WAAROM JY DIE HERE KAN VERTROU OM VIR JOU TE SORG

‘n Paar weke gelede begin ek my oggendtyd met die Here deur vir Hom dankie te sê vir die voëls wat ek buite hoor sing. In die winter hoor ek hulle nie daardie tyd van die oggend nie, want dan is dit nog donker. Maar nou, in die somer, sing hulle uit volle bors om die Here te eer en die dag te verwelkom.

‘n Paar minute later bid ek oor finansiële behoeftes wat hierdie bediening het en ek kla eintlik so ‘n bietjie by die Here omdat Hy na my sin te stadig voorsien. (Het jy ook al by Hom gekla omdat Hy nie jou gebede so vinnig antwoord soos jy wil hê nie?)

Terwyl ek nog besig is om te kla, onderbreek Hy my en herinner my aan die voëltjies waarvoor ek nou net dankie gesê het. Hy herinner my aan Sy woorde in Mattheus 6, waar Hy vir ons sê om ons nie te bekommer oor wat ons gaan eet of drink of aantrek nie. In plaas daarvan dat ons ons bekommer, moet ons al daardie bekommernisse op Hom plaas en Hom vertrou om te voorsien wat ons nodig het.

En in skaamte moet ek erken dat my klagtes eintlik ongegrond is. Nog nooit het die Here my in die steek gelaat nie. Nog nooit het ek iets regtig nodig gehad, wat Hy nie voorsien het nie. Hy het selfs dinge voorsien wat ek nie regtig nodig gehad het nie, maar sommer net graag wou hê! Ek moes dus my ongeduld en my gebrek aan vertroue bely en die Here vra om my te help om Hom te bly vertrou en geduldig te bly wanneer dinge langer vat as wat ek wil hê.

Maar dit het my laat dink aan die feit dat ons Hom altyd kan vertrou om vir ons te sorg. Ja, soms gaan dit dalk langer vat as wat ons gehoop het, maar Hy voorsien altyd en Hy voorsien ook altyd op presies die regte tyd.

So, kom ons gesels ‘n bietjie oor vyf redes waarom ons die Here kan vertrou om vir ons te sorg.

Waarom jy God kan vertrou om te sorg

Daar is baie dinge wat ‘n mens oor die Here kan sê, maar as daar een ding is wat jy vandag in gedagte moet hou, dan is dit dat Hy nooit verander nie. Dit wat Hy in Sy Woord belowe het om te doen, sal Hy doen. Dit maak nie saak of jy daardie belofte vandag lees of eers oor dertig jaar van nou af nie. God se beloftes staan vas en Hy kom hulle altyd na.

Kyk maar wat staan in Numeri 23:19: “God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?”

Joshua 21:45 bevestig dat die Here Sy beloftes nakom: “Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom.”

Ons kan dus altyd rus in die wete dat die Here getrou is, dat Hy elke belofte wat Hy teenoor ons gemaak het, nakom.

As mens dink aan die verhouding wat ‘n aardse pa met sy kinders het, dan sal jy met my saamstem dat ‘n goeie pa vir sy kinders sorg. Hy maak seker hulle het ‘n huis om in te bly. Hy maak seker hulle het kos, klere, speelgoed, alles wat hulle nodig het vir skool, ensovoorts. ‘n Goeie pa sal soms selfs sover gaan om homself te kort te doen sodat hy vir sy kinders kan gee wat hulle nodig het.

Die Bybel leer ons dat God ons Vader en ons Sy kinders is. Die Bybel sê ook dat, as ons weet om goed te wees vir ons kinders, hoeveel te meer sal die Hemelse Vader nie goed wees vir Sý kinders nie? (Mattheus 7:11)

Ek en jy kan dus die Here vertrou om vir ons te sorg omdat Hy ons Vader is. En Hy is ‘n beter Vader as wat enige aardse pa ooit kan droom om te wees. Wanneer ons soms onseker voel oor die toekoms, kan ons onsself daaraan herinner dat ons ‘n goeie Vader het wat vir ons omgee.

In die verhaal van die Israeliete se trek deur die woestyn, lees ons dat hulle begin wens het hulle het liewer in Egipte gebly (Eksodus 16). Hulle het so ‘n bietjie vergeet hulle was slawe, wat swaar gekry het, en het vir Moses gaan vertel van die vleispotte van Egipte, waarby hulle dan nou glo voorheen gesit het. God hoor hulle gekla en sê vir Moses dat Hy elke môre vir hulle manna uit die hemel sal laat reën. Al wat hulle moes doen, was om elke dag vroegoggend uit te gaan om dit wat God voorsien het, op te tel.

Maar God waarsku ook dat hulle nie van die vorige dag se manna moes oorhou nie. Nee, hulle moes elke dag gaan en dit wat nodig was vir daardie dag, optel. Hiermee wou die Here hulle leer om Hom te vertrou om elke dag te voorsien wat hulle vir die dag nodig het. Hulle moes leer dat God vandag weer sal doen wat Hy gister gedoen het.

Dis iets wat ek en jy ook moet leer. Ons moet leer dat daar min dinge is wat God net een keer doen en nooit weer nie. Hy sal byvoorbeeld nie net een keer vir jou voorsien wat jy nodig het en nooit weer nie. Nee, dit wat Hy in die verlede gedoen het, sal Hy vandag en ook in die toekoms weer doen.

Ek is seker jy kan getuig van tye in die verlede waar die Here vir jou voorsien het. Maak ‘n punt daarvan om hierdie dinge neer te skryf, sodat jy dit kan onthou. (Dis waarom dit ‘n goeie idee is om jou gebedsversoeke en die antwoorde daarop neer te skryf!) Lees gereeld deur dit wat jy neergeskryf het, veral wanneer jy begin twyfel dat die Here hierdie keer gaan voorsien. Onthou, Sy beloftes is nie ‘once off’ beloftes, waar Hy hulle een keer nakom en nooit weer nie. Dit wat Hy voorheen vir jou gedoen het, sal Hy weer doen. Jy moet Hom net vertrou.

As daar een ding omtrent die Here is wat my nog altyd baie gemoedsrus gee, dan is dit die feit dat Hy alles weet. Dit beteken ek kan niks vir Hom wegsteek nie – ook nie my sonde nie – want Hy weet reeds. Dit beteken wanneer ek nie weet wat om te doen nie, dan weet Hy. Hy weet wat ek dink nog voor ek dit gedink het, wat ek sê nog voor ek dit gesê het, wat ek voel nog voor ek dit gevoel het. Hy weet ook wat ek nodig het nog voor ék weet ek het dit nodig. En die beste van alles? Hy weet beter as ek wat ek nodig het!

Jesus herinner ons aan hierdie waarheid in Mattheus 6:8: “…julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.” Jy sien, ek en jy hoef nie bang te wees dat die Here onbewus is van wat in ons lewens aangaan nie. Ons hoef nie bang te wees dat Hy so besig is om na iemand anders om te sien dat Hy van ons gaan vergeet nie. Hy weet presies wat in jou lewe aangaan. Hy weet presies wat jy nodig het en wanneer jy dit nodig het. En Hy weet béter wat jy nodig het as wat jyself weet. Jy kan dus altyd met die vrede leef dat Hy reeds weet en ook beter weet.

Ek het die beste rede waarom ons die Here kan vertrou om vir ons te sorg, gelos vir laaste. In Genesis 3 lees ons van die dag toe die vyand vir Eva ‘n rat voor die oë gedraai het, en sy en Adam gekies het om teen God te sondig. Hierdie keuse het gevolge gehad wat hulle nie in hulle wildste drome eers oor sou dink nie. Daarmee het hulle die kosbare en intieme verhouding wat hulle met God gehad het, verbreek. Dit het ook veroorsaak dat alle mense wat ná hulle sou kom, ook nie ‘n verhouding met God sou kon hê nie.

Maar God los dit nie daar nie. In Sy groot genade stuur die Vader Sy eniggebore Seun om die prys vir ons sonde te betaal, sodat ons weer in ‘n intieme verhouding met Hom kan staan. Hy voorsien dus in ons grootste behoefte deur ons Verlosser, Jesus Christus. En as Hy bereid was om dít te doen, waarom dink ons dat Hy nie al die ander dinge wat ons nodig het, ook vir ons sal gee nie? (Romeine 8:32)

Die Here het Sy sorg vir ons aan die kruis gewaarborg het. Dis die grootste bewys van Sy liefde. So, wanneer die lewe onseker voel, kan ons seker wees daarvan dat die Here nooit verander nie. Ons kan rus in die wete dat die Een wat vir die voëls sorg, ook vir ons sal sorg. En ons kan ons harte stil laat word in die waarheid dat ons Hom kan vertrou, want Hy sal voorsien!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *