WAAROM STILTETYD IN DIE OGGEND DIE BESTE WERK

Ek weet nie van jou nie, maar as ek nie eerste ding in die oggend tyd saam met die Here deurbring nie, voel dit sommer asof my dag skeef begin.

Daar is iets besonders aan die vroeë oggend. Dis stil, rustig, en dit voel asof daar nog ‘n sagte heiligheid oor die wêreld hang. Dis die perfekte tyd om met die Here te praat, om jou hart op Hom te fokus, en om jou dag in Sy hande te lê.

So, kom ons gesels oor vyf redes waarom ek glo vroegoggend werk eenvoudig die beste vir stiltetyd.

Waarom stiltetyd in die oggend die beste werk

Nie almal van ons is oggendmense nie. Dit beteken aandmense gaan dalk eerder in die aand tyd met die Here wil spandeer. Maar as jy dít al probeer het, het jy seker ook al agtergekom dit werk nie altyd so lekker nie.

Na werk is jy moeg. Jy wil ontspan en net rustig wees. Daar kan ook allerhande ander verpligtinge wees wat skielik opduik, wat veroorsaak dat jou tyd in die aand nie regtig jou eie is nie.

Maar jou tyd in die oggend is tyd waaroor jy meer beheer het. Veral as jy besluit dat jy voor die res van die gesin gaan opstaan sodat jy in rus en stilte tyd met die Here kan spandeer. Die kans dat jou foon dan gaan lui en iemand wat nie deel is van jou huisgesin nie, jou aandag gaan nodig hê, is ook skraal.

Vroegoggend is ook die ideale tyd om ‘n spesifieke hoeveelheid tyd saam met die Here te spandeer, juis omdat jy meer beheer oor jou tyd het.

Jy kan byvoorbeeld vooraf besluit jy gaan 15 minute, ‘n halfuur, of dalk selfs ‘n uur by die Here se voete sit en tyd met Hom spandeer. En al wat jy dan doen is om vroeër op te staan, sodat jy daardie tyd het om by die Here stil te word voor jy met jou dag begin.

Dít gaan verseker dat jy kwaliteit tyd met die Here spandeer, sonder dat jy gejaagd voel. Dit gaan jou die kans gee om jou hart voor die Here oop te maak en dit gaan Hóm die geleentheid gee om Sy wonderlike woorde in jou lewe in te spreek.

Die Here het ons so wonderlik geskep! Wanneer ‘n mens slaap, verwerk jou brein al die inligting en gebeurtenisse van die vorige dag. Dit beteken jou verstand is op sy helderste eerste ding in die oggend. Jy kan dus beter konsentreer en fokus, omdat jy nie nog besig is om oor alles wat deur die dag gebeur het, te dink en dit te probeer verwerk nie.

Dan is daar ook twee beginsels waarvan ons in die Ou Testament lees, wat, as ons dit op ons stiltetyd van toepassing maak, ons lei om tyd met die Here in die oggend te spandeer.

Die eerste een is die opdrag dat die Israeliete hulle beste vir die Here moes offer. Ons lees daarvan op plekke soos Deuteronomium 17:1 en Numeri 18:29.

In die tweede plek is daar die idee van die eerste van die oes of die kudde. Dis die eerste van alles wat die Israeliete uit die hand van die Here ontvang het, wat hulle aan Hom geoffer het om dankie te sê vir wat Hy gegee het en nog gaan gee.

Jy kan, deur eerste ding in die oggend tyd met die Here te spandeer, Hom eer met die beste van jou tyd en met die eerste van dit wat jy elke dag doen. Jy doen dit nie om Sy guns daarmee te probeer koop nie, maar uit eerbied vir Hom en om Hom altyd eerste te stel.

‘n Mens se oggend is dus nie net die eerste deel van jou dag wat jy vir die Here kan gee nie, maar dis ook die tyd waar jou verstand die helderste is en jy die beste kan dink en kan fokus.

Om vroegoggend tyd met die Here te spandeer is ook ‘n kragtige manier om jouself voor te berei vir die dag wat voorlê. Dis dan wanneer jy by Hom hoor hoe Hy wil hê jy jou lewe daardie dag moet leef en waar jy Hom vra om jou daarmee te help.

Dis in jou tyd saam met Hom waar jy kan nadink oor wat die dag inhou en waar jy moontlike probleme na Hom toe bring en Hom vra vir Sy leiding en bystand en hulp om dit tot Sy eer te hanteer.

Vroegoggend tyd met die Here gee jou ook die geleentheid om te bid vir diegene wat deur die dag jou pad gaan kruis. ‘n Mens weet nooit hoe Hy jou in hulle lewens wil gebruik nie, maar jy kan Hom vra om jou en hulle voor te berei vir wat Hy wil doen.

In Kolossense 1:9-12 lees ons Paulus bid vir die gelowiges in Kolosse dat hulle tot eer van die Here sal leef deur net te doen wat Hy verlang. Die uiteinde daarvan is dat hulle vrug dra deur goeie werke te doen. Dié goeie werke veroorsaak weer die vrug van vreugde en dankbaarheid.

Wanneer jy vroegoggend tyd met die Here spandeer, kry jy die geleentheid om jouself voor te berei om daardie dag tot Sy eer te leef. Jy gee Hom die geleentheid om jou voor te berei vir die goeie werke wat Hy wil hê jy moet doen. Jy gee Hom ook die geleentheid om in jou hart te werk sodat jy daardie dag, met Sy hulp, ‘n heilige lewe kan leef.

En wanneer jy een dag tot eer van die Here leef, moedig dit jou aan om die volgende dag ook so te leef. Om twee dae tot Sy eer te leef, dra by tot ‘n week waarin jy Hom met jou lewe geëer het. ‘n Week lei tot ‘n maand en ‘n maand tot ‘n jaar waarin jy elke dag tot die eer van die Here geleef het en Sy vreugde in jou lewe ervaar het omdat jy gedoen het wat vir Hom aanneemlik is.

Nog ‘n voordeel van tyd saam met God in die oggend is dat dit jou die geleentheid gee om dan in die aand saam met Hom oor jou dag na te dink.

As jy byvoorbeeld oor jou aktiwiteite van die dag gebid het, kan jy in die aand saam met God daarna kyk om te sien hoe goed jy elke taak afgehandel het. Jy kan saam met die Here bepaal of jy die probleme van die dag op ‘n goddelike manier hanteer het.

Jy kan ook terugkyk op hoe jy mense hanteer het en of jy dit tot die eer van die Here gedoen het. In kort, jy kan saam met die Here bepaal of jy jou dag tot Sy eer geleef het.

En dan kan jy die dag afsluit in gebed. Jy kan vir die Here dankie sê vir die genade wat Hy deur die dag aan jou bewys het. Jy kan vergifnis vra vir dié dinge wat jy verkeerd gedoen het. Op dié manier gaan jy met ‘n skoon gewete bed toe.

Jy kan bid vir ‘n goeie nagrus en jy kan bid dat die Here, terwyl jy slaap, jou hart sal voorberei vir dit wat Hy die volgende oggend in jou stiltetyd vir jou wil sê.

As jy jou dag saam met die Here begin, verander dit alles. Dis asof Hy jou help om met die regte oë na alles om jou te kyk. Hy help jou ook om reg te dink en reg te leef.

Vroegoggend tyd met die Here gee vir jou ‘n rustige hart. Dit laat jou dag beter verloop en veroorsaak selfs dat die moeilike dinge ligter voel, want jy het reeds by Sy voete gesit.

Ek sê nie dis altyd maklik om vroeg op te staan nie; ek weet self dis soms ‘n stryd! Maar ek kan eerlik sê, daar is niks wat so ‘n groot verskil in my dag maak soos daardie eerste oomblikke saam met Hom nie.

So, gee vir Hom jou eerste… en kyk hoe Hy die res van jou dag seën.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *