HOE OM DIE HERE TE SOEK

Het jy al gevoel dat jy heeltyd besig is, maar geestelik eintlik so ‘n bietie leeg is? Jou dag gaan verby in ‘n warrelwind van al die verantwoordelikhede wat jy in jou lewe het. Dan moet jy nog antwoord op WhatsApp-boodskappe, e-posse en sosiale media ook dophou. En aan die einde van die dag besef jy – jy het nie een keer stil geraak voor die Here nie.

Jy is nie alleen nie.

Ons leef in ‘n wêreld wat vol afleidings is – van ons fone wat heeltyd ‘piep’ tot al die bekommernisse en stres wat ons elke dag ervaar. Ons harte en gedagtes word só besig gehou dat die een ding wat ons die meeste nodig het – God se teenwoordigheid – dikwels agterweë bly. Maar die Bybel nooi ons uit om die Here te soek, want Hy is eintlik al wat ons regtig nodig het.

In hierdie artikel gaan ons ‘n bietjie gesels oor drie maniere waarop die Bybel ons leer om die Here te soek. Ons gaan ook kyk na hoe jy dit prakties in jou lewe kan toepas, selfs in die chaos van jou daaglikse lewe.

Soek die Here

Jeremia 29:13: “En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” (OAV)

Om die Here met jou hele hart te soek, beteken dat jy Hom bo alles stel – bo jou eie begeertes, besige skedule, en die aanhoudende geraas van die wêreld. Jy stel nie net in Hom belang wanneer jy ‘n probleem het nie, maar omdat jy Hom regtig wil ken. Jy wil graag in Sy Teenwoordigheid wees en Sy stem hoor en ‘n intieme verhouding met Hom bou.

Dink aan ‘n verhouding tussen twee mense wat mekaar regtig liefhet. Hulle wil tyd saam met mekaar spandeer. En hulle wil dit nie net doen wanneer hulle raad of hulp nodig het nie, maar ook om net in mekaar se teenwoordigheid te wees. So is dit ook met die Here. Ons verhouding met Hom groei wanneer ons Hom soek bloot omdat ons Hom liefhet.

Let wel: Om Hom met jou hele hart te soek, beteken ook om nie aan sonde vas te hou nie. Jesaja 55:6-7 sê: “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne.”

Ons almal struikel, maar ‘n hart wat die Here soek, is ook ‘n hart wat teen sonde stry. Dis ‘n hart wat ‘n diep begeerte het om rein en opreg voor die Here te leef.

LEES OOK: SPANDEER TYD MET GOD IN 2025

Spreuke 8:17b: “…en die wat my soek, sal my vind.” (OAV)

Ywer beteken om toegewyd te wees, om moeite te doen, om te wíl soek – al is jy moeg, al voel jy nie lus nie, al is daar tien ander dinge wat jou aandag wil opeis.

Praktiese wenk: Kies ‘n tyd waar jy elke dag, sonder dat jy gepla word, die Here kan soek. Dis ‘n goeie idee om vir jou ‘n spesiale hoekie in te rig – dalk n hoekie met ‘n kers, ‘n joernaal en jou Bybel. Laat dit ‘n plek wees waar jy daagliks doelbewus stil raak voor die Here.

Suksesvolle atlete oefen met ywer. Hulle doen dit daagliks, konsekwent, selfs wanneer hulle nie lus voel nie. Hulle weet dat resultate nie oornag kom nie. Net so moet ons dissipline aan die dag lê om die Here te soek. Ons doen dit nie om Sy liefde te verdien nie, maar om Hom beter te leer ken.

LEES OOK: LUKAS 10: WAT IS DIE EEN DING WAARVAN JESUS PRAAT?

Hebreërs 11:6: “…Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”

Wanneer ons na die Here toe kom, moet ons dit altyd in geloof doen. Ons moet altyd glo dat Hy is wie Hy sê Hy is en dat Hy sal doen wat Hy gesê het Hy sal doen.

Romeine 8:28 herinner ons dat alles ten goede meewerk vir dié wat God liefhet. Selfs wanneer jy deur moeilike tye gaan, kan jy Hom nog steeds soek in geloof, met die wete dat Hy besig is om iets goeds uit jou situasie te bring.

LEES OOK: WAT OM TE DOEN TERWYL JY OP GOD WAG

Dink aan ‘n myner wat besig is om vir goud te myn. Hy grawe en sif vir ure, dalk dae, sonder om iets te sien. Maar hy hou aan, omdat hy glo die goud is daar. So is dit ook met Here. Jy sal Hom vind, jy moet net aanhou soek, aanhou glo, aanhou vertrou.

Om die Here te soek, is nie iets wat jy maar net eenkeer in jou lewe doen nie. Dis ‘n lewenslange reis van groei, ontdekking en geloof. Dit vra toewyding van ‘n mens, maar ons het die Here se belofte dat dié wat Hom soek, Hom sal vind.

Mag jy Hom dus elke dag met oorgawe soek en vind. En mag Sy teenwoordigheid jou lewe vul met vrede en die sekerheid dat Hy jou liefhet.

Wat is die dinge in my lewe wat my aandag die meeste aftrek?

Hoe kan ek prakties begin om die Here eerste in my dag te plaas?

Is daar sonde in my lewe wat ek aan bly vashou, eerder as om daarteen te stry?

Wanneer laas het ek die Here net gesoek omdat ek Hom liefhet – nie omdat ek iets van Hom wou hê nie?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *