoe ‘n mens te werk gaan om te fokus op die verskillende woorde in ‘n vers. As jou vers baie woorde het, en jy het nie genoeg tyd om deur die hele vers te werk nie, kan jy altyd ‘n gedeelte van die vers een dag doen en die res van die vers die volgende dag. Jy kan selfs drie of vier dae gebruik om op hierdie manier deur ‘n vers te werk. Onthou, dit gaan nie oor die hoeveelheid dae wat jy gebruik om oor ‘n vers na te dink nie, maar oor wat die Here jou daaruit leer.

‘n Goeie manier om seker te maak jy verstaan regtig wat in ‘n vers of gedeelte staan, is om dit in jou eie woorde neer te skryf. Verbeel jou dat jy en jou vriend of vriendin in ‘n koffiewinkel sit en kuier. Julle gesels oor die Bybel en wat julle daardie week daaruit geleer het. Jy wil vir jou vriend vertel van die gedeelte waaroor jy nadink.

Wat sou jy sê?

Verduidelik wat in die vers of gedeelte staan, waaroor dit gaan. Verduidelik ook wat jy sover daaruit geleer het. Onthou om al hierdie dinge neer te skryf.

Nog ‘n manier om vas te vang wat ‘n vers jou leer, is om dit visueel voor te stel. Hier kan jy jou verbeelding vrye teuels gee en regtig die vers in jou geestesoog tot lewe sien kom.

Teken ‘n eenvoudige prent wat verduidelik wat die vers beteken. Hou dit so eenvoudig dat selfs ‘n kind dit sal kan verstaan.

Jy dink dalk dat jy nie juis ‘n kunstenaar is wat mooi kan teken nie, maar moenie dat dit jou keer om hierdie stap te probeer nie. Jou tekening hoef nie perfek te wees of soos ‘n kunswerk te lyk nie. Die idee is dat jy die stap gebruik om die vers of gedeelte verder te verwerk, nie om iemand met jou kuns te beïndruk nie.

Soms is die lesse wat ‘n mens uit ‘n vers of gedeelte kan leer, dinge wat jy reeds weet en glo. Ander kere veroorsaak die les of lesse wat jy leer dat jy meer vrae het as antwoorde.

Gebruik vandag om weer deur die gedeelte te lees en enige vrae wat jy het, neer te skryf. Is daar iets wat jy nie verstaan nie? Is daar iets wat jou nuuskierig maak? Het jy iets raakgesien wat dit wat jy nog altyd geglo het, weerlê?

Gebruik jou vrae om ‘n dieper studie te doen van die gedeelte waaroor jy die week nadink. Soek antwoorde in die Bybel self, in kommentare of vra iemand wat jy vertrou, wat ‘n goeie kennis van die Bybel het.

Baie mense dink hulle lees die Bybel sodat hulle weet wat daarin staan. En dis waar, ons moet weet wat in die Bybel staan. Maar dis nie al nie. Dit wat ons uit die Bybel leer, moet ‘n impak hê in ons lewens. Dit moet ons harte, gedagtes, woorde en dade verander.

Die volgende stap is dan nou ook om, saam met die Heilige Gees, na te dink oor dit wat jy uit die vers of gedeelte geleer het. Hoe kan jy dit in jou lewe toepas?

Skryf neer wat die Heilige Gees jou wys en maak ‘n punt daarvan om dit, weereens met Sy hulp, te begin uitleef.

Jy het seker ook al agtergekom dat ‘n mens maklik vergeet wat jy vroeër die week gelees, gehoor, gesien en gedoen het. In die meeste gevalle maak dit nie regtig saak nie. Jy het byvoorbeeld nie nodig om Vrydag te onthou wat in die fliek, wat jy Maandag op Netflix gekyk het, gebeur het nie. Dis onbelangrik.

Maar dit wat jy uit die Bybel geleer het, is van soveel waarde dat jy dit nie wil vergeet nie. Daarom is jou laaste stap vir die week om weer deur al jou notas wat jy oor die gedeelte of vers waarna jy gekyk het, te lees.

Soms gaan dit gebeur dat jy weer deur jou notas lees en agterkom iets wat jy vroeër die week nie verstaan het nie, maak nou vir jou meer sin. Jy kan dalk ook sien dit wat jy vroeër die week raakgesien het, is nie heeltemal die waarheid nie. Dalk gaan jy net raaksien hoe jou verstaan van die vers of gedeelte gegroei het. En dalk gaan jy, soos jy lees, aan nuwe maniere dink om dit wat jy geleer het, uit te leef.

Skryf al hierdie dinge ook in jou notaboek of joernaal neer, sodat jy dit nie vergeet nie.

Om vir ‘n hele week oor net een vers of kort gedeelte na te dink, mag eenvoudig lyk, maar dit kan ‘n groot verskil in jou geestelike lewe maak. Dis wanneer ons stadig en rustig saam met God tyd in die Woord spandeer, wat ons begin om dinge raak te sien, wat ons andersins sou mis. Dis dan waar die Woord nie net ‘n boek word wat ons lees nie, maar een wat ons vorm, lei en verander.

so, gee vandag nog vir die Here die geleentheid om deur Sy Woord met jou te praat en kyk hoe Hy dit gebruik om jou elke dag ‘n bietjie nader aan Hom te bring en jou te verander sodat jy meer soos Hy lyk.

Die stappe hierbo is ideaal om in jou stiltetyd te gebruik. Maar as jy nog nie ‘n gereelde stiltetyd het nie, dan wil ek jou uitdaag om sommer vandag nog daarmee te begin.

En as jy hulp nodig het daarmee, kyk dan gerus na Die Stiltetyd Skatkis, wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. In dié skatkis is daar drie e-gidse:

By Jesus Se Voete – ons stiltetydgids wat jou gaan help om te leer hoe om stil te word by die voete van Jesus.

Hart Tot Hart – ons gebedsgids wat jou help om die basiese beginsels van gebed te verstaan en te begin toepas.

Jesus, Die Bybel, En Jy – ons gids waarin jy leer hoe om die VOLG-metode te gebruik om tyd in jou Bybel te spandeer sodat jy dit beter verstaan en ook kan toepas in jou lewe.

Maak dus sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel en kry vir jou Die Stiltetyd Skatkis sodat jy kan begin om gereeld tyd met Jesus te spandeer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *