Jy het seker al gehoor dat gebed ‘n gesprek met die Here is. Dis iets wat Christene nogal dikwels sê. En dit klink eenvoudig… totdat jy tyd met die Here spandeer en wonder of jy dit reg doen. Want wat beteken dit nou eintlik – ‘n gesprek met die Here? En hoe voer ‘n mens so ‘n gesprek?
Wanneer jy met iemand anders gesels, hoor jy die persoon se stem, jy sien sy gesigsuitdrukkings, en voel deel van ‘n interaksie. Maar met die Here is dit anders. Sy stem is nie hoorbaar op dieselfde manier nie. So, hoe hoor ons Hom? En hoe weet ons wanneer ons werklik in gesprek is met Hom?
Die antwoord is eenvoudiger as wat jy dalk dink.

DIE ROETINE VAN ‘N GESPREK.
Dink so ‘n bietjie aan hoe jou stiltetyd lyk. As jy soos ek is, begin jy waarskynlik met gebed. Jy vra die Here om met jou te praat en jou hart ontvanklik te maak vir dit wat Hy vir jou sê en vir jou wys.
Dan lees jy jou Bybel en dink na oor wat jy lees.
En daarna bid jy weer. Dalk om dankie te sê of om te vra vir wysheid of leiding. Dit kan ook wees dat die Here jou iets gewys het wat jy in jou gebedstyd bely. Of jy praat sommer net eerlik met die Here oor wat in jou hart aangaan.
Daardie roetine is jou gesprek met God!
Jy praat met Hom wanneer jy bid. Hy praat met jou deur Sy Woord. En die Gees werk in jou hart terwyl jy nadink oor dit wat jy gelees het. Daarna reageer jy weer in gebed – en só gaan die gesprek heen en weer. Dis ‘n wonderlike, heilige tweegesprek tussen jou en jou Vader.
GOD SE STEM IN SY WOORD.
Die Here het gekies om Homself aan ons bekend te maak deur die Bybel. Sy stem gaan nie altyd gepaard met donderslae of visioene nie. Meeste van die tyd is dit ‘n sagte, duidelike stem in die woorde van die Woord.
Wanneer jy die Bybel lees met ‘n soekende hart, hoor jy wat Hy vir jou sê. Sy Woord is lewend, en die Heilige Gees maak dit persoonlik en toepaslik in jou lewe.
HOU DIE GESPREK AAN DIE GANG.
Een praktiese manier om jou gesprek met die Here aan die gang te hou, is om kort-kort te stop terwyl jy lees.
As jy iets sien wat vir jou uitstaan – ‘n belofte, ‘n opdrag, ‘n waarheid – stop daar en praat met die Here daaroor. Dalk wil jy dankie sê. Of dalk wil jy Hom vra om jou te help om dit wat jy gelees het, beter te verstaan. Of dalk moet jy eerlik bely dat jy daardie spesifieke deel moeilik vind om te gehoorsaam. Só word die gesprek natuurlik, lewendig, en diep.
Jy kan selfs ‘n joernaal gebruik om jou gesprek neer te skryf – jou vrae, gedagtes, gebede. Dis ‘n wonderlike manier om jou verhouding met God diepte te gee.
MAAK TYD VIR DIE GESPREK.
Vandag wil ek jou aanmoedig: Maak elke dag tyd vir hierdie gesprek.
Moenie wag vir die perfekte oomblik of gevoel nie.
Gaan sit net.
Maak jou Bybel oop.
Bid.
Lees.
Dink na.
Bid weer.
Herhaal.
Dis in hierdie oomblikkke waar jou verhouding met die Here groei. Jy het nie indrukwekkende gebede of diep teologiese kennis daarvoor nodig nie.
Al wat jy nodig het, is die daaglikse, eenvoudige gesprekke met Hom.
So, sit aan Sy voete. Met jou Bybel oop. Met jou hart oop. Want dáár – net daar – begin die gesprek… en dit hou aan, dag ná dag.
dit gaan ek defnitief probeer.