In die lewe van elke gelowige is daar tye wanneer ons weet dat ons die Here nodig het. Soms is dit in die stilte van die vroeë oggend, ander kere in die storms van die lewe. Om die Here te soek is nie iets wat ons net doen wanneer ons ‘n groot probleem het of nie weet wat om te doen nie. Dis iets wat deel moet wees van ons daaglikse lewe. Die Bybel nooi ons dan ook keer op keer uit om die Here te soek: “Soek die Here en sy krag, soek voortdurend sy teenwoordigheid op” (1 Kronieke 16:11, 2020-vertaling). Maar hoekom en wanneer soek ons Hom? Kom ons kyk na die verskillende maniere en tye wanneer ons die Here soek en wat Hy in daardie tye vir ons doen.

IN ONS STILTETYD.
In ons stiltetyd soek ons die Here se Teenwoordigheid op. Ons kom na Hom toe in die geloof dat Hy ons gaan ontmoet deur Sy Woord en in gebed. Ons lees dat Jesus gereeld vroeg opgestaan het om die Teenwoordigheid van die Vader te soek.
Dis in Sy Teenwoordigheid waar ons harte en lewens verander word en waar ons rus vind.
In Sy Teenwoordigheid kry ons vreugde en vrede.
Soms word ons aangespreek oor iets wat in ons lewens is wat nie van Hom is nie — en wanneer dit gebeur, kan ons verseker weet Hy vra ons om saam met Hom te werk om daarvan ontslae te raak.
WANNEER ONS SY VOORSIENING EN HULP NODIG HET.
Ons soek ook die Here wanneer ons Sy voorsiening en hulp nodig het. Dis die tye wanneer ons met vrymoedigheid na Sy troon van genade gaan en ons behoeftes voor Hom lê. Ons vra Hom om vir ons te voorsien. In Filippense 4:19 staan: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” Ons kan dus verseker weet dat, wanneer ons iets regtig nodig het, Hy dit sal voorsien.
Dis ook die tye wanneer ons enige ander probleem het wat ons nie self kan oplos nie, en ons na Hom toe kom en Hom vra om ons daarmee te help. Psalm 46:2 sê: “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.” Ook in hierdie geval kan ons weet die Here is daar om ons by te staan en ons te help.
WANNEER ONS WYSHEID EN LEIDING NODIG HET.
Soms weet ‘n mens sommer dadelik wat jy moet doen wanneer jy ‘n besluit moet neem. Ander kere is dit egter nie so maklik nie.
Dis dan wanneer ons die Here soek en Hom vra om vir ons wysheid te gee sodat ons weet wat ons moet doen.
Ons vra Hom om ons te lei sodat ons die regte pad volg — een wat deel is van Sy plan vir ons lewens.
Jakobus 1:5 verseker ons dat ons God se wysheid vrymoedig kan vra, en Hy sal dit gee sonder om te verwyt.
WANNEER ONS AAN HOM GEHOORSAAM IS.
Ek wed jou, jy het nie gedink gehoorsaamheid aan die Here is om Hom te soek nie! Maar dis waar.
Partykeer weet ons wat Sy opdrag in ‘n spesifieke situasie is, omdat Hy dit duidelik vir ons in die Bybel uitspel. Dan plaas ons Sy wil eerste en doen wat Hy vir ons gesê het om te doen. Dis om Sy wil te soek bo ons s’n.
Maar dit gebeur ook dat ons nie weet wat God se wil omtrent iets is nie, omdat daar nie ‘n duidelike opdrag in die Woord is nie. Dan is dit ons verantwoordelikheid om na Hom toe te gaan, Sy Teenwoordigheid te soek, en Hom te vra wat Sy wil is. En wanneer Hy antwoord, dan soek ons Sy wil bo ons eie en voer Sy opdrag uit.
UIT LIEFDE EN AANBIDDING.
Ons moenie net die Here soek wanneer ons iets nodig het nie. Soms soek ons Hom net omdat Hy goed is — omdat ons Hom liefhet en Sy Teenwoordigheid geniet.
Dis wanneer ons Hom loof en aanbid, selfs sonder om Hom vir iets te vra. Ons sê vir Hom dankie vir wie Hy is, en nie net vir wat Hy doen nie. Hierdie tipe soeke is ‘n uitdrukking van liefde — ‘n begeerte om net by Hom te wees.
SOEK HOM IN ALLES.
Om die Here te soek is nie beperk tot die noodsituasies of onsekerhede in die lewe nie. Dis ‘n lewenstyl — ‘n voortdurende reis van vertroue, oorgawe, liefde en geloof. Of jy Hom soek vir wysheid, rus, hulp of bloot omdat jy Hom liefhet, weet dit: God is altyd naby aan dié wat Hom met ‘n opregte hart soek.
“En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart” (Jeremia 29:13, OAV).
So, soek Hom — in alles, in elke seisoen. Hy wag op jou.
Wil jy graag leer hoe om die Here elke dag te soek? Laai gerus my gratis e-boek oor die VOLG-stiltetyd-metode af. Dis ‘n kort gids wat die stappe van die VOLG-metode verduidelik sodat jy met ‘n oop hart en gefokusde gedagtes jou tyd saam met die Here kan spandeer.